Digitale toestelle is so deel van ons lewe dat ons moeilik daarsonder kan klaarkom.

Maar moenie vergeet om die duur sporthorlosie wat jy as Kersgeskenk gekry het korrek te verseker nie; anders kan dit jou ’n aardige bedrag kos om dit te vervang as dit gesteel of beskadig word.

WAT JY MOET WEET

Jou huisinhoudversekering dek gewoonlik net besittings wat altyd in jou huis bly, byvoorbeeld jou TV. Dit dek egter nie dinge soos jou sporthorlosie of skootrekenaar nie; dit is dinge wat jy met jou saamneem uit die huis. Sulke items moet jy onder die allerisiko-afdeling van jou polis verseker.

Dis jou verantwoordelikheid om toe te sien dat dit wel gedoen word. ’n Makelaar kan jou daarmee help.  

SO WERK ALLERISIKO-DEKKING

Allerisiko-dekking kan gespesifiseer of ongespesifiseer wees.

Gespesifiseer

Die meeste versekeraars vereis dat toestelle soos selfone, skootrekenaars, tablette en GPS-toestelle onder jou allerisiko-dekking gespesifiseer word.

Spesifiseer beteken elke item en die waarde daarvan moet afsonderlik genoem word. Byvoorbeeld: horlosie R2 000; tablet R6 000. Elke item het dan sy eie maandelikse premie, byvoorbeeld: horlosie R10; tablet R15.

Die item se waarde is die grootste prysfaktor wat die premie bepaal, maar die polishouer se ouderdom (nie noodwendig die gebruiker s’n nie), risikoprofiel, permanente woonadres en eisgeskiedenis speel ook ’n rol. Gespesifiseerde items se dekking is gewoonlik wêreldwyd. As jy eis: Jy moet skootrekenaars, tablette en fone se reeks- en IMEI-nommers verskaf.

Ongespesifiseer

Dit bied dekking vir ’n verskeidenheid items, byvoorbeeld klere plus jou sonbril, vir ’n totale bedrag van sê maar R20 000. Die waarde van elke item word nie afsonderlik uitgestippel nie, maar ’n limiet per item word uitbetaal, byvoorbeeld R1 000.

Dit is dus vir persoonlike besittings wat jy uit die huis kan neem, maar waarvan die waarde minder is as ’n sekere bedrag – in dié geval R1 000.  Gestel jou baadjie van R500 en jou sonbril van R800 word gesteel.

Die versekering behoort die R500 vir die baadjie en die R800 vir die sonbril uit te betaal, want dit is onder die R1 000-limiet per item. Dit is ook minder as die algehele limiet van R20 000.

Polishouers kan besluit hoeveel hulle die ongespesifiseerdedekking-bedrag wil hê (soos R20 000) en die versekeraar sal dan bepaal wat hul uitbetalingslimiet per item sal wees.

Die uitbetalingslimiet verskil van maatskappy tot maatskappy.

WENK

Dit is belangrik om jou besittings teen hul vervangingswaarde te verseker. Dit beteken die versekeraar sal die item met ’n nuwe een vervang of die volle vervangingswaarde aan jou uitbetaal. Al het jy jou tablet dus twee jaar gelede gekoop, moet jy nou ’n nuwe een kan aanskaf teen die huidige prys.

WAT VAN JUWELE?

Dit hang van jou spesifieke polis af, maar jou juwele is nie noodwendig onder jou huisinhoud verseker nie omdat jy dit uit die huis kan neem. As dit duursaam is, moet dit liefs onder die allerisiko-dekking gespesifiseer word.

Jy moet die juwele laat waardeer. Die waardasies is jou verantwoordelikheid en moet gereeld gedoen word, met ’n volle beskrywing van die juweelstuk. Sluit die kleur, gewig, snit en helderheid van stene in.

Die juwelier wat die waardasie behartig, moet verkieslik ’n goeie reputasie hê. Kyk ook of jou polisdokument ’n kluisbeleid het. Dit behels dat juwele bo ’n sekere waarde in ’n kluis gehou moet word wanneer jy dit nie dra nie.

As jy wel eis, sal die versekaar waarskynlik aankoopbewyse soos kwitansies en waardasiesertifikate vra om die eienaarskap en waarde daarvan te bevestig.

50%
Met soveel neem allerisiko-versekeringseise na raming in Desember en Januarie toe.
30%
Tot soveel is mense na raming onderverseker. Dit beteken hul besittings is dikwels vir tot 30% minder verseker as wat dit werd is. As hulle dan eis, sal hulle nie genoeg vergoed word nie.
Kry nog hulp


Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.