Maar voor dit gedoen mag word, moet die hof gevra word om ’n besoldigingsbeslagleggingsbevel teen jou uit te reik.

Hoe werk dit? Hier is ses dinge wat jy moet weet.

Wanneer word dit uitgereik?

Die hof staan ’n besoldigingsbeslagleggingsbevel toe as ’n werknemer nie sy maandelikse betalings aan ’n skuldeiser doen nie.

Dit is dus nadat die skuldeiser reeds die werknemer gedagvaar het om te betaal, maar die persoon dit steeds nie doen nie, sê Christo Bester van die LWO-werkgewersorganisasie.

Dit kan byvoorbeeld ’n skuldafbetaling wees of wanneer iemand nie ’n betaalverpligting nakom nie, soos onderhoud aan ’n voormalige eggenoot.

Die bevel gelas dat ’n spesifieke bedrag maandeliks van die werknemer se salaris afgetrek word tot die skuld gedelg is.

Maak seker dis geldig

Die werknemer of -gewer kan die hof wat die bevel uitgereik het, nader om die geldigheid daarvan te bevestig. Maar die bevel word as geldig aanvaar tot die teendeel bewys kan word.

Dit moet onder meer die volgende besonderhede bevat:

  • ’n saaknommer,
  • ’n oorspronklike handtekening van ’n landdros,
  • ’n oorspronklike stempel van die hof, en
  • die volle name en identiteitsnommer van die werknemer.

’n Landdros moet dit uitreik; nie ’n hofklerk nie.

As dit rakende ’n betaling is wat onder die Nasionale Kredietwet val, byvoorbeeld persoonlike lenings of kredietskuld, moet die hof jurisdiksie hê in die gebied waar die werkgewer woon. Dit is om werknemers te beskerm sodat ’n hofklerk nie sommer op enige plek bevele kan uitreik nie.

So werk aftrekkings

Wetgewing verplig die werkgewer om dadelik met die aftrekking te begin. Die werkgewer betaal die bedrag dan oor aan die prokureur wat die invordering behartig. Dit gaan voort tot die skuld ten volle vereffen is.

Die aftrekking mag regtens nie meer as 25% van die werknemer se vergoeding wees nie, sê Christo.

Omdat die woord “vergoeding” gebruik word en dit nie uitstippel dat dit spesifiek die persoon se salaris ná belasting is nie, word dit gewoonlik op hul bruto salaris bereken.

Die werkgewer kan kommissie van tot 5% vir administrasiefooie van die skuldbetaling verhaal. Dié aftrekking kom uit die bedrag wat afgetrek word en nie ekstra uit die werknemer se salaris nie.

As die werkgewer sou weier of versuim om die aftrekkings te doen, kan die skuldeiser aansoek by die hof doen om ’n beslagleggingsbevel teen die werkgewer vir die skuld.

Gestel die werknemer verander van werk?

Dis die werknemer se plig om die skuldeiser dadelik skriftelik in kennis te stel van die naam en adres van sy of haar nuwe werkgewer.

Die skuldeiser moet ’n gesertifiseerde afskrif van die besoldigingsbeslagleggingsbevel op die skuldbetaler se nuwe werkgewer bedien met ’n beëdigde verklaring wat die betalings aantoon wat sedert die uitreiking daarvan ontvang is.

Hy moet ook die uitstaande saldo uiteensit. As ’n skuldbetaler vir homself begin werk, sal hy steeds aan die bevel moet voldoen.

Gestel die skuldenaar kry skuldberading?

Die bevel bly staande. Die skuldberader kan nie namens die skuldbetaler onderhandel om dit te verlaag nie omdat dit ’n hofbevel is, sê Matthys Potgieter van Debt-Safe. Die bedrag word net by die skuldbetaler se begroting ingereken sodat hy al sy skuld saam met sy ander uitgawes kan betaal.

Wenk

Werkgewers mag nie ’n werknemer ontslaan weens die uitreiking van ’n besoldigingsbeslagleggingsbevel nie. Die werkgewer is dan skuldig aan ’n misdryf en kan ’n boete of selfs gevangenisstraf opgelê word.

Suid-Afrikaanse ver­bruikers se groot skuldlas beteken dat besoldigingsbeslagleggingsbevele baie algemeen voorkom.

R1,78 miljard

Soveel het verbruikers se skuld einde Maart bedra. Dit was 1,26% meer as in Desember 2017.

Bron: Die Nasionale Kredietreguleerder se jongste Verbruikerskredietmarkverslag, Maart 2018

 Kry hier nog raad

Kontak ons
  • Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com.
  • E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.