Die liefde is blind, lui die gesegde. En dis alte maklik om nie aan die dag van môre te dink wanneer jy deur jou hart meegesleur word nie.

Maar dink liewer mooi voor jy jou beursie so groot soos jou hart ­oopmaak en pa staan vir jou maat of ’n ander geliefde se finansiële dinge. Want as die liefde byvoorbeeld by die deur uitstap, bly jy dalk met ’n berg skuld agter waarvoor jy wetlik verantwoordelik is.

Hier is vyf maniere waarop jy vir jouself ongewenste skuld op die hals kan haal vir ’n geliefde – en hoe om dit te vermy.

Deur borg te staan

Dit is wanneer jou geliefde ’n persoonlike lening (byvoorbeeld ’n huis- of motorlening) aangaan en jy skriftelik instem om die borg te wees.

Dit beteken jy verbind jou daar­toe om die skuld te betaal as jou maat nie kan nie. Maar onthou – al gaan julle uitmekaar, is jy steeds verantwoordelik vir die skuld as hy of sy dit nie kan betaal nie.

In die fyn druk van sulke kon­trakte staan soms die krediteur kan regstreeks op jou as borg se bates beslag lê – sonder om die geld eers van die ander persoon te probeer verhaal. Maak dus seker jy verstaan die kontrak – ook enige Latynse frases.

Doen dit

  • Daar is nie ’n maklike pad uit ’n borgskap nie; net duur regsprosesse, sê Matthys Potgieter van Debtsafe.
  • Besluit liewer van meet af aan dat jy vir niemand borg staan nie.

Deur in gemeenskap van goed te trou

As jy in gemeenskap van goed getroud is, is jy en jou maat saam verantwoordelik vir enige skuld wat deur enigeen van julle aangegaan word.

En al skei julle, sal jy steeds verantwoordelik wees vir die skuld wat jou eks tydens die huwelik gemaak het, maar nie kan betaal nie.

In so ’n geval sal die skuldinvorderaar ’n hofbevel teen jou kry om die skuld te delg.

Doen dit

  • As jy buite gemeen­skap van goed trou, is jy nie outomaties vir jou maat se skuld verantwoordelik nie.
  • Selfs as julle buite gemeenskap van goed met die aanwasbedeling trou, behoort net die niebetaler vir skuld aanspreeklik te wees.
  • Hou dit in gedagte voor jy afhaak.

Deur aankope vir jou geliefde te doen

Dit is ’n probleem wat skuldraadgewers dikwels teëkom, sê Mat­thys. Dit gebeur byvoorbeeld as jy kredietkaartskuld maak om vir jou geliefde meubels, klere, elektroniese toebehore of wat ook al te koop.

As die liefde verdamp, gaan die skuld bly staan. En as jy nie die betalings byhou nie, gaan jy ’n slegte kredietrekord kry.

In alle gevalle sal julle albei verantwoordelik wees vir enige skuld aangegaan terwyl julle binne gemeenskap van goed getroud was.

Doen dit

  • Ingevolge sekere paaiementooreenkomste kan jy die koopooreenkoms skriftelik kanselleer.
  • Jy het die reg om goedere soos motors of meubels ­terug te gee as jy nie meer die betalings kan bekostig nie. Maar gee jy dit terug, is jou skuld nie noodwendig afgelos nie.
  • Die kredietverskaffer moet dan die goedere verkoop. As hy minder daarvoor kry as wat jy nog skuld, is jy verantwoordelik vir die uitstaande geld.

Deur skuld vir jou kind aan te gaan

Jy kan byvoorbeeld namens jou kind om ’n studielening aansoek doen.

Jy is dan die borg en betaal die rente en diensgeld terwyl die student opleiding ontvang. Wanneer die student sy studie voltooi, sal hy of sy minder skuld hê om te betaal.

Maar onthou, as die kind sy studie opskop, sal moontlik van jou verwag word om dadelik die rente en leningsbedrag terug te betaal. Die kind kan dit nie doen as hy nie werk het nie – en jy het immers borg geteken.

Doen dit

  • As julle vir ’n studielening aansoek doen, moet jy en jou kind uitvind presies hoe die terugbetalings gaan werk – waarvoor, hoeveel en wanneer.

Deur kontrakte vir ander aan te gaan

Jy kan byvoorbeeld selfoon- en gimkontrakte aangaan waar jy as die betaler aangedui word, maar jou verhoudingsmaat as die verbruiker.

Dis nie deur en deur skuld nie, maar as julle uitmekaargaan en jou eks betaal nie, kan jy daarvoor verantwoordelik gehou word.

Julle sal albei verantwoordelik wees vir skuld aangegaan terwyl julle binne gemeenskap van goed getroud was.

Doen dit

  • Kanselleer die kon­trak so gou jy kan. Maar onthou, sulke diensooreenkomste het ­gewoonlik streng kansellasie­fooie omdat dit vir ’n vasgestelde tydperk aangegaan is.
56%

 – Soveel paartjies wat getroud is of saamwoon, beplan hul geldsake saam.

R1,73 triljoen

 – Die uitstaande verbruikerskuld van Suid-Afrikaners aan die einde van September 2017.

Bronne: Old Mutual-spaar-en-beleggingsmonitor 2017 & Verbruikerskredietmarkverslag: September 2017
Wenke
  • As jy met ’n skuldlas sukkel, kan jy altyd ’n finansiële of skuldraad­gewer vra hoe jy die skuld doeltreffend kan delg.
  • Skuldraadgewers kan gratis skuldassesserings doen en aanbevelings doen. Hulle mag eers fooie vra wanneer iemand amptelik onder skuldhersiening is. 
  • Gaan na die Nasionale Kredietreguleerder (NCR) vir skuldwenke en inligting oor skuldraadgewers.
Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.