Ons het Renette Odendaal, van die prokureursfirma Marais ­Lamprecht, gevra hoe onderhoud bepaal word en hoe dit werk. Hier is 7 dinge wat jy moet weet.

1. Wie moet onderhoud betaal?

Volgens wet is albei biologiese ouers, of die wettige voogde, vir die geldelike versorging van kinders verantwoordelik.

Die plig geld ook vir ongetroude ouers, of as die kind uit ’n vorige huwelik gebore of dalk aangeneem is.

Kinders wat by een biologiese ouer bly, is steeds geregtig op ­onderhoudbetaling van die ander ouer.

As die biologiese ouers of wettige voogde nie kan betaal nie, kan onderhoud van die biologiese grootouers of ander nabye familie geëis word.

Stiefouers is nie wetlik aanspreeklik nie.

2. Hoe word die bedrag bepaal?

Elke kind se behoeftes verskil.

Eerstens word bereken hoeveel onderhoudgeld elke kind maandeliks benodig om hul spesifieke kostes te dek. Die basiese behoeftes is behoorlike skoolopvoeding, huisvesting, kos, klere en mediese sorg.

Die finansiële posisie, lewen­standaard en sosiale status van die ouers en kind word ook in ag geneem. Dit beteken basies dat kinders se lewenstandaard ongeveer dieselfde moet bly, selfs al is hul ouers geskei.

Tweedens word elke ouer se spesifieke verantwoordelikhede teenoor die kind bepaal. Die ouer met die grootste salaris sal gewoonlik meer bydra as die ouer wat minder verdien.

3. Hoe word daar betaal? En hoe ­gereeld?

Onderhoudgeld moet maandeliks betaal word op die datum wat albei partye ooreengekom het en deur die hof bekragtig is.

Jy kan kontant aan die ander persoon gee, maar maak dan seker jy kry ’n skriftelike en getekende kwitansie as bewys van betaling.

Die beste is om dit in die persoon se bankrekening in te betaal sodat daar ’n deeglike rekord van die betaling is.

Jy kan dit ook by jou plaaslike landdroskantoor inbetaal.

4. Tot wanneer word onderhoud betaal?

Jy moet betaal tot die kind 18 jaar oud is – of selfs langer as die betrokke kind om watter rede ook al nie selfonderhoudend is nie.

Die ouers kan ook deur ’n ouer­skapsplan of skikking ooreenkom dat hulle sal betaal tot byvoorbeeld ná die kind se universiteit­studies afgehandel is.

’n Kind wat volwasse is, maar nie selfonderhoudend nie, kan self die hof nader vir ’n onderhouds­bevel indien daar nie reeds ’n reëling vir hom getref is nie. Die hof sal dan besluit of daardie kind op ’n bydrae tot onderhoud geregtig is.

5. Wat gebeur as een van die partye nie betaal nie?

As een van die ouers ’n hofbevel oor onderhoud verontagsaam, kan die ander ouer ’n klag van minagtig van die hof indien, en die hof vra om te beveel dat die agterstallige geld betaal word.

Betaalrekords kan ingedien word as bewys van hoeveel geld verskuldig is.

Die hof kan beveel dat die wanbetaler se werkgewer die uitstaande geld van sy salaris aftrek; dat geld uit beleggingsrekeninge geneem word; dat eiendom opgeveil word; of selfs dat die wanbetaler in hegtenis geneem word.

As die niebetalende ouer nie bereik kan word nie, kan die hof ’n selfoondiensverskaffer beveel om die kontakbesonderhede aan die hof te gee.

6. Kan die onderhoudbedrag aangepas word?

Ja, ’n ouer kan aansoek doen by die hof om die verhoging of verlaging van die bedrae wanneer daar ’n ­verandering in enige van die partye se finan­siële omstandighede is.

Die hof kan ook genader word om te bepaal of die kind intussen selfonderhoudend geword het. As laasgenoemde wel die geval is, kan die oorspronklike onderhoudbevel opgeskort word.

7. Wat gebeur as een van die partye nie meer kán betaal nie?

As ’n ouer geensins daartoe in staat is om ’n bydrae tot ’n kind se onderhoud te maak nie, kan ’n aansoek vir onderhoud gebring word teen die grootouers van die kind of kinders.

Die hof sal dan in daardie aansoek die grootouers se finan­siële posisie en hul vermoë om te betaal oorweeg.

As een van die partye sterf, moet die geld vir toekomstige onderhoud uit die oorledene se ­boedel betaal word.

Kom neem deel aan die gesprek