Privaat boekhou- of vertaalwerk, eiendomsverhuring, aanlyn onderrig, die maak en verkoop van gesigmaskers . . .

Daar is talle moontlikhede om ’n ekstra inkomste te kweek. Maar om die vrugte van daardie ekstra werk te pluk, moet jy dit behoorlik bestuur.

Ons gee jou vandeesweek vyf wenke vir sukses met jou “tweede werk”.

Hou so rekord van jou geld

Jy het nie ’n ingewikkelde stelsel nodig om met jou maandelikse uitgawes en inkomste tred te hou nie. Eenvoudige sigblaaie is voldoende.

Hou noukeurig rekord van elke sent – moenie bedrae afrond of uitgawes weglaat om die groter prentjie rooskleuriger te laat lyk nie.

Jy moet kan sien as jou uitgawes gedurig meer is as jou inkomste, want dan is jou ekstra werk nie lonend nie en moet jy iets anders beproef. As jy meer as een ekstra inkomsteprojek het, moet jy die finansiële rekords vir elkeen apart hou.

Op een ekstra blad kan jy dan die totale inkomste en uitgawes uit al die verskillende bronne konsolideer. Elke maand moet jy ook ’n persentasie daarvan vir inkomstebelasting opsy-sit. (Meer hieroor later.)

Sorg dat jy fakture uitreik

Dit is die beste manier om rekord te hou van die produkte en dienste wat jy lewer.

En dit herinner jou kliënte om jou vir jou werk te betaal! Jy kan gratis aanlyn faktuur-apps soos PayPal, Square en Zoho op jou slimfoon of rekenaar aflaai en gebruik. Of jy kan doodeenvoudig fakture op jou rekenaar skandeer of tik en per e-pos stuur.

Dié inligting is belangrik wanneer jy fakture opstel:

  • die opskrif “faktuur” om dit te onderskei van byvoorbeeld ’n kwotasie of kwitansie;
  • ’n unieke faktuurnommer vir elke faktuur, byvoorbeeld ’n samestelling van letters en nommers);
  • die datum, jou naam en adres;
  • die kliënt se naam en adres;
  • die datum waarop die diens of produk verskaf is;
  • produkte of dienste gelewer en die bedrag betaalbaar vir elk;
  • die totale bedrag betaalbaar;
  • betaaltydperk, byvoorbeeld binne 30 dae;
  • betaalwyse, byvoorbeeld ’n elektroniese oordrag na jou bankrekening (en die rekeningbesonderhede);
  • die verwysingsnaam vir die betaling.
Fakture is die beste manier om rekord te hou van die produkte en dienste wat jy lewer. En dit herinner jou kliënte om jou vir jou werk te betaal!

Verstaan hoe jy belas sal word

As jy ’n ekstra inkomste verdien, moet jy liefs by ’n rekenmeester seker maak oor hoeveel en hoe jy belasting moet betaal. Sekere uitgawes kan van belasting afgetrek word – mits jy reg te werk gaan.

Maak van die begin af seker jou belastingopgawes is reg.

Jy kan ’n rekenmeester ’n konsultasiefooi betaal om jou raad te gee oor hoe om dit self te doen; of jy kan iemand anders betaal om jou belastingopgawes in te vul. Belastinginligting is ook beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se webtuiste, sars.org.za, en webtuistes soos taxtim.co.za.

Dit is belangrik om die volgende te verstaan:

  • Inkomstebelasting: As jy bo R83 100 per jaar verdien en jonger as 65 is, moet jy inkomstebelasting betaal. Hierdie drempel geld vir jou gesamentlike inkomste. As jy 65 jaar of ouer is, word jy belas as jy meer as R128 650 verdien.
  • Voorlopige belasting: Dit is hoe jy belasting betaal as jy meer as een inkomstestroom het. Dit is nie ’n afsonderlike belasting wat jy bo en behalwe jou gewone inkomstebelasting moet betaal nie. Dit geld vir mense wie se belasting nie deur die jaar van hul vaste maandelikse salaris afgetrek word nie. Voorlopige belasting behels twee verpligte betalings in ’n jaar sodat jy nie op jaareinde met een enorme betaling opgesaal word nie.
  • BTW (verkoopbelasting): Jy kan nie BTW vra op jou verkope tensy jy ’n onderneming het wat vir BTW geregistreer is nie.

Maak seker dis die tyd en moeite werd

Besluit wat jy deur jou ekstra werk wil bereik. As dit is om ’n ekstra inkomste te verdien, moet die geld wat jy so inbring jou tyd en insetkoste regverdig. En as dit nie dadelik geld inbring nie, moet dit vir jou ander waarde hê, soos om jou CV te versterk of die fondament vir ’n toekomstige winsgewende onderneming te lê. Jou “tweede werk” kan natuurlik ook ’n liefdestaak vir ’n welsyn- of dierebeskermingsorganisasie wees. 

Besluit oor jou doelwitte en -strategie op langtermyn

Watter spesifieke uitgawes wil jy met jou ekstra werk dek of waarvoor wil jy geld spaar? Jy kan ’n ander bankrekening oopmaak sodat jou ekstra inkomste daarin betaal word. So kan jy keer dat dit deur jou alledaagse besteding opgevreet word. 

Wenk
Jou vaste en vernaamste inkomstestroom bly die belangrikste. Moenie dit afskeep ter wille van jou ekstra werk nie.

KRY HIER NOG RAAD