Dan kry jy die idee om dit op ’n webtuiste te koop aan te bied. Maar min van ons besef daar is reëls oor wat jy as privaat verkoper op ’n handelswebtuiste mag adverteer en wat nie. 

As jy onwettig of oneties aanlyn wil smous, kan jou advertensie deur die administreerders van die webtuiste afgekeur word en kan jy die advertensiefooi verbeur wat jy dalk reeds betaal het. Jy kan selfs vervolg word.

Onthou: Geregistreerde handelaars in byvoorbeeld vuurwapens, drank en troeteldiere gebruik bepaalde kommersiële aanlyn markte. Ons kyk vandag net na wat jy as Jan en alleman nie op algemene handelswebtuistes mag adverteer nie.

Dié items en optrede is gewoonlik taboe

1. Dinge waarmee jy mense kan seermaak

 Enigiets van vuurwapens tot messe, pepersproei, Paintball-­gewere, skokstokke of kruisboë word gewoonlik op algemene webtuistes verbied. Dit sluit wapentydskrifte en wapenverwante produkte soos ammunisie in. Om wapens aanlyn te verkoop, moet jy ’n geregistreerde handelaar wees wat dit op gespesia­liseerde webtuistes verkoop. 

2. Vakansiepunte wat jy nie kan gebruik nie

Jy moet liewer direk die tyddeelmaatskappy kontak as jy vakansiepunte wil uitruil of verkoop. Vakansiepunte, soos tyddeel- of klubpunte, word in die algemeen nie toegelaat nie.

3. Alles op vier pote of met vlerke

Facebook Marketplace verbied die verkoop of uitruil van enige troeteldiere. Gumtree het streng vereistes: 

  • Geen gratis diere nie. 
  • Honde en katte te koop moet minstens agt weke oud wees en die geboortedatum moet in die advertensie verskyn.
  • Knaagdiere soos hase en rotte het minimum ouderdomme voor hulle verkoop mag word. 
  • Alle voëls moet reeds selfver­sorgend wees en die advertensie moet dit spesifiseer. 
  • Sekere honderasse mag nie geadverteer word nie: boerboele, Amerikaanse veghonde, rott­weilers, staffordshireterriërs en varkhonde. Advertensies vir Russiese bloukatte is taboe. 
  • Skaars en eksotiese voëlsoorte soos African Grey-papegaaie en voëls wat permitte benodig, mag ook nie geadverteer word nie.
  • Ook nie apies of donkies, en muise as troeteldierkos, nie. 

4. Maermaakdoepas

Die advertensies mag nie foto’s of prente daarby gebruik wat misleidende resultate uitbeeld nie. Facebook Marketplace sê jy mag nie “voor” en “ná”-foto’s opsit nie (soos iemand wie se boepmaag in ’n blokkiesmaag omgetower word). Om ’n negatiewe selfbeeld te gebruik om jou dieetproduk te bemark (“Drink ons verslankings­tee en hou op sleg voel in jou baaikostuum”) is verbode.

5. Pille, brille en ander gesondheids­produkte

Sorg dat jy die betrokke handelswebtuiste se reëls eers sorgvuldig lees. Advertensies vir medikasie, aanvullings, koors­penne, noodhulpstelle, kontaklense en enige mediese toestelle sal waarskynlik afgehaal word. 

6. Enigiets wat jy kan rook 

Die verkoop van tabak- en rookverwante produkte – of dit nou pyptwak, sigarette, sigaretpapiertjies, verdampers, borrelpype of e-sigarette is, alles is in die algemeen verbode. Lees eers die webtuiste se fynskrif.  

7. Kaartjies vir enigiets onder die son 

Die verkoop van kaartjies vir sportwedstryde, feeste of konserte word streng gereguleer.

Die herverkoop van kaartjies vir die 2019-Krieketwêreldbeker was byvoorbeeld verbode. 

Gumtree eis dat ’n mens aandui presies wat jy vir kaartjies betaal het, want jy mag dit nie vir duurder of goedkoper daar adverteer nie. Ander aanlyn markte kan vra dat jy hulle kontak vir toestemming as jy enige kaartjies wil ver

koop – dit sluit selfs vlieg- of treinkaartjies in.

8. Moenie kanse vat met dobbeldinge nie 

Jy mag nie loterykaartjies, muntmasjiene of aanlyn dobbelspeletjies adverteer nie. 

9. Drink maar self jou tiermelk 

Jy mag nie alkohol adverteer nie, selfs al is dit wyn of whiskey wat versamelwaarde het. 

10. Geen diskriminasie word geduld nie 

Advertensies mag nie voorskriftelik wees oor kopers se ras, nasionaliteit, geloof, ouderdom, geslag of seksuele oriëntasie nie. Webtuistes verbied ook enig­iets wat geweld, haat en rasse- of godsdienste vooroordeel aanvuur. 

Wat kan gebeur? 

Aanlyn markte het almal soek­enjins wat deurentyd advertensies vir verbode items nagaan. Jou advertensie sal verwyder word as dit gebeur. Jy kan jou advertensiefooi verbeur wat jy reeds betaal het.

As jy gereeld oortree, kan die webtuiste jou blokkeer. As jy onwettig optree, kan die webwerf die inligting aan die polisie gee vir vervolging. 

R61,9 miljard

Die geraamde waarde van aanlyn aankope in Suid-Afrika teen 2020. 

Bron: Paypal/ Ipsos se e-handelverslag vir 2018

Kry hier nog raad

Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.