Dit gebeur soms dat skuld en rente oploop.

En wanneer jy weer jou oë uitvee, skuld jy ’n allemintige bedrag. Ingevolge die Nasionale Kredietwet kan sekere skuld verjaar, waarna jy dit nie hoef te betaal nie. Dit beteken egter nie jy kan voor die voet skuld maak en jou verantwoordelikheid probeer ontduik nie.

Daar is vereistes voor skuld as verjaar beskou kan word. Sommige skuld verjaar eers ná 30 jaar. Die verjaring kan ook kragtens wet in sekere gevalle uitgestel word. Maar die meeste skuld waarvoor jy ’n siviele dagvaarding kan kry as jy nie betaal nie, byvoorbeeld ’n doktersrekening of gim-lidmaatskap, verjaar ná drie jaar.

Dié drie jaar begin sodra die skuld ontstaan, byvoorbeeld die dag waarop die eerste rekening gestuur is. ’n Skuldinvorderaar mag kragtens wet nie verjaarde skuld uit jou probeer kry nie.

Hulle kan jou ook nie dreig met ’n slegte kredietrekord nie omdat verjaarde skuld nie op jou rekord behoort te wys nie.

Vereistes voor die skuld as verjaar beskou word

  • Jy mag nie in die drie jaar ’n dagvaarding weens die skuld ontvang het nie.
  • Jy mag nie in die drie jaar skriftelik of mondelings erken het dat jy die skuldbedrag verskuldig is nie.
  • Jy mag nie in die drie jaar enige afbetalings teen die betrokke skuldbedrag gedoen het nie. 

Voorbeelde van skuld wat ná drie jaar kan verjaar

  • winkelrekening
  • kredietkaartrekening
  • Telkom-rekening
  • persoonlike lening
  • selfoonrekening
  • voertuigfinansiering

Maak so

’n Skuldinvorderaar bel jou en eis betaling, maar jy vermoed die skuld het reeds verjaar. Hoe nou gemaak? Moenie enigiets teken of selfs mondelings instem om te betaal nie. Sê ferm die skuld het reeds verjaar. Die skuldinvorderaar moet die teendeel kan bewys.

Gesels met ’n prokureur of organisasie wat in skuldbestuur spesialiseer as jy onseker is of jou skuld wel verjaar het.

So werk dit

Jenny* het lankal vergeet sy het in 2012 by ’n gim aangesluit.

Onlangs laat weet ’n skuldinvorderaar haar sy moet die kontrakfooie, wat intussen rente getrek het, betaal. Maar na regte het die skuld verjaar en hoef sy dit nie te betaal nie. Jenny kan eenvoudig sê die skuld het verjaar en vra dat die invorderaar haar nie weer kontak nie.

As sy nou gedagvaar word, kan sy ’n spesiale verweer van verjaring indien. As Jenny egter nou instem om dit te betaal, sal sy moet opdok daarvoor.

David* het in 2013 skuld gemaak en in 2014 een afbetaling gemaak.

Sy skuld het dus nie in 2016 verjaar nie, want deur daardie een afbetaling het hy erken hy is die volle bedrag verskuldig. Die drie jaar tot die skuld sal verjaar, begin nou weer van voor af – van die datum van daardie enkele 2014-betaling.

Dus kon die skuld in 2017 verjaar het, mits hy natuurlik nooit weer ’n betaling gemaak het, erken het hy is die bedrag verskuldig of geen dagvaarding daarvoor ontvang het nie.

* Skuilname.

30-jaar-skuld

Nie alle skuld verjaar ná drie jaar nie. Die volgende sal eers ná 30 jaar verjaar:

  • ’n huislening; 
  • munisipale rekening;
  • geld verskuldig aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens;
  • skuld kragtens ’n hofbevel; en
  • jou TV-lisensie.

‘Vertraagde’ verjaring

In sommige gevalle kan verjaring vertraag word, soos as die skuld deel is van ’n eis teen die boedel van ’n oorlede skuldenaar, teen die skuldenaar se insolvente boedel of teen ’n maatskappy onder likwidasie.

Dit kan ook gebeur as die skuldeiser of skuldenaar oorlede is en die eksekuteur van die boedel nie aangewys is nie of as die skuldenaar minderjarig is.

Belangrik!

Verjaring kan nie as ’n verskoning gebruik word om nie jou skuld te betaal nie.

As die kredietverskaffer kan bewys hulle het jou probeer opspoor of kontak sedert jy die skuld gemaak het, sal die verweer van verjaring misluk. Jy kan nie gedurig van adres verander in ’n poging om jou skuld te ontduik nie.

Hoe langer jy neem om dit te delg, hoe meer bou die rente op en hoe meer word jou skuld. As jy as ’n slegte betaler gebrandmerk word, sal jy vorentoe sukkel om finansiering of selfs ’n selfoonkontrak te kry.

Op die nasionale kredietreguleerder se webtuiste (www.ncr.org.za) is raad en die kontakbesonderhede van skuldberaders as jy sukkel om jou skuld baas te raak.

47 278

Soveel dagvaardings is in September 2017 uitgereik vir skuld.

34,6%

Soveel is aan Gautengers uitgereik; dit was die meeste van al die provinsies.

1,1%

Soveel is aan Noord-Kapenaars uitgereik; dit was die minste in die land. 

Bron: Statistieke Suid-Afrika: statistieke van siviele sake weens skuld, September 2017; uitgereik: November 2017

Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.