Net om elke dag kos op die tafel te sit is reeds vir baie Suid-Afrikaanse ouers ’n uitdaging. Tersiêre onderrig is een van hul ander grootste finansiële kwellings.

As ’n mens kyk na die skerp styging in onderriginflasie is dit ook geen wonder nie: Die verwagte 9,5% net vir 2017 is beduidend hoër as die geskatte algemene inflasiekoers van digby 6% vir vanjaar.

Dit beteken ouers wie se kind vanjaar in gr. R is, kan verwag om eindelik tussen ongeveer R1,33 miljoen en R3,01 miljoen vir hul spruit se opvoeding op te dok volgens die jongste syfers in die Old Mutual-spaar-en-beleggingsmonitor. Die twee beramings is vir onderskeidelik openbare en privaat onderrig en sluit 12 jaar op skool en ’n universiteitskwalifikasie van drie jaar in.

As jou kind universiteit toe wil gaan, kan dit jou vir net een jaar gemiddeld R54 000 kos in 2017, R85 000 teen 2022, R176 000 teen 2030 en R253 000 teen 2035.

Dié vooruitsig het deurgaans jaarlikse inflasie van 9,5% gebruik, en dit kan styg. Nogtans spaar 54% van stedelike Suid-Afrikaanse ouers steeds nie doelgerig vir hul kinders se opvoeding nie.

BEGIN VROEG EN PLUK DIE VRUGTE

Die ideaal is jy moet al met jou kinders se geboorte vir hul tersiêre onderrig begin spaar, sê Nico Swart, Unisa-lektor en skrywer van die trefferboek Personal Financial Management. Saamgestelde rente (rente op rente) “is die belangrikste beleggingsbeginsel; alles gaan oor die tyd wat jou geld in die beleggingsmark deurbring,” is sy raad.

Trouens, as jy ’n gesin beplan, kan jy al aan ’n opvoedingsfonds begin bou nog voor jou kinders verwek is, sê Warren Ingram, bekroonde batebestuurder en skrywer van Become Your Own Financial Advisor.

As jy dit kan bekostig kan jy “so R1 000 maandeliks per kind begin wegsit en dit vir inflasie aanpas met 10% jaarliks vir 18 jaar,” sê Nico. “Danksy saamgestelde kapitaalgroei kan dit oor 18 ononderbroke jare ’n baie groot bedrag word.”

Ouers kan vroeg en klein begin en daarop bou, sê Grant Locke van OUTvest. “Dit is baie beter om met, sê maar, R200 per maand te begin en die bedrag vanaf hul jong kinderjare te verhoog, as wat jy ná twee maande ophou belê omdat jy nie R1 000 maandeliks kan bekostig nie.”

Geld wat bedoel is vir opvoeding, moet groei en sal oor tyd ’n groot bydrae lewer tot jou kind se toekoms, sê Grant. OUTvest bied die ‘Crowdvest’-funksie op hul webtuiste waarmee vriende en familie ook ’n geldelike bydrae kan lewer vir enige doelwit – byvoorbeeld tot ’n kind se opvoeding, wat veral sinvol kan wees op verjaardae.

VAN JOU OPSIES

Effektetrusts

Die meeste kenners beskou dit as een van die beste maniere om vir tersiêre onderrig te spaar.

Jillian Howard, skrywer van The Best Pocket Guide Ever for Family Finances, sê opbrengste op effektetrusts is op die lang termyn beslis hoër as op spaarrekenings en gewoonlik ook beter as opvoedingspolisse.

“Effektetrusts bied ’n baie beter kans as ’n tipiese bankspaarrekening om inflasie oor langer beleggingstydperke te klop. Maar die opbrengs van die meeste effektetrusts is nie gewaarborg nie,” sê Grant. Tog is daar volgens hom verskeie soorte effektetrusts waaruit jy kan kies, met verskillende risiko-profiele om die bepaalde beleggingstydraamwerke en doelwitte van uiteenlopende beleggers te pas.

’n Nadeel kan wees dat jy in swaar tye waarskynlik makliker van jou effektetrustgeld kan onttrek. Effektetrusts kan ook aan belasting onderworpe wees, tensy dit deel vorm van ’n belastingvrye spaarrekeningbelegging. ’n Beduidende deel van jou rente (wins) word wel van belasting vrygestel.

