O, die pyngedagte! Daardie pieng van jou selfoon in die dae voor 1 April met boodskappe van jou diensverskaffers wat jou waarsku jy gaan meer betaal vir omtrent alles wanneer belasting op toegevoegde waarde (BTW) met 1% verhoog word.

Dit is die eerste keer sedert demokrasie in Suid-Afrika dat BTW styg, van 14 tot 15%.

Die rede vir die styging is die regering se geskarrel om R23 miljard in die hande te kry om sy skuld aan die Wêreldbank te delg. Dit beteken die prys van die meeste produkte wat ons eet en drink, het ook verhoog, wat kontant-arm verbruikers net verder wurg elke keer wanneer hulle ’n supermark binnegaan. Vervoer gaan ook meer kos.

Hoewel BTW nie op openbare vervoer van toepassing is nie, geld dit wel vir petrol, en omdat petrol meer kos, sal vervoerpryse ook styg.

Die BTW-styging, wat die armes die hardste tref, het heelwat kritiek gekry. Die ekonoom Mike Schussler sê die regering het ander inkomstebronne soos inkomste- en maatskappybelasting reeds uitgeput.

“BTW is een van die ‘makliker’ bronne van inkomste omdat dit belasting is wat gehef word op produkte wat deur die groot publiek verbruik word,” sê hy.

“Die probleem is ons toon swak ekonomiese groei en die regering kan nie besteding kortvat nie.”

Rob van der Westhuizen, ’n marknavorser by die kredietburo Compuscan, sê die 1%-styging sal ’n verwoestende uitwerking op ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking hê.

Weens die huidige ekonomiese klimaat, hoë armoedevlakke en werkloosheid sal die styging ’n groot impak op talle huishoudelike begrotings hê,” sê hy.

Die tyd het aangebreek om slimmer as ooit tevore met jou rande te wees.

WAT IS VAN BTW VRYGESTEL?

  • Die regering het 19 basiese voedselsoorte van BTW onthef.
  • BTW word nie gehef nie op niefooi-verwante finansiële dienste soos rente, lewensversekeringspremies, premies van mediese skemas en bydraes aan pensioen- en aftreeannuïteitsfondse. BTW word wel op diensfooie gehef; daarom het jou bankfooie byvoorbeeld gestyg.
  • Opvoedkundige dienste wat deur die staat of goedgekeurde instansies verskaf word, is ook BTW-vry. Dit beteken fooie van alle geregistreerde kleuterskole, skole, naskoolse dienste, universiteite en skole sal nie styg nie.
  • Residensiële huurverblyf is BTW-vry. As jou verhuurder dus jou huur met 1% wil verhoog, kan jy sê dit is onwettig. Vakansiehuurverblyf is nie onthef nie. Dit sal met 1% styg omdat dit ’n diens is wat deur ’n derde party verskaf word. En as jy ’n eiendomsagentskap het wat eiendom verhuur of verkoop, sal jy BTW moet betaal, sê Mike. As jy dus ’n kamer in jou huis verhuur, betaal jy nie belasting op die inkomste nie, maar as jy ’n eiendomsagentskap het of ’n verhurings- of verkoopsagent is, betaal jy belasting op jou eiendomsagentskap as maatskappybelasting.  

HOE OORLEEF ’N MENS?

Koop slim

Dink anders oor die inhoud van jou yskas en koskaste, sê Sonelle van der Linde van die Vereniging van Dieetkundiges in Suid-Afrika.

Vleis en hoender was dalk nog altyd jou hoofbronne van proteïen, maar sommige kos op die BTW-vrye lys kan ook genoeg proteïen aan jou gesin verskaf en dit boonop vir minder geld.

Eiers, droë bone, ertjies, kekerertjies, soja en sardyne bevat alles heelwat proteïen. Grondboontjies is nie BTW-vry nie, maar is ook ’n bekostigbare bron van proteïen, sê sy.

“Fokus op ander BTW-vrye voedsel soos groente en vrugte en bruinbrood.

"Wat mieliemeel betref, stipuleer die regering dit moet verryk wees; dus sal jy belangrike voedingstowwe soos vitamien A, yster en sink inkry as jy dié stapelvoedsel by jou dieet insluit.

