Ons het almal slegte gewoontes, maar as jou gedrag jou finansiële ondergang kan beteken, is dit tyd vir hokaai en herbesin.

Sekere algemene gewoontes dra beslis by tot die ophoop van persoonlike skuld. Elkeen daarvan kan moontlik 'n knou wees vir jou krediettelling en dit verg tyd om 'n goeie telling op te bou en dissipline om dit te handhaaf. 

As jou gedrag jou finansies bedreig, raak dit regtig tyd vir herbesin en ontslae raak van ongesonde patrone, maan Francois Viviers, bemarkings- en kommunikasiehoof van Capitec.

"Krediet kan voordelig wees as dit verantwoordelik gebruik word. 'n Goeie krediettelling is van sleutelbelang om byvoorbeeld 'n nuwe huislening of motorfinansiering te kry," sê Francois. Slegte gewoontes kan maklik 'n skuldspiraal veroorsaak, wat behoorlik met jou krediettelling kan mors.

Hier is sewe gewoontes wat skuldoorlaaide mense kenmerk – en raad oor hoe om dit te vermy of te oorwin:

1. Vermy jy die groter prentjie?

Dis maklik om maar net op jou ou stryk voort te gaan en voor te gee alles is in die haak terwyl jy jou skuldprobleme onder die mat in vee. Maar jy sal 'n verandering moet maak:

Trek 'n omvattende begroting op grond van jou bankstate op. Dit sal jou 'n beeld gee van jou werklike uitgawes in verhouding tot jou inkomste en jy kan so onnodige uitgawes identifiseer.

Kry state van al jou kredietrekenings bymekaar, voer al die inligting op 'n sigblad in en ontleed jou inkopies, betalings en saldo's. Prioritiseer noodsaaklike uitgawes, die afbetaling van jou skuld en spaar vir tye van nood. Kyk weer na al jou winkelkaarte, selfoon- en ander kontrakte en intekengelde. Kanselleer kaarte waarop jy hoë rente betaal en jou gimnasiumlidmaatskap as jy drie maande laas daar was.

Maak gebruik van die een jaarlikse kredietverslag waarop jy geregtig is, ontleed jou betalingsgedrag en bespreek jou opsies met kredietverskaffers. Baie begroting- of algemene finansies-apps is beskikbaar waardeur jy makliker jou transaksies kan ontleed en jou op koers kan help bly. 

2. Betaal jy net die minimum bedrae?

As jy pal net die minimum kredietpaaiement betaal, kan dit jou eindelik 'n fortuin aan rente kos. Deur meer as die vereiste bedrag te betaal, bespaar jy nie net op rente nie, maar gee ook jou krediettelling 'n hupstoot.

3. Gebruik jy skuld om skuld mee af te betaal?

'n Algemene voorbeeld is as jy 'n kredietkaart gebruik om paaiemente op ander kredietrekenings te betaal. So gaan die gekombineerde koste van jou krediet beduidend hoër raak, want jy moet nou uiteraard ook rente betaal op die kaart wat jy so gebruik het. Dis dikwels die begin van 'n skuldspiraal.

Praat eerder met jou kredietverskaffers om laer paaiemente te probeer reël.


4. Loop jy gereeld betaaldatums mis of stel jy doelbewus paaiemente uit?

Laat betalings of wanbetaling beteken uiteraard hoër rente en kan moontlik jou krediettelling benadeel. Die tydige betaling van jou kredietrekenings volgens die gekontrakteerde skedule is van sleutelbelang om jou krediettelling te handhaaf en dit met verdrag te verbeter.

5. Probeer jy onnodige inkopies regverdig?

Die meeste mense is geneig om hulself af en toe met 'n lukrake luukse te bederf, veral ná 'n taai dag of week. Maar trap versigtig as jy onnodige kopies dikwels aan jouself probeer regverdig. En vermy veral die toksiese skuldstrik van verbruikersdruk wat deur byvoorbeeld uitspattige leefstyle in TV-reklame en die sosiale media weerspieël word. Moenie toelaat dat materialisme en besittings jou eiewaarde bepaal nie. 'n Nuttige algemene reël is dat jou uitgawes nooit jou inkomste moet oorskry of ewenaar nie.

6. Vergelyk jy jou met die bure?

Ons word gebombardeer met advertensies wat 'n stralerjakkerlewe as die norm voorhou, wat te kenne gee dat almal die en daai geriefie moet hê. Alles om by 'n sosiaal-ekonomiese kliek te kan inskakel. So kan die verskil tussen behoeftes en begeertes vinnig vir mense vervaag.

Maar voor jy iets koop bloot omdat ander dit het, behoort jy jouself eers te vra: Watter waarde gaan dié item regtig tot my lewe toevoeg? Of: Hoe gaan dit die lewe van my afhanklikes verryk en wat sal ek alles moet opoffer om dit te hê? 

Ten slotte voeg Francois by: “Hier’s ook nog drie goeie geldgewoontes wat 'n mens kan nastreef:

1. Vermy die betaling van ander mense se rekenings – moenie paaiemente namens familielede of vriende betaal nie; dit kan jou krediettelling benadeel as die krediet in jou naam is.

2. “Wees versigtig daarvoor om jou huis as kapitaalbate as kredietbron te gebruik; onthou jou woonplek kan so eindelik op die spel wees.

3. “Hou op om jou spaargeld vir ander goed te gebruik en probeer deurgaans minstens 10% van jou bruto-inkomste in jou verskillende spaarplanne steek.”