Allerhande ekstra koste kan ’n leenbedrag sommer vinnig vergroot. Beskerm jouself deur net geld te leen by finansierders wat by die Nasionale Kredietreguleerder (www.ncr.org.za) geregistreer is; hulle word wetlik gereguleer en kan vervolg word as hulle jou inloop. Maar regtens is daar ook ander koste wat gehef kan word op korttermynlenings soos persoonlike lenings.

DIENSFOOIE

Dit kan ná ’n paar jaar ’n aardige bedraggie beloop. Die wet beskerm die verbruiker en beperk dié fooie tot R60 per maand (BTW uitgesluit) op kredietooreenkomste.

AANVANGSHEFFING

Dit is ’n eenmalige fooi wat gehef word wanneer jy die transaksie aangaan. Op korttermynkredietlenings soos persoonlike lenings kan dit R165 plus 10 persent van die leenbedrag bo R1 000 (plus BTW) wees, maar dit mag nie altesaam meer as R1 050 wees nie.

KREDIETLEWENSVERSEKERING

Kredietverskaffers kan dit ’n vereiste maak vir ’n lening, maar hulle mag nie vereis dat die versekering spesifiek by hulle uitgeneem word nie. Maar jy sal moet bewys dat jy elders kredietversekering het. Dié versekering mag nie R4,50 per R1 000 van die uitstaande balans oorskry nie, sê Brett van Aswegen van Wonga. As jy byvoorbeeld R4 000 per maand skuld, mag die versekeringspremie nie meer as R18 per maand wees nie.

RENTE

Moenie hiervan vergeet nie! Rente is die groot sondaar wat jou terugbetalings opstoot. Op persoonlike lenings word die maksimum rente so bereken: die repokoers + 21 persent. Met die repokoers nou op 7 persent, lyk die som so: 7 persent + 21 persent = 28 persent. Dit verskil effens vir krediet- en winkelkaarte, waarvoor dit so bereken word: die repokoers (tans 7 persent) + 14 persent = 21 persent. Kredietverskaffers mag minder rente hef, maar nie meer nie.

VOORBEELD

As jy R5 000 oor 24 maande leen, kan die volgende koste bykom:
•    ’n Aanvangsfooi van R644,10 (R165 + 10 persent op die bedrag bo R1 000 + 14 persent BTW).
•    ’n Maandelikse diensfooi van R68,40 (R60 per maand plus BTW) en kredietlewensversekering van R22,50.
•     As jy 18 persent rente per jaar betaal, sal jou afbetaling oor 24 maande R8 544,24 wees.

HEFFINGS AS JY NIE BETYDS BETAAL NIE

1 Administrasieheffings weens wanbetaling:

So ’n heffing kan betaalbaar word om die administrasiekoste te dek as jy nie betyds jou skuld afbetaal nie. Hierdie heffing moet minder wees as die koste van die geregistreerde aanskrywingsbrief (die prokureursbrief wat betaling van die skuldpligtige vereis) en ander redelike uitgawes wat nodig is om die brief af te lewer.

Dit kan oor die algemeen wissel tussen R32 en R42 (BTW uitgesluit) om ’n geregistreerde brief ingevolge die Wet op Landdroshowe af te lewer, se Brett.

2 Invorderingskoste:

Dit is van toepassing as die krediteur uitstaande skuld moet invorder. Kragtens die Kredietwet mag die invorderingskoste, ander fooie en rente nooit meer wees as die uitstaande bedrag in daardie stadium nie, se Brett.

As ’n skuldinvorderaar aangestel word, sal dié se heffing ook onderhewig wees aan die Wet op Skuldinvordering – dit mag nie meer as R870 of die skuldbedrag wees nie, watter een ook al die minste is. (As die proses uitgerek word, kan prokureurs en regsprosesfooie boonop bykom.)

SO LYK SUID-AFRIKANERS SE SKULD

24,31 MILJOEN aktiewe kredietverbruikers in Suid-Afrika aan die einde van Desember 2016 (dit sluit informele leners uit). 9,76 MILJOEN (40,1 persent) het ’n swak skuldrekord. 14,55 MILJOEN van hulle (59,9 persent) behartig hul skuld goed.

(Bron: Kredietburomonitor)

WAAR KAN EK HULP KRY?

  • Nasionale Kredietreguleerder: 0860-627-627, www.ncr.org.za
  • Nasionale Verbruikerstribunaal: 012-294-1450, www.nct.org.za
  • Kredietombudsman: 0861-662-837, www.creditombud.org.za
  • Bankombudsman: 0860-800-900, www.obssa.co.za

    Uit Huisgenoot 3 Augustus 2017