Dink net: geen spertye meer vir jou by die werk nie en eindelose dae van doen net waarvoor jy ook al lus voel.

G’n wonder aftrede klink na 'n opwindende nuwe hoofstuk nie.

Tog kan dit 'n vrees­aanjaende vooruitsig wees vir diegene wat geen idee het hoe hulle hul dae gaan vul ná 'n jare lange werkroetine nie. In hul binneste knaag dalk ook die kommer dat hul pensioengeld te min sal wees om hul maandelikse uitgawes te dek.

Toe Anthony Thomas in 1996 ná 'n loopbaan van dekades as geoloog op 54-jarige ouderdom aftree, het hy en sy vrou, Enolla (nou 76), geweet hy sou iets moes kry om hom mee besig te hou, anders sou verveling hom tot raserny dryf.

Nadat hy met vriende gesels het, het hy 'n blink gedagte gekry.

“Hy het met mense in die aftreeoord langs ons gepraat, en hulle wou graag met vakansie gaan – kort vakansies, iets wat bejaardes kon bekostig,” vertel Enolla van Benoni aan die Oos-Rand.

Enolla Thomas en haar seun, Glen. Ná haar man se d
Enolla Thomas en haar seun, Glen. Ná haar man se dood het ma en seun hul firma oorgeneem. Foto: Fani Mahuntsi

Uit dié gesprekke is hul onderneming, G.O.C. Leisure Personalised Tours, ge­bore. Hulle reël safari’s vir pensioen­trekkers. En vandag, 23 jaar later, is dit steeds volstoom aan die gang.

Om die bal – of eintlik die wiele – aan die rol te kry, het die egpaar destyds albei hul motors verkoop en 'n kombi aangeskaf. Daarmee het hulle hul kliënte op toere in Suider-Afrika geneem.

In die eerste twee jaar het Enolla, wat toe in haar vroeë 50’s was, nog voltyds as 'n persoonlike assistent gewerk. “Ons moes die onderneming op dreef kry voor ek kon aftree,” vertel sy.

Omdat hul firma 'n nis­mark bedien, het hul kliënte ná die 76-jarige Anthony se dood in Augustus verlede jaar gesoebat dat Enolla en hul seun, Glen (49), daarmee voortgaan.

Dit wat begin het as 'n manier om besig te bly, het in 'n suksesvolle onderneming met 'n blink toekoms ontwikkel.

Verhale soos dié van Anthony en Enolla wys die einde van jou loopbaan hoef nie noodwendig die einde van jou werklewe te beteken nie; trouens, dit kan die begin van ’n stimulerende nuwe werkavontuur wees.

Maar hoe ondersoek ’n mens die moontlikhede as jy lus is om in dié fase van jou lewe weer te begin werk, en hoe besluit jy watter uitdaging jy suksesvol kan takel?Ons het by kundiges gaan aanklop. 

Hoe kies jy die regte rigting?

Geen towerformule bestaan om met 'n goeie en winsgewende sake-idee vorendag te kom nie, sê Koos Nel van Old Mutual Personal Finance. “Jou beste manier om die regte onder­neming te kies is om te sorg dat dit iets is waarvoor jy die vaardighede of aanleg het."

Begin deur op jou sterk punte en eie kundigheid te fokus, is sy raad.

“Die goeie nuus is dat jy uit 'n leef­tyd se ervaring, vaardighede of kennis kan put. Oorweeg dit om jou kundigheid in te span om 'n afrigter, mentor, fasiliteerder, tutor of konsultant te word of jou stokperdjie in ’n diens te omskep wat jy aan gemeen­skappe kan bied.

Nie elke sake-idee hoef 'n nuwigheid te wees nie, sê Koos.

"Die goeie nuus is dat jy uit ’n leef­tyd se ervaring, vaardighede of kennis kan put"

“Jy kan byvoorbeeld 'n bestaande produk of diens neem en jou eie weergawe daarvan teen 'n laer prys of op 'n ander plek aanbied of geringe aanpassings aanbring wat jou produk laat uitstaan.”

As jy iets kan doen wat jy geniet en waarmee jy 'n verskil kan maak, sal jy wel geldelik daarvoor beloon word, sê Lynda Smith, 'n aftredelewensafrigter en stigter van 50 Plus-­Skills, 'n aanlyn netwerk oor die vaardighede wat mense ouer as 50 aan hul gemeenskap bied.

“Tydens berading vra ek dié vrae: Waarvan hou jy? Waarmee is jy goed? Waarvoor kan jy betaal word? En: Wat het die wêreld nodig?” vertel sy. “Dit help mense ’n unieke plek vind waar hulle met iets kan begin.’’

Skei jou onderneming van jou eie geldsake

Moenie in die strik trap om jou aftreekapitaal in 'n eie onderneming te belê nie. Koos sê dis 'n algemene fout wat mense maak, en as jy die geld kwyt is wat jy daar ingeploeg het, kan jy dit die res van jou lewe berou.

“Jou sake-idee moet sterk genoeg wees om op sy eie bene te staan,” sê hy.

