Maak dadelik ’n plan. Onthou: Liewer laat as nooit. 

Maak ’n kopskuif oor aftree

Baie mense tree op 60 of 65 af omdat hul indiensnemingskontrak dit so bepaal. Maar wat keer jou om aan te hou met werk en geld verdien?

Danksy die mediese wetenskap en beter leefstyle is baie mense in hul 60’s deesdae gesonder as wat byvoorbeeld 50 jaar gelede die geval was. As jy nie langer by jou werk mag aanbly nie, moet jy alternatiewe inkomsteplanne maak.

Kyk byvoorbeeld hoe jou vaardighede nog gebruik kan word vir deeltydse werk as vryskut of konsultant.

Om aan te hou geld verdien het twee voordele: Jy hoef nie dadelik van jou bestaande neseier te begin leef nie, en jy kan daardie neseier vergroot.

Pas jou leefstyl aan

Probeer om jou maandelikse besteding te verlaag sodat jy meer kan spaar of skuld kan delg. Die goue reël is om af te skaal op luukshede. Kry byvoorbeeld ’n goedkoper motor en belê die geld wat jy op die motorpaaiemente bespaar.

Jy het dalk nie meer kinders in die huis nie en kan dit dus oorweeg om ’n kleiner en goedkoper woonplek te koop – een wat jou ook minder aan onderhoud sal kos. Sodoende sal jy meer geld kan wegsit.

Onthou: Elke bietjie help. As jy byvoorbeeld vyf jaar lank elke maand R500 wegsit teen 7% rente, sal jy ná vyf jaar sowat R35 800 spaar. Ná ses jaar sal die spaarbedrag sowat R44 530 beloop.

Stel jou eie welvaart eerste

In die meeste gevalle is dit nou belangriker om vir aftrede te spaar as om jou geld te gebruik om vir jou kind se naskoolse opleiding te betaal.

Jou kinders het in hierdie stadium waarskynlik meer opsies en geleenthede as jy. Jy kan nie vir aftrede geld leen of ’n pensioenarisbeurs kry nie, maar jou kind kan wel ’n studielening kry of vir ’n beurs aansoek doen.

Boonop het hulle tyd om dit af te betaal en vroegtydig vir hul eie aftrede te begin spaar. Jy het egter nie.

Kry goeie en professionele hulp

Jou buurman, neef of hengelmaat se geldraad is nie noodwendig die beste nie. Navorsing van Old Mutual wys dat mense wat professionele finansiële raad kry hul aftree-inkomste met tot 31% verbeter.

Diegene wat nie professionele raad kry nie, vaar slegter. Die finansiële beplanner kan uitwerk hoeveel geld jy sal nodig hê, hoeveel jy tekort skiet en watter planne gemaak kan word om die gaping te vul.

Kyk op die webtuiste van die Instituut vir Finansiële Beplanners vir inligting oor onafhanklike, geakkrediteerde adviseurs.

Spaar minder konserwatief

Dit kan ’n fout wees om jou aftreeneseier so te beskerm dat jy geen beleggingsgroei kry nie. Jare gelede was die neiging dat jy meer konserwatief (byvoorbeeld in geldmarkfondse) moet belê hoe nader jy aan jou aftrede is.

Daar is deesdae ’n groot verskeidenheid beleggingsmoontlikhede wat jou meer risiko’s kan laat neem, soos effektetrusts wat onderliggend in aandele belê, maar wat nie te erg riskant is nie.

Vra eerder ’n finansiële beplanner se raad om die regte belegging te kies sodat jy die beste groei vir jou omstandighede kry. Vergelyk die fooie en opbrengs van die beleggings.

Tref voorsorg vir ’n egskeiding

Het jy nou skeiplanne? Dit kan ’n hap uit jou neseier vat. Ingevolge die wet is die gewese man of vrou wat nie lid is van ’n pensioenfonds nie geregtig op ’n deel van die lid se aftreegeld.

Dié deel word deur die egskeidingsbevel bepaal. As jou eggenoot met die helfte van jou aftreegeld die pad vat, sal jy beslis jou spaarplanne vir jou oudag moet aanpas om meer te spaar.

Vermy vinnigrykword-skemas

Mense wat reeds afgetree of na aan aftrede is, wil uiteraard graag soveel geld moontlik vir hul oudag hê – en juis daarom is hulle sagte teikens vir skelms wat sogenaamde Ponzi-skemas smous.

So byvoorbeeld het die goedgelowige slagoffers van die Krion-skema dermiljoene rande verloor.

As iemand jou nader oor ’n skema waarvan die beloofde opbrengste uitsonderlik goed is – en baie hoër as die opbrengste uit wettige spaar- en beleggingsprodukte – moet die gevaarligte vir jou flikker.

  • 46% van Suid-Afrikaners wat ekonomies aktief is, het nie ’n aftreespaarplan nie. (Bron: Suid-Afrikaanse Aftrederealiteitsverslag 2019)
Kry hier hulp
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.