’n Leser wil graag oorsee gaan sonder om skuld te maak. Ons kyk hoe jy jou droomvakansie kan beplan sodat dit jou sak sal pas.

Hoe spaar jy?

Werk uit presies hoeveel jy maandeliks daarvoor moet wegsit. As jy binne drie jaar R50 000 wil spaar in ’n rekening waarop jy 6% rente verdien, sal jy elke maand R1 271 moet opsysit, sê Kriegler Neethling, ’n finansiële bestuurder van Durbanville.

Oulike aanlyn spaarrekenaars (sien Kry hier nog raad) kan jou met dié som help.

Hoe besnoei jy koste?

Vlieg en reis goedkoper

Wees op die uitkyk na spesiale aanbiedings. Gereelde reisigers meen die beste tyd om vlugte te soek is vier tot ses maande voor jou vertrek. Vlugte kan wel ’n jaar vooruit bespreek word, maar dan is dit dikwels teen ’n standaardprys wat nie die billikste is nie.

Teen drie maande voor die tyd is die goedkoopste sitplekke al uitverkoop. As jy op die nippertjie bespreek, bestaan die gevaar dat jy glad nie ’n kaartjie kan kry nie of baie duurder daarvoor moet betaal.

’n Retoervlug van Johannesburg na Rome in die ekonomiese klas van ’n goeie lugdiens kan jou byvoorbeeld ’n maand voor jou vertrek R10 000 kos, maar bespreek jy dit vier maande vooruit, kan jy sowat R1 000 bespaar.

Onthou, goedkoper vlugte is op goedkoper lugdienste te kry, maar kyk eers op ’n webtuiste soos www.airlineratings.com hoe hul veiligheid en diens gegradeer word.

Volgens reiswebtuistes is dit gewoonlik die goedkoopste om op ’n Dinsdag of Woensdag te vlieg. Selfs al is die verskil net R200 per persoon, kan jy heelwat bespaar as die hele gesin saam vlieg.

Foto ter illustrasie: Pexels.

Vind ook uit of jy enige lojaliteitspunte of -myle verdien waarmee jy jou kaartjie kan betaal. Onthou, binnelandse vlugte is in die meeste lande baie duur. Tensy jy oor ’n baie groot afstand moet reis, oorweeg dus liewer trein- of busvervoer.

Treinritte in Europa kan drie maande voor jou reis aanlyn bespreek word en dis dikwels dan die goedkoopste. ’n Rit op die TGV-sneltrein van Parys na Lyon kan minder as R1 000 kos, terwyl ’n vliegkaartjie drie keer so duur kan wees.

Bly goedkoper

Besluit of jy in die heel goedkoopste plek, gemaklik of luuks wil bly. Hoe ook al, jy kan baie bespaar as jy self jou verblyf reël. Volgens navorsing wat Forbes en Statista in Januarie vanjaar gepubliseer het, is dit in die meeste stede goedkoper om Airbnb pleks van ’n hotel te gebruik.

In Tokio, Japan, kan jy byvoorbeeld sowat R1 870 per nag bespaar as jy jou eie verblyf deur Airbnb reël; in Parys, Frankryk, sowat R839 en in Berlyn, Duitsland, sowat R324 (teen ’n wisselkoers van R14,72 per dollar bereken).

Hou ook jou oë oop vir goeie hotelpromosies (op webtuistes soos booking.com). In sekere gevalle kan jy tot 50% afslag kry as jy jou kamer al ses maande vooruit bespreek. Dié prys verander gewoonlik nie nadat jou plek klaar bespreek is nie.

Onthou: Kyk ook uit na gratis parkering as jy ’n motor huur en gratis Wi-Fi by jou blyplek. Dan kan jy met WhatsApp of e-pos vriende kontak en so op selfoonkoste bespaar.

“Roaming” is peperduur op jou foon omdat jou eie selfoonmaatskappy en die maatskappy waardeur dit in die ander land werk se tariewe gehef word.

Etes

As jy restaurante vermy en uit plaaslike supermarkte leef, sal dit beslis billiker wees. ’n Goeie idee is om net een groot maaltyd per dag te eet. As jy in ’n hotel bly, maak seker dat ontbyt by die prys ingesluit is.

Foto ter illustrasie: Pexels.

Hoe begroot jy?

Op die internet en in boeke soos Lonely Planet kan jy aanduidings kry oor wat kos en drinkgoed jou in spesifieke lande en stede uit die sak sal jaag volgens spesifieke bestedingsgroepe soos spaarsaam, gemiddeld, gemaklik en luuks.

Daar word selfs genoem of fooitjies aan taxibestuurders en kelners nodig is. Gebruik dié inligting om ’n geskatte begroting uit te werk vir vervoer, verblyf, kos, ontspanning, besienswaardighede en vermaak by jou bestemming.

Met die voorbereiding vir jou reis moet jy ook koste in gedagte hou vir dinge soos paspoorte, visums, internasionale rybewyse en reisversekering.

Maak ook seker jy begroot vir praktiese items soos rugsakke, ’n kragprop en nekkussing. Voorbeelde van sulke reisbegrotings is op webtuistes soos Pinterest.com beskikbaar.

Onvoorsiene uitgawes

Die slegste ding wat jou kan tref, is onvoorsiene mediese uitgawes of as jy besteel word. Vind by jou mediese fonds uit hoe jy daar gedek word en hoor by jou bank vir watter reisversekering jy outomaties kwalifiseer wanneer jy jou vliegkaartjie met jou kredietkaart koop.

In albei gevalle bied dit dikwels net ’n mate van dekking. Van jou besittings soos jou selfoon, horlosie en sonbril word dalk deur jou korttermynversekering gedek, maar maak by jou versekeraar seker daarvan. Jy kan ook afsonderlike reisversekering uitneem.

Die getalle

492 322: Soveel Suid-Afrikaners het in Julie vanjaar na die buiteland gereis.

291 941: Die meeste het die grens op land oorgesteek.

200 174 het gevlieg.

207 het per boot vertrek.

  • Bron: Statistieke Suid-Afrika, Toerisme en migrasie Julie 2018. September 2018 uitgereik.