Dis ’n feit soos ’n koei dat rook ’n duur gewoonte is – kyk maar wat kos ’n pakkie sigarette.

Maar dis nie al koste verbonde aan dié ongesonde gewoonte nie. Rokers betaal aansienlik meer vir lewensversekering as nierokers. Jy kan wel iets aan die saak doen deur op te hou rook.

So sal jy die geld bespaar wat jy aan sigarette sou bestee het – en laer premies op jou lewenspolis betaal.

Hoeveel meer betaal rokers?

Hoe jonger jy is, hoe goedkoper is jou lewensdekking gewoonlik.

Maar selfs jong rokers sal hoër premies moet betaal as nierokers in dieselfde ouderdomsgroep. Byvoorbeeld: ’n Gesonde manlike nieroker van 25 jaar wat lewensversekering van R2 miljoen uitneem, sal ’n maandelikse premie van sowat R294 moet betaal.

En ’n gesonde vroulike nieroker van dieselfde ouderdom sal sowat R190 per maand vir dieselfde polis betaal. Maar as hulle rokers was, sou albei twee keer soveel moes betaal: R592 per maand vir die man en R380 vir die vrou.

Die ekstra betaling word ’n lading op die premie genoem. As jy dalk wonder oor die laer premie vir vroue: Vroue se maandelikse premie is gewoonlik laer as mans s’n omdat hul lewensverwagting langer is. Die risiko dat hulle vroeg sal sterf, is dus kleiner.

Hoe ouer, hoe duurder

Hoe ouer die roker is, hoe groter is die risiko vir die versekeraar en hoe duurder die dekking.

’n Manlike nieroker van 45 wat om R2 miljoen se lewensdekking aansoek doen, kan ’n geraamde R720 se maandelikse premie betaal. Maar rook hy, skuif dit op na R1 702 – 137% meer.

Dus verskil elke mens se premie. Rokers het in die algemeen ’n korter lewensverwagting as nierokers, verduidelik Dave Ruiter van Venn-Sure Consulting. Omdat die kans groter is dat hulle jonger sal sterf, is hulle ’n groter risiko; dus is hul premie hoër. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is 22% van alle mense wat weens kanker sterf, rokers.

Laer premies as jy ophou rook

Lewensversekeraars sal jou premie verlaag as jy die rookgewoonte staak. Maar jy sal eers deur ’n rookvrye tydperk moet gaan, waarvan die lengte kan wissel van versekeraar tot versekeraar.

Dit kan tot 24 maande wees, maar Liberty Life het dit byvoorbeeld tot ses maande verkort. Die rede vir sommige maatskappye se langer wagtydperke is onder meer om seker te maak dat die polishouer nie weer in die ou rookgewoonte verval nie of dalk in elk geval ’n rookverwante siekte ontwikkel nie.

Dave sê nadat jy ophou rook het, kan die premie selfs afwaarts aangepas word na nierokerstatus.

Met ander woorde, jy betaal dan dieselfde as iemand wat dieselfde polis as nieroker uitgeneem het.

Hoe bewys jy dit?

Volgens Dave is dit standaard dat nierokers ’n kotinienbloedtoets ondergaan om die nikotienvlakke in die liggaam te bepaal. Dit word by patoloë gedoen. As jy negatief toets, kan jy aansoek doen om nierokerstariewe en sal jou spesifieke lading moontlik verwyder word.

’n Finansiële adviseur sal jou presies kan sê hoe jy moet maak en hoe jou premie aangepas kan word.

As jy later begin rook

As jy as ’n nieroker op ’n polis gelaai word en jy begin later rook, is dit ook jou verantwoordelikheid om die versekeraar in kennis te stel.

Dave sê die volgende kan gebeur: Die versekeraar is daarop geregtig om ’n eis te weier op grond van nieopenbaarmaking, maar wat hulle waarskynlik sal doen, is om jou eis te beperk en minder uit te betaal as wat hulle sou as jy die regte premie (dié van ’n roker) betaal het; daarom moet jy ook nie jok nie wanneer jy aansoek doen en sê jy is ’n nieroker as jy eintlik rook nie.

Dis baie algemeen om vir rook te toets en die waarheid kom gou uit.

Weet dit: Om te rook het nie dieselfde uitwerking op mediesefondspremies as op lewensdekking nie. Jou mediesefondspremie behoort nie verhoog te word omdat jy rook nie. 

Syfers oor rokers en tabak

Sewe miljoen

Soveel mense sterf jaarliks wêreldwyd weens tabakverbruik. Meer as 6 miljoen van hulle was rokers, en nog sowat 890 000 was sekondêre rokers.

Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie

4 000

Soveel verskillende soorte chemikalieë kom in tabakrook voor, waarvan 250 skadelik is en meer as 50 kanker veroorsaak.

Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie

Kry hier nog raad