Die feestyd en talle partytjies lê voor. Moenie te veel drink nie. Nie net is dronkbestuur onwettig nie; as jy gedrink het en ’n ongeluk maak, gaan jou versekering dalk nie uitbetaal nie.

Boonop het alkoholmisbruik ’n uitwerking op jou langtermynversekering. Kom ons kyk wat gebeur met jou versekering as jy te veel drink.

Voertuigversekering

Geen uitbetalings

As jy dronk bestuur, tree jy onwettig op; daarom is die versekeraar nie verplig om jou voertuigeis te betaal nie. As jy die wettige alkoholperk net ’n bietjie oorskry, bestuur en dan in ’n botsing betrokke is, hoef die versekering nie jou eis te dek nie.

Jy sal dalk al die herstelkoste vir jou eie voertuig moet dra en kan aanspreeklik gehou word vir die skade aan die ander voertuig.

Selfs al is die ongeluk nie jou skuld nie. Dit geld ook vir jou derdepartyversekering, sê Dawie Loots van MUA Insurance Acceptances.

Al het jy dus versekering om die skade aan die ander voertuig te dek, hoef jou versekering nie daarvoor te betaal nie. Jy sal dalk al die herstelkoste vir jou eie voertuig moet dra en kan aanspreeklik gehou word vir die skade aan die ander voertuig.

Boonop kan jy verantwoordelik gehou word vir regskoste en jou en die ander party se mediese onkoste. 

Hoër premies

As die versekeraar wel besluit om jou eis te dek, kan hulle daarna jou maandelikse premie verhoog omdat jy weens die dronkbestuurvoorval ’n hoër versekeringsrisiko inhou. 

Kansellasie

As jy aan dronkbestuur skuldig bevind word, kan jou versekeringsmaatskappy jou dekking kanselleer, sê Dawie. In sulke gevalle is dit moeilik om weer by ander versekeraars voertuigversekering te kry. 

Weet dit

Dit is nie die versekeraar wat die bloedtoetse doen om te kyk of jy die perk oorskry nie. Die polisie behartig dit, en as jy weier, is dit ’n kriminele oortreding. Moet ook nie dink jy kan op die Padongelukkefonds staatmaak vir ’n uitbetaling nie. Dié fonds kan weier om vir ’n dronkbestuurongeluk uit te betaal.

Lewensversekering

As jy dronk bestuur en sterf

As die polishouer doodgaan terwyl hy onder die invloed van alkohol of dwelms ’n voertuig bestuur het, het hy steeds onwettig bestuur.

Foto ter illustrasie: Foto: defense.gov

Weer is daar geen verpligting dat die lewensversekeraar die eis moet dek nie en die polishouer se begunstigdes sal nie ’n uitbetaling kry nie. Daar moet egter ’n direkte verband wees tussen die invloed van drank of dwelms en of die ongeluk die versekerde se skuld was.

Weet dit

Mense wat baie alkohol gebruik, betaal ’n hoër premie vir hul lewensversekering omdat hulle meer gesondheidsrisiko’s inhou as hul eweknieë wat minder drink.

Dit word as skadelike of riskante drankgebruik geklassifiseer as jy ses of meer eenhede drank per dag inneem.

As jy ’n lewenspolis uitneem, sal die versekeraar vra hoeveel jy drink en wat jou drankgebruik in die verlede was.

Dr. Thabani Nkwanyana, mediese beampte van Liberty Life, sê dit word as skadelike of riskante drankgebruik geklassifiseer as jy ses of meer eenhede drank per dag inneem, soos wat dit ook deur die Wêreldgesondheidsorganisasie voorgeskryf word.

Een bier of een glas wyn is een eenheid. Elke mens se risiko word individueel beoordeel en hul premie daarvolgens bereken.

Thabani sê as iemand byvoorbeeld ’n geskiedenis van alkohol- of dwelmafhanklikheid of reeds ’n lewersiekte het, kan die versekeraar toetse aanvra soos lewerwerkingstoetse, -biopsies of -skanderings om die skade aan die orgaan te bepaal.

Die premiekoers sal dan afhang van enige skade wat deur die toetse getoon word, en hoe groot die skade is. Ernstige lewerskade kan selfs beteken dat jou aansoek om lewensdekking misluk, of jy kan dekking kry, maar sterfte weens alkoholverwante siektes word uitgesluit.

Moenie jok nie

As jy verkeerde of onvolledige inligting op jou versekeringsaansoekvorm verskaf, word dit nie-openbaarmaking of wanvoorstelling genoem. Dit is een van die algemeenste redes hoekom eise nie uitbetaal nie.

Die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika se syfers wys lewensversekeraars het verlede jaar R332 miljoen se eise verwerp, en 55,3% daarvan was weens nie-openbaarmaking.

Volle openbaarmaking is wanneer jy al die inligting verskaf. Dit handel onder meer oor jou leefstyl, gesondheidstoestand en mediese geskiedenis.

Interessante feite

11

Dit is die gemiddelde getal liter alkohol wat per jaar per mens in Suid-Afrika gedrink word deur mense ouer as 15 (2008-2010). Dit is die hoogste syfer in Afrika, gevolg deur Gaboen (10,9 L) en Namibië (10,8 L). 

0,05 g

per 100 ml – dit is die mak­simum wetlike konsentrasievlak van alkohol in bloed. Jy mag nie dié bloedalkoholvlak oorskry as jy bestuur nie. Dit kan beteken as jy meer as 330 ml bier of ’n glas wyn of dalk meer as ’n enkelsopie brandewyn inhet, is jy dalk oor die limiet.

50%

Dis hoeveel mense wat op Suid-Afrikaanse paaie sterf die perk van 0,05 g per 100 ml oorskry.

Kry hier nog hulp

Bronne: Wêreldgesondheidsorganisasie (2014-verslag), www.arrivealive.co.za

Praat met ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.