Met skool en studie agter die rug verdien jy eindelik jou eie salaris en kan jy stappe begin doen om jou welvaart te bou sodat die toekoms rooskleu­riger sal wees. Maar die verskeidenheid opsies en dienste wat beskikbaar is in die finan­siële en spaarbedryf kan verwarrend wees – selfs as jy professionele raad inwin.

Ghana Msibi, uitvoerende hoof van verkope en bemarking: Wesbank

My raad is om vroeg te begin spaar: ’n Biet­jie word mettertyd baie. Dis die een belangrike finansiële dissipline wat nie uitgestel moet word nie.

Ons almal wil graag gemaklik lewe. Maar hóé gemaklik hang af van ons vermoë om die beste balans te kry tussen wat ons verdien, wat ons bestee en hoeveel oorbly.

Prioritiseer en beplan jou aankope. Die geld wat jy aan onnodige uitgawes soos vermaak of onnodige klere bestee, kan jy liewer gebruik vir iets wat ’n werklike verskil in jou lewe maak, byvoorbeeld ’n nuwe voertuig.

Tristan Naidoo, van die persoonlikefinansies-­afdeling: Old Mutual

Dink oor hoe jy ná jou aftrede wil lewe. Om dit te bereik, sal jy ’n finansiële plan benodig wat jou sal help om verskillende spaarmylpale met die verloop van tyd te bereik.

Elke mens se finansiële situasie is uniek, en dit kan dalk oorweldigend klink om alle faktore in berekening te bring, veral as jy net begin werk of nie ’n kundige is nie.

Dit is dus belangrik dat jy ’n geakkrediteerde finansiële beplanner se hulp inspan.

Hulle beskik oor die kundigheid om jou te help om so ’n plan op te stel en jou op koers te hou sodat jy jou aftreedoelwit kan bereik.

Jeanette Marais, adjunk- uitvoerende hoof: MMI Holdings

Leer jou kinders om te spaar die oomblik dat hulle geld begin kry as verjaardag­geskenk. Daardie gewoonte sal ’n durende verskil in hul lewe maak.

Moet ook nooit dink ’n bedrag is te klein nie. Met die hulp van saamgestelde rente word R100 weldra R1 000, wat weer R10 000 en eindelik ’n miljoen kan word.

As jy saamgestelde rente gebruik, sal dit net tot jou voordeel wees. Maar dis tot jou nadeel as jy skuld het. Spaar vir iets pleks van dit op skuld koop, want skuld maak dit ’n baie duur koop.

Dhashni Naidoo, programbestuurder: FNB-verbruikers­opvoeding

As jy wil spaar, moet dit ’n noodsaaklike deel van jou begroting word. Elke mens moet ’n begroting hê, want dit help jou om te sien waar uitgawes verminder kan word.

Dis belangrik om tussen jou behoeftes en begeertes te onderskei. Met ander woorde, watter uitgawes is noodsaaklik en watter nie? Sodra jy jou onnodige uitgawes identifiseer, besnoei dit en gebruik eerder dié geld om skuld te betaal. Sodra jy die skuld gedelg het, kan jy daardie geld begin spaar.

As jy regtig waarde uit jou spaargeld wil kry, sal jy konsekwent moet spaar. Dit beteken jy moet ook vir spaargeld begroot.  

Mandy Waddington, hoof van bemarking: ooba

Moenie die eerste huislening aanvaar nie – kyk rond watter bank jou die gunstigste ooreenkoms gee.

Die meeste mense kry verskeie kwotasies vir motorversekering, maar wat huislenings betref, kry hulle net een “kwotasie” van hul bank en aanvaar blindelings die rentekoers en bepalings wat aangebied word.

Dis in jou belang om kwotasies van ver­skeie banke te kry. Huisleningsvergelykingsdienste kan jou help om dit met mekaar te vergelyk. ’n Gunstiger huislening kan jou meer besteebare inkomste gee wat jy vir ander noodsaaklikhede of spaargeld kan aanwend.

Henk Appelo, beleggingspesialis: Liberty

Dis nooit te laat of te vroeg om vir jou toekoms te beplan nie. Betaal jouself altyd eerste deur geld vir jou aftrede weg te sit. Onthou: Wie nie waag nie, wen nie. Moenie bang wees vir risiko in beleggings nie; probeer dit eerder verstaan, en kry raad van kundiges om jou geld vir jou te laat werk.

Hou ook jou spaar- en beleggingsdoelwitte in gedagte wanneer jy na jou spaarbeplanning kyk, want jou langtermynstrategie moenie verander word weens wisselvalligheid op kort termyn nie, byvoorbeeld wanneer die aandelemark afswaai.

Kry hier nog raad


Kom neem deel aan die gesprek