“Die regering hou gesonde, belangrike kosse BTW-vry om mense aan te moedig om dit te koop. Dit is ’n uiters goeie gebaar van hul kant,” sê Sonelle.

Kies slim

  • ’n Witbrood kos R1 meer as ’n BTW-vrye bruinbrood.
  • ’n Blikkie tuna van 119 g kos R19, teenoor ’n blikkie sardyne in tamatiesous van 155 g wat R9 kos. 
  • ’n 410 g-blikkie gebakte bone in tamatiesous kos R8,99, terwyl 500 g droë bone R14,99 kos, maar jy kan verder daarmee kom as met die een blikkie bone.

Kook slim

Vier 400 g-blikkies sardyne teen R16,99 elk (saam R84,95) kos minder as 1 kg maalvleis (sowat R92,99). Jy kan meer maaltye met 2 kg sardyne maak as met 1 kg maalvleis, sê Sonelle. Sardyne is heerlik in pasteie en pasta en is vol proteïen en gesonde vette.

As jou gesin lus is vir vleis, rek 500 g maalvleis met bone, lensies en groente.

  • Let wel: Al die bogenoemde pryse was by benadering korrek teen druktyd.

NOG MANIERE OM TE SPAAR

  • As jy regtig sukkel om jou rekenings te betaal, kyk na dinge soos jou DStv-pakket, sê Rob van der Westhuizen van die kredietburo Compuscan. Verruil die volle boeket, wat meer as R800 kos, vir die goedkoper DStv-gesinsboeket, wat R249 per maand kos. Jy het steeds toegang tot 75 kanale en spaar meer as R500 per maand.
  • Kies ’n goedkoper gimpakket. Virgin Active-klubs, byvoorbeeld, bied goedkoper maandelikse pakkette as jy buite piektye oefen of net by die gim naaste aan jou oefen en nie die pakket vat wat jou toelaat om by al hul gims te oefen nie. Tariewe wissel van R225 vir beperkte lidmaatskap tot R900 vir volle toegang.
  • Bekyk jou selfoonkontrak. As jy nie al die data gebruik nie, praat met jou diensverskaffer oor ’n goedkoper pakket.
    Oorweeg dit om jou kontrak te kanselleer wanneer dit tyd word vir vernuwing en kies die “pay as you go-” opsie. Jy sal meer beheer hê oor wat jy bestee.
    En moenie die duurste foon kies wanneer dit tyd is vir ’n opgradering nie, veral nie as jou “ou” foon nog goed werk nie. Talle diensverskaffers sal jou betalings verlaag as jy jou ou foon hou terwyl jy ’n kontrak by hulle het. 
Wat is BTW?

Belasting op toegevoegde waarde raak alle ware en dienste wat nie op die BTW-vrye lys is nie. Die belasting gaan regstreeks na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

BTW word op ’n produk gehef wanneer waarde by die verkooppunt daaraan toegevoeg word.

Die stelsel word in 160 lande gebruik en is in 1991 in Suid-Afrika ingestel om algemene verkoopbelasting te vervang.

Suikerbelasting

Suikerbelasting is ook op 1 April op drankies ingestel in ’n poging om vetsug hok te slaan en behels 2,1 c per gram suiker per 100 ml. Dié belasting het ’n impak op alle drankies van niealkoholiese bier en vonkelwyn tot warmsjokolade en koeldrank. Dit geld net vir drankies.

“Die belasting sal tot ’n geskatte vermindering in verbruik van 200 000 t suiker per jaar lei,” sê Priya Seetal, voedingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging.

“Produsente sal die hoeveelheid suiker wat hulle by hul produkte voeg, moet verklaar en belasting hierop betaal. ’n Maatskappy wat suikerdrankies invoer, sal ook belasting op daardie suiker moet betaal.”

Die deursneeblikkie koeldrank sal jou nou 46c meer kos, sê sy. 

EKSTRA BRONNE: NETWERK24, STATISTICS SA, MONEYWEB
Foto's: Gallo Images/Getty Images