Afhangend van die aard van die bedrogspul, sal bedrieërs probeer om vertroulike inligting by jou te kry om vir iets soos identiteitsdiefstal te gebruik, of om jou te laat betaal vir dienste of voorraad.

Die eenvoudigste manier vir 'n werksoeker om seker te maak hulle word nie 'n slagoffer nie, is om 'n betroubare werksoek-webblad te gebruik.

Jou profiel en werksoekgeskiedenis word geheel en al vertroulik in die databasis van hierdie werksportale gestoor, wat beketeken dat jy jou werksoektogte op ’n diskrete manier kan uitvoer, sonder dat iemand van jou doen en late weet.

Hierdie werksoek-webtuistes is veiliger, want dit deel nie jou inligting nie en respekteer jou privaatheid.

Maar dit is nie altyd so maklik nie.

“Gewoonlik sal hierdie bedrogposte mense teiken vir wie 'n nuwe werk van kritieke belang is. Die advertensies gebruik die dringendheid van die situasie om mense in te trek met poste wat te goed is om waar te wees,” sê Shaun Clarke, bemarkingsbestuurder van die aanlyn werksoekportaal Careers24.

As jy werk soek en 'n advertensie lok jou na buite jou gewone werksoekportaal, is daar 'n paar goed wat jy kan doen om die betroubaarheid van die posadvertensie na te gaan.

Bestudeer die e-posadres van die kontakpersoon

Stem dit ooreen met die maatskappy se webblad-domein? Met ander woorde, eindig die webbladadres met dieselfde letters as die e-posadres, bv. ".com, ".co.za" of ".org". Indien dit nie ooreenstem nie, moet jy verder ondersoek instel voor jy aansoek doen.

Doen 'n aanlyn soektog na die vakature

Tik die naam van die pos of die posbeskrywing in Google in. As jy geen resultate kry nie, is die kans goed dat dit nie wettig is nie. Die meeste regte werkadvertensies het 'n aanlyn teenwoordigheid. 

Ander gevaartekens:

Die maatskappy wil jou huur sonder 'n onderhoud 

'n Vals onderhoud kan baie vinnig via sms of per e-pos gevoer word. Of hulle beweer dat hulle so beïndruk is met jou aansoek dat hulle nie eintlik met jou oor die werk hoef te praat nie (wat natuurlik beteken jy kan hulle nie uitvang nie!). 

Daar is 'n belofte van 'n groot salaris vir min of geen werk

Wees op jou hoede as die werk se beskrywing vaag is of so eenvoudig dat enigiemand dit kan doen. As 'n mens geen spesifieke vaardighede, ervaring of opleiding nodig het om die werk te doen nie, behoort jy ook versigtig te wees.

Swak taalgebruik en spelling in die beskrywing kan dikwels ook 'n waarskuwing wees dat iets nie reg is nie. 

Jy word versoek om kredietkaartbesonderhede, bankrekeningnommers en persoonlike inligting te verstrek

Dis 'n probleem as hulle, voordat jy met jou navorsing klaar is, vereis dat jy 'n ID-, bankrekening- of 'n kredietkaartnommer aan hulle stuur om jou "dadelik te kan betaal".

Sodra hulle private inligting van jou het, het hulle alles wat hulle nodig het vir 'n bedrogspul! Hulle kan geld van jou bankrekening aftrek, namens jou aansoek doen om 'n belastingterugbetaling (en dit ontvang!), en tientalle ander dinge wat die lewe vir jou baie moeilik kan maak.

Jy word gevra om jou CV te faks

Hierdie faksnommers is gewoonlik 'n premiumdiens wat die aansoeker baie hoë tariewe vra vir die versending van die nodige dokumentasie. Die aansoeker word dalk ook gevra om vir 'n uniform of 'n induksieprogram te betaal.

“In werklikheid moet enige versoek om betaling as deel van 'n werksaansoek, as bedrog beskou word,” sê Shaun. 

Ekstra bronne: thebalancecareers, job-hunt.org

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.