Ongelukke is onvermydelik. Verlede jaar het meer as 14 000 mense op Suid-Afrika se paaie gesterf.

Hier is wenke om kop te hou as ’n motorongeluk gebeur en om jou versekeringseis gou af te handel.

Voor jy vertrek

Berg jou versekeraar se noodnommer op jou selfoon onder “ongeluk” of “versekering”, want dikwels as mense in ’n botsing betrokke en geskok is, is dit moeilik om die versekeraar se naam te onthou, is David Roache van dotsure.co.za se raad.

Versekeraars gee ook plakkers met kontaknommers.

Wat doen jy eerste?

’n Mens word wetlik verplig om stil te hou as jy in ’n ongeluk betrokke was en iemand beseer is of as eiendom beskadig is. Dit word as ’n misdaad beskou as jy wegry. Bel die polisie en nooddienste as iemand beseer is.

As jy vermoed die ander bestuurder is dronk of bedwelm, sal die polisie ook getuie daarvan wees wanneer jou versekering die saak ondersoek.

Ongelukke in getalle

44,6% Kleiner, ligte motors was vanjaar in die Paastyd in soveel ongelukke betrokke.

Dit word gevolg deur bakkies en ligte afeweringsvoertuie (21,2%), minibusse (9%) en busse (1,7%).

Bron: Departement van vervoer se voorlopige 2018-Paasfees-padveiligheidsverslag.

Moenie skuld aanvaar nie

Moenie skuld vir die ongeluk aanvaar nie en ook nie die ander party blameer nie, sê Christelle Colman van Old Mutual Insure. Moenie sê nie: “Dit was my skuld, maar ek het versekering en sal vir jou skade betaal.” As jy geskok of beseer is, is jy nie in ’n toestand om aannames te maak nie.

Aanspreeklikheidskwessies moet deur die versekeringsmaatskappy vasgestel word en nie deur die bestuurders nie.

Doen dit betyds

Jy moet die ongeluk by die naaste polisiekantoor aanmeld en sal ’n ongeluknommer ontvang. Dié nommer moet jou versekeringseis vergesel.

As iemand ernstig beseer of dood is, moet die ongeluk binne 24 uur by die polisie aangemeld word. As niemand beseer is nie, is dit aanvaarbaar om te wag tot die eerste werkdag nadat ’n ongeluk gebeur het. Dien dan jou eis betyds in; dit moet binne 30 dae ná die voorval gedoen word.

Wees nugter

As jy dronk bestuur, tree jy onwettig op. As jy dan jou motor stamp, hoef die versekering nie jou eis te betaal nie, al is die ongeluk nie jou skuld nie; jy sal aanspreeklik gehou word.

Jy sal al die koste vir jou eie voertuig moet dra en kan aanspreeklik gehou word vir skade aan die ander voertuig. Jy kan ook verantwoordelik gehou word vir regskoste en albei partye se mediese onkoste.

Die Padongelukkefonds kan weier om uit te betaal. En as jou versekeraar wel jou skade betaal, kan hulle jou premie verhoog.

Die regte wegsleepdiens

Lees jou polis of bel jou versekeraar of makelaar en vra of hulle goedgekeurde wegsleepdienste het en of jy enige wegsleepdiens kan gebruik. Die meeste versekeraars gebruik hul eie netwerk en dring daarop aan dat jy nie enige diens mag gebruik nie.

Jou motor se toestand

Laat jou motor versien. As jy jou motor nie behoorlik in stand hou nie en die ongeluk as gevolg daarvan gebeur, kan die versekeraar die eis verwerp. Jou remskoene moenie verweer wees nie, jou ruitveërs moet werk en jou motorbande moenie afgeslyt wees nie.

Die regte bestuurder

Elke motorpolis het aangewese bestuurders, maar as jy toelaat dat iemand jou motor bestuur wat nie ’n aangewese bestuurder is nie en dié mens dan ’n ongeluk maak, kan die eis afgekeur word.

Jou kar is verseker, nie die ander party s’n nie – en dis sy skuld

Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) is tussen 65% en 70% van voertuie op Suid-Afrikaanse paaie nie verseker nie. As ’n onversekerde mens teen jou bots, sal jou versekering jou dek, sê David.

Die versekering sal self probeer om die koste van die ander party te verhaal. En wat gebeur as jy nie versekering het nie en iemand met versekering ry in jou vas? As die ander party skuldig is, is hy vir die koste verantwoordelik en sy versekering moet jou uitbetaal.

Onthou

Versekeringsmaat­skappye sukkel dikwels om inligting oor die ander bestuurders te kry wat in ’n ongeluk betrokke was. Dit vertraag die eisuitbetalings.

Vra die ander bestuurder se besonderhede soos hul naam, ID- en telefoonnommer, pos- en e-­posadres, en versekeringsmaatskappy.

Probeer dié inligting verifieer. Jy kan vra om hul ID-dokument of rybewys te sien, sê David.

Nadat hulle hul kontakbesonderhede gegee het, kan jy hulle in hul teenwoordigheid bel.

  • Jy kan ’n foto met jou selfoon van hul ID of rybewys neem.
  • Kry inligting oor die ander motor: handelsnaam, model, kleur en registrasienommer.
  • Waar het die ongeluk gebeur? Straatnaam en voorstad, die tyd van die ongeluk en die padtoestand.
  • Kry inligting van ooggetuies.
  • Neem foto’s van die ongelukstoneel en voertuigskade.


Kry hier nog raad