Ons land word droër, en water, veral vir stedelike gebruik, word minder. ’n Mens kan nog sonder krag oor die weg kom – met gas, kragopwekkers of kerse – maar nie sonder drinkwater nie.

En dis nie net die owerheid se plig om ons kosbare waterbronne te bewaar nie – dis almal s’n.

Daar is drie basiese maniere om jou water tuis aan te vul sonder om die munisipaliteit s’n te gebruik: grondwater, reënwater en gryswater.

Jou Geldsake het gesels met Gerhard Cronje van Maskam Water, spesialiste in waterbesparingstelsels, oor die koste van alternatiewe waterstelsels tuis.

REËNWATER

Die basiese manier is om dit in watertenks langs jou huis uit die dakgeute op te vang. Gerhard sê die gewildste grootte tenk is 5 000 L.

Die koste van groot tenks werk gemiddeld R1 000 per 1 000 L uit; ’n 5 000 L-tenk kos dus sowat R5 000* (sonder BTW).

Dan moet ’n pompie (sowat R2 000), filter (R1 000) en outomatiese skakelaar (R1 000) bykom. Dit kan jou dus sowat R9 000 (sonder BTW) kos om ’n lekker groot reënwatertenk langs jou huis op te rig.

Belangrik! Sodra jy alternatiewe water aan jou huis koppel wat uit dieselfde kraan in jou huis loop as die munisipale water, het dit ’n regsimpak, waarsku Gerhard.

Jy moet dus:

  • toestemming by die munisipaliteit daarvoor kry
  • en ’n sogenaamde RPZ laat installeer.

Dit is ’n apparaat wat keer dat jou alternatiewe water per abuis terugvloei in die munisipale waternetwerk in.

So word verhoed dat enige moontlike onsuiwerhede in jou eie water dalk in die algemene waternetwerk beland.

Die RPZ kos sowat R4 500. Daarna moet die munisipaliteit ook die installasie goedkeur.

Grondwater

Sommige mense laat ’n waterput op hul erf grawe om ondergrondse water te onttrek om tuis te benut; ander laat ’n boorgat sink.

Waterputte

’n Put word gewoonlik gegrawe waar die water naby die oppervlak is en is taamlik groot in omvang.

Die koste hang af van hoe diep die water lê en die soort grond. In sandgrond kan ’n put R10 000 tot R15 000 kos.

En as dit deur klip gegrawe moet word, skiet die koste maklik op tot R40 000.

Boorgate

Hulle is gewoonlik dieper en die gat self is kleiner in omvang. Daarvoor is professionele boormasjiene nodig. Die koste om ’n boorgat te sink is sowat R1 000/m.

Sommige erwe se water kan 30 m onder die grond lê; ander weer 150 m. Hoe dieper, hoe duurder.

Boormaatskappye kan gewoonlik ’n geoloog aanbeveel wat kan vasstel hoe diep die water onder die oppervlak is.

Daarna moet jy ’n kwotasie kry van die boormaatskappy, gegrond op die diepte van die water.

Belangrik! As jy alternatiewe waterbronne gebruik, moet jy amptelike kennisgewings by jou huisingang en krane opsit om mense te waarsku dis nie drinkwater nie.

GRYSWATER

Onthou, gryswater is nie geskikte drinkwater nie. Dis byvoorbeeld gebruikte badwater, wat dus net vir die tuin of die spoel van toilette gebruik kan word.

Doen dit self

Jy kan byvoorbeeld ’n 120 L-Ecogater-gryswaterstelsel koop vir die herwinning van huiswater en wat reeds ’n pompie en filter inhet.

Dit kos sowat R5 000 (BTW uitgesluit) en word gebruik om die gebruikte water uit jou stort, bad en wasmasjien met pype na ’n spesiale tenk te herlei.

Die water beweeg deur ’n filter in die tenk, waarvandaan dit na jou tuin gepomp word. Met gryswater kan die deursnee-huishouding sowat 50 tot 100 L munisipale water per persoon per dag bespaar.

Die stelsel is nie vir die opgaar van water nie; dis bloot ’n versamelpunt voor water uitgepomp word. Gerhard se wenk is dat jy een met ’n prefilter koop, anders sal die pomp verstop.

Belangrik! Moenie kombuiswater as gryswater gebruik nie. Die vetterigheid en vetterige oorblyfsels in vuil skottelgoedwater kan jou besproeiingspomp en pype laat verstop.

Groter kommersiële gryswaterstelsels

Groter stelsels vir langtermyngebruik het ’n filter wat hare en wolletjies uit bad- en stortwater haal, bergkapasiteit, en belugting wat keer dat gryswater se gehalte versleg.

Ondergrondse stelsels herlei gryswater uit al die badkamers in die huis outomaties na ’n sentrale opgaarpunt, van waar dit buitentoe gepomp word.

Dis natuurlik duurder: enigiets van R25 000 tot R90 000, na gelang van die soort stelsel en die grootte daarvan. Maar die besparing op lang termyn sal daarvoor vergoed, want jy sal maandeliks veel minder vir munisipale water betaal.

Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.