Fundisa

As jy dit nie breed het nie, maar steeds vir tersiêre onderrig wil spaar, is dié beleggingsinstrument ’n goeie alternatief, sê Warren. Dit is ’n spanpoging tussen die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa), die regering en verskeie finansiële instellings.

Die minimum maandelikse bydrae is net R40, en Fundisa word in ’n mate gesubsidieer deurdat ’n bedrag van 25% van wat jy jaarliks wegsit by jou spaargeld gevoeg word. Dié “bonus” word wel tot R600 jaarliks beperk. Trevor Chandler, Asisa-beleidsadviseur, verduidelik die fonds is bedoel vir huishoudings wat R180 000 of minder jaarliks verdien. Maar niks keer mense met ’n hoër inkomste om geld namens die kinders van laerinkomste-gesinne te belê nie.

Fundisa kom neer op ’n effektetrustfonds wat ’n laer risiko het.

Polisse

As jy dalk nie die versoeking kan weerstaan om “tydelik” van die geld te gebruik wat jy vir jou spruite spaar nie, kan jy polisse oorweeg. ’n Polis se beleggingstydperk word vasgestel, byvoorbeeld vyf (gewoonlik die minimum periode) tot 15 jaar. Warren sê opvoedingsplanne en -polisse is basies uitkeerpolisse.

Volgens Jillian skrik die hoë administrasiekoste van die produkte mense af. Dit sluit ook soms versekering in om te waarborg dat steeds vir jou kind se opvoeding voorsien word ingeval jy sou sterf.

Eiendom

Jy kan ’n bykomende eiendom soos ’n meenthuis of woonstel aanskaf met die oog op ’n huurinkomste of herverkoop teen ’n wins, sê Nico. Maar mik na iets met lae heffings, dienstariewe en eiendomsbelasting.

As jy nie kans sien vir huurder- of instandhoudingsprobleme nie, kan jy ook belê in genoteerde eiendom, dit wil sê aandele in of effektetrustblootstelling aan eiendomme soos woonstel- en kantoorblokke en winkelsentrums. Danksy voortdurende verstedeliking behoort dit ’n taamlik veilige belegging te wees.

BELASTINGVRYE SPAARREKENINGS

Dié soort spaarrekenings is ’n program om landsburgers meer te laat spaar. Die voordeel is dat jou onttrekkings uit so ’n rekening nie belas word nie. Daar is wel ’n perk van R500 000 en alles meer as dit word met 40% belas.

Maar vir dié wat byvoorbeeld so R500 maandeliks vir hul kinders se studie wil belê, is dit ’n maklike manier van spaar. Dis ook ’n buigsame opsie; jy kan maandelikse en enkelbedrae belê, enige tyd inbetalings staak en hervat, en jou geld enige tyd onttrek.

ALGEMENE BELEGGINGSRAAD
•    Aandele lewer gewoonlik op lang termyn opbrengste van meer as 6 persent bo inflasie. Jy moet na opbrengste van omtrent 6 persent mik as jy doeltreffend wil spaar. Maar probeer in die algemeen jou beleggingsrisiko versprei: Buiten aandele kan jy in ander bateklasse belê, byvoorbeeld staatseffekte, eiendom en kontant. Moenie al jou geld by een bate­bestuurder of beleggingsmaatskappy belê nie.
•    Monitor voortdurend jou beleggings en moenie huiwer om dit aan te pas of selfs te kanselleer as dit swak presteer nie.
•    Vermy produkte wat ’n opbrengs belowe wat te goed klink om waar te wees.
•    Hoe gouer jy begin spaar, hoe groter is jou voordeel uit saamgestelde rente. Jy moet dit in ag neem, want ’n inflasiekoers van net 6 persent halveer byvoorbeeld die koopkrag van jou geld oor 12 jaar.
•    Jy kan al die genoemde opsies bespreek met ’n finansiële raadgewer of
finansiële instelling met ’n bewese prestasierekord, en self deurentyd soveel moontlik oor persoonlike geldsake lees.


Gedeeltelik uit Huisgenoot 15 Junie 2017