Skuldadministrasie kan dalk jou redding wees, maar min mense weet regtig hoe dit werk. Inge van der Merwe, ’n geregistreerde skuldberader, en Mariana van den Berg van Dikoloto Administrators verduidelik die proses.

Wat is dit?

Dit behels die herstrukturering van jou skuld sodat jy oor ’n langer tydperk terugbetaal, maar jou maandelikse paaiemente word kleiner en dus bekostigbaarder.

Terwyl jy onder skuldadministrasie is, mag jou krediteure (die mense aan wie jy skuld) nie regstappe teen jou doen nie. Dis gewild onder mense wat nie meer die paaiemente op hul persoonlike lenings en kredietrekeninge kan bybring nie.

Maar onthou: Jou totale skuld moet minder as R50 000 wees om daarvoor in aanmerking te kom. Jy mag nie nuwe skuld maak, kredietkaarte gebruik of lenings aangaan terwyl jy onder administrasie is nie.

Stap vir stap

1.

Toon die bewyse van jou skuld en inkomste aan ’n skuldadministrateur. Die administrateur sal vir jou ’n plan met kleiner maandelikse paaiemente oor ’n langer betaaltydperk uitwerk. Onthou, jy sal nog altyd jou volle skuld moet vereffen. In ’n neutedop gaan ’n deel van jou maandelikse inkomste na die administrateur, wat dan jou skuldeisers namens jou betaal.

2.

As jy met die plan tevrede is, sal die skuldadministrateur namens jou ’n landdroshof vra om jou onder administrasie te plaas. Onthou, so ’n aansoek kos geld. Die koste word gegrond op jou getal kredietverskaffers en nie die totale skuldbedrag nie.

As jy byvoorbeeld minder as 10 krediteure het, sal jy dalk R129 betaal vir die administrateur om jou geldsake te bestudeer, jou plan op te stel en die aansoek te bring.

As jy meer as 10 krediteure het, word dié bedrag dalk R182. Sommige administrateurs is duurder as ander, en prokureurskoste vir die hofbevel kan ook wissel. Die aansoekfooi word gewoonlik nie vooraf betaal nie, maar word deel van die skuldafbetaling.

3.

Jou aansoek word bekragtig deur ’n hofbevel, wat ook die rente op al jou skuld verminder tot 15,5% per jaar. Die hof beslis dat ’n deel van jou inkomste na die administrateur gaan om skuldeisers te betaal en dat jy ’n deel behou vir basiese lewenskoste.

Jou werkgewer word gelas om die bedrag vir skuldbetaling regstreeks in die administrateur se trustrekening oor te betaal. Jy betaal die skuldadministrateur maandeliks, maar hy betaal jou krediteure elke drie maande.

’n Administrateur moet elke drie maande ’n staat opstel wat wys watter geld hy ontvang het, hoeveel aan eisers oorbetaal is en watter koste afgetrek is. Jy kan jou krediteure bel en vra of hulle die geld kry op dié staat, ’n sogenaamde distribusierekening.

Belangrik

Regtens mag administrateurs jou ’n fooi vra gelykstaande aan 12,5% van die bedrag wat hulle driemaandeliks aan jou krediteure betaal. Sommige vra ’n ekstra fooi om die oorbetalings te doen.

Hoe lank duur skuldadministrasie?

Dit hang af hoeveel skuld jy aan die begin het en wat jy maandeliks kan bekostig. Hoe langer dit duur, hoe meer sal jy betaal aan rente en administrateursfooie en hoe duurder word dit.

Ten einde die proses te staak voor die goedgekeurde skuldadministrasietydperk verby is, sal jy weer aansoek om ’n hofbevel moet doen.

Maar jy kan jou skuld vinniger delg deur meer as die minimum maandelikse bedrag aan die administrateur oor te betaal, byvoorbeeld wanneer jy ’n werkbonus kry.

Met die ekstra geld kan die administrateur ’n “volle en finale aanbod” op sekere van jou kredietooreenkomste maak. Skuldeisers verkies in baie gevalle liewer ’n kleiner bedrag wat dadelik betaal word as slegs vier paaiemente wat in die loop van die jaar betaal word.

Oppas hiervoor

Skuldadministrateurs moet geregistreer wees binne die landdrosdistrik waarin hulle werk, maar word nie deur die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) gereguleer nie.

Dit beteken sommige jakkalse vra meer as die wettige fooi van 12,5%. Maak seker alles is op skrif en wettig voor jy enigiets onderteken. Vra jou landdroshof watter skuldadministrateurs geregistreer is en ’n goeie reputasie het.

Wenk

  • Jy kan ’n skuldberader of finansiële adviseur (www.fpi.co.za en www.fia.org.za) vra om hulp om jou begroting te bestuur – dis dalk al wat nodig is.

SA verbruikers en skuld

60%
Soveel skuld is persoonlike lenings
50%
Soveel se skuld is agterstallig

Bron: Debtsafe Debtcycle Survey, Oktober 2017

Kry hier nog hulp

  • Besoek die NKR se webtuiste vir skuldberaders wat jou oor die beste opsie kan adviseer: skuldberading, -administrasie of sekwestrasie.
Stuur jou voorstelle/ versoeke
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.