Met ’n belastingvrye spaarplan (TFSA) kan jou spaargeld belastingvry groei.

Belasting sal dus nie van jou spaargeld afgetrek word terwyl dit belê word nie en ook nie wanneer jy die geld of ’n gedeelte daarvan onttrek nie.

Kyk die kat goed uit die boom; hoë fooie kan ’n groot hap daaruit vat.

In ’n neutedop

Die maksimum bydrae tot ’n TFSA is tans R33 000 per belastingjaar (dit strek van 1 Maart tot einde Februarie die volgende jaar).

Die leeftydlimiet per persoon is R500 000. Dit beteken jy kan R33 000 per jaar en R500 000 in jou leeftyd in die plan belê sonder om belasting daarop te betaal wanneer jy dit laat uitbetaal.

As jy elke maand R2 750 bydra, sal dit jou net meer as 15 jaar neem om die perk van R500 000 in ’n leeftyd te bereik.

Die hele opbrengs, uit dividende, rente en kapitaalwins, op dié belegging word nie belas nie. Die besparing omdat jy van belasting kwytgeskeld is, kan aanvanklik klein wees, maar namate die waarde van jou belegging groei, kan dit ’n aansienlike bedrag word.

As jy byvoorbeeld R2 750 per maand in ’n TFSA belê pleks van in ’n soortgelyke maar belasbare beleggingsproduk, kan die belegging in die TFSA jou oor 16 jaar sowat R100 000 meer in die sak bring, word in syfers van Sanlam Investments beraam.*

* Bereken op ’n gebalanseerde portefeulje wat 10% per jaar verdien vir ’n belegger wat in die 39%-belastinggroep val.

Gulsige fooie

Fooie wat jy op ’n belegging betaal, kan mettertyd ’n reusehap daaruit neem. Maatskappye mag fooie hef vir die diens om jou geld te belê.

Die enigste fooi wat in ’n TFSA verbied word, is ’n prestasiefooi. Ander fooie soos bestuurs-, aanvangs- en administrasiefooie kan gehef word asook ’n fooi as jy geld sou onttrek.

Elke maatskappy besluit self watter fooie hulle hef en hoeveel dit beloop. Die grootte van die fooi is nie ’n aanduiding van ’n topbelegging nie.

Sommige maatskappye vra net ’n klein bestuursfooi.

Niki Giles van die Sygnia Groep sê die fooie wat jy op ’n TFSA betaal, moet onder 1% wees, anders word die hap uit jou belegging te groot.

Jy dink dalk nou ’n fooi van 2% is nie baie nie, maar hoe sal jy voel as jy besef jy het in ’n raps meer as 15 jaar byna R200 000 aan fooie betaal?

Die tabel wys hoe groter fooie die waarde van jou belegging kan laat krimp.

So kan fooie jou belegging wegvreet 

Bron: Sygnia Groep

Bron: Sygnia Groep

** Bereken op die aanname van ’n maandelikse bydrae van R2 750 oor 15,15 jaar, ’n 0%-toename in die bydraebedrag, ’n reële opbrengs van 5% en inflasie van 6%.

Fooie hoër as 1% is algemeen in die bedryf. Gestel jy betaal altesaam fooie van 1,5% op jou belegging. Soos die tabel wys, sal dit ná net meer as 15 jaar R148 038 beloop. Dit is 12,05% van jou belegging se waarde van R1,08 miljoen.

Hoe oefen jy die regte keuse uit?

As jy geld belê, moet die fooie duidelik wees.

Jy kan ’n finansiële raadgewer vra om jou die produkte en hul fooie te help vergelyk. Jy kan dit ook self op beleggingsmaatskappye se webtuistes nagaan. Hul beleggingsprodukte met die fooie daarby verskyn op hul fondsfeiteblaaie. Dit is nie moeilik om ’n TFSA te open nie.

Talle beleggingsmaatskappye laat jou toe om dit op hul webtuiste of deur ’n app te doen.

Jy kan ’n raadgewer se raad vra en dan self die rekening open.

Die belegging se groei

Die opbrengs (dis met hoeveel die geld groei wat jy bygedra het) op ’n TFSA sal soos met enige belegging afhang van die bateklasse waarin dit belê word.

Voorbeelde van bateklasse is kontant, aandele, eiendom en staatseffekte.

Dit is die beste om ’n spaarproduk te kies wat by jou spaardoelwitte pas.

As jy baie tyd het om te spaar, het jy waarskynlik ook tyd om die aandelemark se golwe (met sy hoogte- en laagtepunte) te ry; daarom sal jy dan meer geneig wees om in aandele te belê as in beleggings met ’n klein risiko soos kontant.

Finansiële raadgewers kan jou sê watter maatskappye se beleggingsprodukte op lang termyn ’n goeie opbrengs lewer en of dit by jou doelwitte pas.

Kry hier nog raad

Die Finansiële Beplanningsinstituut bied inligting oor geakkrediteerde raadgewers en ook die Suider-Afrikaanse Finansiële Tussengangervereniging

Kry algemene beleggingsinligting op die webtuiste van die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika.

Kontak ons

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com.

  • E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.