Baie mense verkies om hul motor in te ruil pleks van dit privaat te verkoop en dan ’n nuwe een aan te skaf. 

Maar jou tydsberekening moet reg wees om geldelik soveel moontlik uit die inruiltransaksie baat te vind. 

En anders as wat baie mense dink, is die beste tyd nie noodwendig wanneer jou kar nog baie nuut is nie. 

As jy oorhaastig is, kan jy jou misreken – al wil jy jou huidige motor vir ’n goedkoper model inruil. 

Ons kyk na watter bepalings jy in ag moet neem wat betref die regte tyd om jou motor in te ruil.

1. WAT IS DIE INRUILWAARDE

Stel dit eerste vas. Die inruilwaarde is nie dieselfde as die pryse vir soortgelyke gebruikte modelle as joune wat jy in vertoonlokale of op webtuistes sien nie. 

Daardie pryse sluit gewoonlik die handelaar se wins in, asook enige werk wat hy moes doen, byvoorbeeld verfwerk of die vervanging van onderdele. 

Jy moet bepaal wat die handelsprys, oftewel “boekwaarde”, is. 

Dis die gemiddelde prys wat groothandelaars vir gebruikte voertuie betaal. 

STEL DIE BOEKWAARDE SO VAS

Kry aanlyn by TransUnion ’n sogenaamde Car Value Report, wat jou ’n aanduiding gee van die huidige markwaarde as jy dit sou verkoop. TransUnion kry elke maand inligting van handelaars van oor die hele land en dié data word deur bedryfspesialiste ontleed. Dit kos tans R25 per verslag. 

Bel self ’n paar handelaars. Hulle kan jou ’n skatting gee, maar moet eers die motor sien om jou ’n aanbod te kan maak. 

Besoek handelaars sodat hulle die algemene toestand van jou motor kan sien en of daar enige herstelwerk gedoen is. 

Sekere finansierders en versekeringsmaatskappye het aanlyn geriewe waarmee jy self jou voertuigwaarde kan bereken. Maar dit gee jou net ’n beraming.

As jy die motor teen die beste prys wil inruil, sal die volgende in jou guns tel: min kilometers; ’n volledige diensrekord deur geakkrediteerde diensverskaffers; ’n ongelukvrye rekord; S’n geldige onderhoudskontrak; die beskikbaarheid van die hoof- en spaarsleutel; en Senige herstelwerk deur geakkrediteerde diensverskaffers.

2. DIE BESTE TYD OM IN TE RUIL

Die waarde van ’n nuwe motor daal gewoonlik in die eerste 18 maande teen ’n vinniger koers as wat die eienaar die lening afbetaal. 

Die beste tyd om ’n voertuig in te ruil is wanneer sy ruilwaarde dieselfde is as die bedrag wat jy nog op die motor skuld, sê Ghana Msibi van WesBank. Dit word die gelykbreekpunt genoem. 

As jou motor se ruilwaarde byvoorbeeld R150 000 is, maar jy skuld die bank R200 000, moet jy nog R50 000 op jou lening inbetaal. 

Moet dus liefs nie jou kar inruil as jy meer skuld as wat dit werd is nie. 

Maar as die waarde en skuld omtrent dieselfde is, hoef jy niks of min op jou kar in te betaal as jy dit vir ’n nuwe inruil. Die meeste motorlenings word vir 72 maande (ses jaar) aangegaan. 

Dan word die gelykbreekpunt gewoonlik ná tussen 24 en 36 maande bereik, sê Ghana. 

Die gelykbreekpunt kan ook deur ander faktore beïnvloed word soos die grootte van die deposito (hoe groter, hoe vinniger sal dié punt bereik word) en oorgeslaande betalings (dan neem dit langer om die gelykbreekpunt te bereik). 

Lang kontrakte en ballonbetalings sal die gelykbreekpunt outomaties uitstoot, en jy sal langer moet wag voor jy ’n nuwe motor kan koop. 


3. INRUILONDERSTEUNING

Jy kan ’n goeie kopie kry deur bemarkingsaansporings wat vervaardigers deur hul handelaars bied. 

Hulle gee jou byvoorbeeld ’n bepaalde afslag op ’n nuwe motor as jy die oue daarvoor inruil. 

Dit sal jou uitstaande saldo op die motor wat jy wil inruil, vereffen of verminder. 

Dit sal onder meer afhang van die waarde van die nuwe kar en jou kar. 

Handelaars doen dit om mense aan te moedig om hul motors in te ruil. 

Maar vra eers ander handelaars of hulle iets soortgelyks bied en kies dan die gunstigste opsie.

37%

Die persentasie nuwe en gebruikte voertuie onder R200 000 wat in die vierde kwartaal van 2018 gefinansier is. 

R200 000 - R300 000

Die basislynprys van nuwe voertuie in Suid-Afrika. 

Bron: TransUnion-Voertuigprysindeksverslag, vierde kwartaal 2018

Wenk
As dit nog lank is voor jy by die gelykbreekpunt kom, kan jy dit gouer bereik deur ekstra inbetalings te doen. Sodoende verkort jy die leningstydperk.