“Struktureer dit behoorlik sodat dit nie jou persoonlike boedel en finansiële plan sal raak nie. As jy beginkapitaal nodig het, klop by finansiële instellings aan of kry beleggers of vennote om daarin te belê.’’

Al is dit goed om positief te dink wanneer jy met 'n onderneming begin, moet jy ook besef daar is geen waarborge nie en dat dit kan misluk, sê Kim Potgieter, 'n kundige oor af­trede en finansiële beplanning en mede­skrywer van die boek Retirement: Get More Meaning from Your Money.

“Die goue reël is om nie jou aftreespaargeld te gebruik om 'n onder­neming te open of met 'n nuwe sake­projek te begin nie.”

As jou firma misluk en jy het die neseier vir jou aftrede daarin belê, sal jy nie genoeg tyd hê om vir die verlies te vergoed en 'n gemaklike aftrede te verseker nie, maan sy.

Dis daarom baie belangrik om uit die staanspoor jou finansiële raadgewer se hulp in te roep, sê Koos. 

Jy moet die implikasies van 'n nuwe sakeprojek verstaan en sorg dat jy in dié kwesbare lewensfase in beheer bly.

Jy het ook die gemoedsrus nodig dat jou afhanklikes versorg sal wees as iets onvoorsiens sou gebeur, en dat jou sakeverantwoordelikhede en aanspreeklik­hede nagekom kan word sonder om jou gesin se finansiële welstand in gevaar te stel. 

Kyk vorentoe en bly by

Koos sê dit is belangrik om op die hoogte te bly van gebeure in Suid-­Afrika en die wêreld sodat jy met ekonomiese en tegnologiese ont­wikkelings kan tred hou en sorg dat jou onderneming relevant bly.

“Hersien voortdurend jou sakestrategie, en evalueer die faktore wat die mark kan beïnvloed en jou onder­neming raak, en pas daarvolgens aan. Of anders kan jy ontdek dat jy met ’n verouderde of uitgediende onderneming sit,” waarsku hy.

Moenie huiwer om nuwe vaardighede aan te leer nie, al is jy nie tegnoslim nie.

“Tegnologie kan 'n uitdaging wees, maar kry iemand wat jou kan lei­ding gee en by wie jy kan leer,’’ beveel Lyn­da aan. “Ek glo minstens 50% van die geleenthede is vandag in die kuberruim; daarvoor is aanlyn vaardighede nodig. Dit kan aangeleer word,” beklemtoon sy.

Aanlyn platforms kan jou ook jou nuwe onderneming help vestig en bemark. Moenie bekommerd wees as jy niks oor die bestuur van 'n webtuiste weet nie – begin deur sosialemediabladsye vir jou onderneming te open.

“Al is 'n webtuiste belangrik vir jou geloofwaardigheid, is LinkedIn, Facebook, You­Tube en Instagram wonderlike middels om te gebruik,” sê Kim.

Gee tyd om jou nuwe onderneming te vestig, maar maak ook voortdurend seker of dit werk. Dit kan dalk die begin wees van 'n nuwe hoofstuk in 'n nuwe boek vol nuwe werkmoontlikhede. 

Wenke vir jou beplanning
  • Dink vooruit: As jy beplan, gedy jy, sê die finansiële beplanner Kim Potgieter. Wy tyd aan dink­skrums. Moenie met net een moontlike sake-idee vorendag kom nie – dink ’n dosyn of meer uit en kies dan die een wat vir jou reg is.
  • Kry hulp: Moenie oorweldig voel deur die dinge wat jy nie weet nie, sê die lewensafrigter Lynda Smith. Soek liewer iemand wat jou kan help. Deur by kundiges te leer kan jy die gapings vul en sukses verseker.
  • Wees realisties: Jy moet heelwat faktore oorweeg voor jy besluit om met 'n nuwe onder­neming te begin: hoeveel tyd jy daaraan wil bestee, hoe en waar die werk gedoen moet word, hoe groot die uitdaging en die verantwoordelikhede is waarvoor jy kans sien en die kompleksiteit van jou mark, om 'n paar te noem. Wees realisties oor die opsies wat jy het en waartoe jy jou kan verbind.
  • Geniet dit: Moenie net swoeg en vergeet om ook te ontspan nie. Vir ’n vervullende aftrede is dit baie belangrik dat jy ’n balans handhaaf en tyd inruim vir al die terreine van die lewe wat jy dalk voorheen afgeskeep het, sê Kim.


Huisgenoot Aftrede is propvol raad oor hoe om jou
Huisgenoot Aftrede is propvol raad oor hoe om jou geldsake te bestuur, fiks en gesond te bly en gesonde verhoudings te handhaaf.

Kry nou jou eksemplaar

Put inspirasie en neem beheer van jou aftrede.

Huisgenoot Aftrede is propvol raad oor hoe om jou geldsake te bestuur, fiks en gesond te bly en gesonde verhoudings te handhaaf. Plus: Hope raaisels en speletjies wat jou geheue help skerp hou.

Kry jou boek teen R49 in winkels of bestel dit by Johan Terblanche by 021-406-4962 of johan.terblanche@media24.com vir aflewering. Ekstra koste kan geld.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.