Baie werkende huisgesinne sukkel om kop bo water te hou te midde van stygende lewens­koste en die uitdagende ekonomie. In metro­gebiede het sowat 30% van huishoudings met ’n inkomste die afgelope jaar agterstallig geraak met die betaling van hul rekeninge, toon Old Mutual se Spaar-en-beleggingsmonitor 2019.

Foonapps is beskikbaar wat jou kan help om uitgawes te bestuur, byvoorbeeld Goodbudget (iPhone en Android)

En dít nadat hulle reeds besnoei het op uitgawes soos kruideniersware, vermaak, vakansies en dinge soos siga­rette. Waar kan ’n mens nog die skêr inlê?

Kyk of jy goedkoper versekering kan kry

Bepaal hoeveel minder jy vir presies dieselfde begrafnis-, huis­inhoud-, motor- en gebouversekering by ’n ander versekeraar sal betaal.

Baie mense stel dit uit omdat hulle dink dit is te veel moeite, maar deesdae word dit vinnig verwerk.

Makelaars kan dekking- en premievergelykings vir jou doen, jy kan self versekeraars bel, of jy kan dit aanlyn vergelyk.

Kyk na jou bybetalings op jou motor- en huisversekering. Dis die bedrag wat jy moet bydra voor die versekeraar ’n eis uit­betaal.

Hoe hoër die bybetaling, hoe laer is die premie gewoonlik. Vra of jy jou bybetaling hoër kan maak om jou maandelikse premie te verminder. Onthou net, jy sal die bybetaling moet kan bekostig as jy die dag wel eis.

As jy nog dieselfde voertuig as verlede jaar het, moet jy die versekerde waarde laat verlaag. Jou motor verloor outomaties waarde namate dit verouder, en jy moet jou versekering daarby aanpas. Die versekeringsmaat­skappy gaan dit nie noodwendig vir jou doen nie.

Die meeste versekeraars is ook bereid om premieafslag te gee as jou huis-, geboue- en motordekking alles by hulle uitgeneem word. As jy by verskillende maatskappye verseker is, stel vas of jy al die dekking by een versekeraar teen ’n beter premie kan kry.

Moenie jou versekering heeltemal sny net omdat jou geld­sake swaar trek nie – dit kan jou later duur te staan kom as jy nie versekering het nie.

Probeer om vir jouself ’n laer rentekoers te beding

As jy jou huislening se volle maandelikse verband getrou betaal en ook ’n goeie krediet­rekord het, sal jou bank dalk bereid wees om jou rentekoers te verlaag.

Dit is ook moontlik dat jy by ’n ander bank of verbandgewer ’n aansienlik beter rentekoers kan kry as wat jy tans het.

Onthou net dat daar gewoonlik fooie is as jy verskuif, byvoorbeeld vir die herregistrasie van die verband.

Die nuwe verbandgewer is dalk bereid om afslag daarop te gee. Hou in gedagte dat die laer rentekoers ook moet vergoed vir enige ekstra fooie wat jy dalk moet betaal.

Die bank kan jou help om dit te bereken.

Kry goedkoper selfoon- en Wi-Fi-kontrakte

Moenie outomaties by dieselfde diensverskaffer bly as jou kon­traktyd verby is nie. Vergelyk al die beskikbare opsies. As jy R150 minder per maand betaal, is dit R3 600 oor 24 maande se kontraktyd wat jy goedkoper kry.

Datapryse word ál mededingender. Jy hoef ook nie ’n nuwe foon te kry elke keer wanneer jou kontrak hernu word nie. Hou jou foon as dit nog werk en kry ’n datapakket. Pakkette wat net vir data en lugtyd is, behoort goedkoper te wees sonder ’n ekstra foonafbetaling.

Oorweeg ’n goedkoper motor met laer paaiemente

Dit word ál duurder om ’n voertuig af te betaal, te bestuur en in stand te hou.

Volgens WesBank se mobiliteitsrekenaar het die deursnee­verbruiker se besteding aan paaiemente, brandstof, versekering en instandhouding in Julie vanjaar tot R7 851,39 per maand gestyg. Dit is 3% hoër as verlede jaar en 28% hoër as vyf jaar gelede.

Die grootste deel van hierdie uitgawes is maandelikse paaiemente. Oorweeg dit om jou kar in te ruil vir ’n billiker model wat ook minder brandstof verbruik.

Dié maandelikse besparing kan jou oor die hele afbetaaltyd derduisende rande bespaar.

Kry hier nog raad


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.