As jy ’n kat in die sak gekoop het, is die groot vraag natuurlik of jy daardie tweedehandse ryding aan die verkoper kan terugbesorg in ruil vir jou geld. Die antwoord is ja én nee.

As jy die ryding by ’n geregistreerde motorhandelaar gekoop het, kan jy dit moontlik wel kragtens die Wet op Verbruikersbeskerming teruggee. Maar as jy dit by ’n privaat persoon gekoop het, geniet jy ongelukkig nie dieselfde wetlike beskerming nie.

Ons kyk hoe albei gevalle werk.

Motorhandelaar

Voorheen kon motorhandelaars ’n tweedehandse voertuig “voetstoots” aan jou verkoop: nes dit is, met foute en al.Sou die kar dan breek, het jy wetlik niks gehad waarop jy jou kon beroep nie.

Maar ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming mag motorhandelaars nie meer voertuie voetstoots verkoop nie.

Die wet vereis deesdae dat die handelaar alle foute waarvan hy redelikerwys behoort te weet aan die koper bekendmaak, sê Charl Marais, van JS Marais Ing. Prokureurs.

“Redelikerwys” beteken dit is probleme wat die handelaar, gegewe sy kennis, behoort te kan identifiseer – al sal ’n leek dit dalk miskyk.

Wenk
  • As jou ryding kort ná die aankoop probleme gee, moet jy dit liewer terugneem na die handelaar waar jy dit gekoop het, eerder as om dit na ’n werkwinkel te neem of self te probeer herstel.
  • As jy self aan die voertuig werk of laat werk en dit eers daarna na die handelaar neem, kan die handelaar maklik sê die kar was reg toe hy dit aan jou verkoop het; jou herstelwerk aan die voertuig het dit eintlik gebreek, waarsku die prokureur Charl Marais.
  • Dan is jou kans baie skraler om te bewys dat die voertuig aanvanklik defektief was.

Hy moet die koper ook ’n lys kan gee van wat hy ten opsigte van herversorging aan die voertuig gedoen het. Hy moet jou toelaat om die voertuig te inspekteer en ’n padtoets af te lê sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem.

Dit is belangrik om die verskil tussen slytasie en defekte te verstaan.

As die voertuig probleme gee, kan die koper dit binne ses maande terugbesorg, mits die redes wettig, redelik en bewysbaar is. Maar dit is aan voorwaardes onderhewig en geld vir defekte, nie vir gewone slytasie of nalatigheid nie.

Dit is belangrik om die verskil tussen slytasie en defekte te verstaan. Slytasie is byvoorbeeld bande wat afloop. ’n Rat wat skielik spring, is moontlik ’n defek. Die koper sal nie die voertuig weens klagtes oor slytasie kan teruggee nie.

Die terugbetaling sal nie noodwendig die volle koopbedrag wees nie.

Mense dink soms hulle kan ’n motor sommer net ná ses maande teruggee as hulle die kar verwaarloos het.

Die koper sal moet kan bewys dat die fout reeds aanwesig was toe die motor aan hom verkoop is.

Sou die motorhandelaar die voertuig terugneem, sal die terugbetaling nie noodwendig die volle koopbedrag wees nie. Geld kan afgetrek word vir onder meer slytasie terwyl jy met die motor gery het.

Wil die handelaar nie met jou skik nie en jy voel jy word ingeloop, kan jy hulp by die ombudsman vir die motorbedryf vra.

Die ombudsman is ’n onafhanklike beslegter in geskille tussen die motorbedryf en verbruikers. Dit is kosteloos vir verbruikers.

  • Gaan na die ombudsman se webtuiste vir klagtevorms om in te vul.

Privaatverkoper

Die Wet op Verbruikersbeskerming is net van toepassing op transaksies tussen ’n verbruiker en ’n verkoper wie se besigheid dit is om motors te verkoop.

As jy ’n tweedehandse voertuig by ’n privaat mens koop, kan die verkoper sê dis voetstoots.
As die voertuig ná die aankoop probleme gee, kan jy dit probeer teruggee, maar die privaat verkoper sal moontlik nie hiertoe instem nie.

Jy as koper sal dan regsbystand moet kry. Die prokureurskoste sal uit jou eie sak kom. Jy sal die hof moet oortuig dat die verkoper bewus was of redelikerwys bewus moes wees van die defek en dit doelbewus verberg het in ’n poging om jou te bedrieg.

Die beste raad is om ’n onafhanklike werktuigkundige te vra om die motor na te gaan vir enige foute voor jy dit privaat koop.

Jy sal die werktuigkundige uit jou eie sak moet betaal, maar dit kan jou moontlik groot toekomstige uitgawes en hoofbrekens bespaar.

9,4%

Dit is die styging in die verkope van gebruikte motors in April vanjaar teenoor dieselfde maand verlede jaar.

Bron: Statistieke Suid-Afrika, Motorhandelverkope April 2018

Kontak ons

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.

Kry hier nog raad