Ons kyk vandeesweek na vyf aftrekkings en onder watter omstandighede dit toelaatbaar is.

1. PERSOONLIKE EN STUDIELENINGS

Jou werkgewers kan dit aanbied, maar net van jou salaris verhaal as jy instem. Dit is baie belangrik dat die bedrae en terugbetalingsvoorwaardes baie duidelik aan jou uitgestippel word en dat jy en jou werkgewer ooreenkom daaroor.

Jy as werknemer moet skriftelik teken dat jy die bedrag verskuldig is en ook toestemming gee dat dit van jou salaris afgetrek word.

2. VERLIES EN SKADE

Terugbetaling vir verlies of skade wat ’n werknemer veroorsaak, kan nie sommer afgetrek word nie. Dit kan net gebeur wanneer die verlies of skade plaasvind terwyl die werknemer in diens is, en dit moet sy skuld wees.

Dis byvoorbeeld vir skade wat ’n werknemer opsetlik of nalatig veroorsaak aan die werkgewer se voertuie, produkte of toerusting.

Dit moet ook aan die volgende vereistes voldoen:

  • Die werknemer moet skriftelik toestemming gee dat die geld afgetrek word.
  • Die werkgewer moet ’n presiese bedrag in die skriftelike ooreenkoms uitstippel.
  • Die totale bedrag wat die werkgewer aftrek, mag nie meer wees as die bedrag van die werklike verlies of skade nie. Die totale aftrekkings van die werknemer se vergoeding mag nie ’n kwart (25%) van sy salaris oorskry nie.
  • Die werkgewer moet ’n billike prosedure volg (soos ’n verhoor) om die werknemer se skuld vas te stel. Die werknemer moet kans kry om te sê waarom die aftrekkings nie moet gebeur nie.

Wat is billike prosedures? Volgens die Wet op Arbeidsverhoudings is dit ’n billike prosedure wanneer:

  • Die werkgewer die werknemer in kennis stel van die bewerings, met ’n vorm en in ’n taal wat die werknemer redelikerwys kan verstaan.
  • Die werknemer kans kry om sy of haar kant te stel.
  • Die werknemer geregtig is op ’n redelike tyd om die antwoord voor te berei (minstens 48 uur) en op die hulp van ’n vakbondverteenwoordiger of medewerker. Geld vir verlies of skade mag dus nie afgetrek word as die werknemer nie ingestem het daartoe of as dit betwis word nie.
  • Werkgewers mag ook nie boetes as straf oplê vir beweerde wangedrag nie.

3. WETTIGE AFTREKKINGS

Dit is byvoorbeeld wettig om jou bydraes tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), belasting- en vakbondgelde af te trek. Ander wettige aftrekkings is mediesefonds- en aftreefondsbydraes, mits dit in jou werkkontrak ingesluit is.

Die werkgewer betaal dan hierdie bedrae oor aan die onderskeie fondse.

4. LOONBESLAGLEGGING

Loonbeslagleggingsbevele word deur die hof toegestaan as ’n werknemer nie sy maandelikse betalings aan ’n skuldeiser nakom nie.

Dit is wanneer die skuldeiser jou reeds gedagvaar het om te betaal, maar jy doen dit steeds nie. Die hof moet oorweeg of loonbeslaglegging billik en regverdig is en of die bedrag gepas is. Dus moet die hof na jou finansies kyk en besluit watter bedrag jy kan bekostig om te betaal.

WENK: As daar ’n loonbeslaglegging teen jou as werknemer is, mag jou werkgewer kommissie vir administrasiefooie van die skuldbetaling aftrek. Maar hierdie aftrekking moet deel wees van die bedrag wat afgetrek moet word en nie ekstra uit jou salaris nie.

Daarna moet jy as werknemer instem dat die bedrag van jou salaris verhaal word. Die werknemer of werkgewer kan die hof wat die bevel uitgereik het, nader om die geldigheid van die bevel te bevestig.

Die bevel word as geldig aanvaar tot die teendeel bewys is.

Die bevel moet die volgende bevat

  • ’n Saaknommer.
  • Oorspronklike handtekening van ’n landdros.
  • Oorspronklike stempel van die hof.
  • Die volle name en ID-nommer van die werknemer.

Dit moet deur ’n landdros uitgereik word, nie deur ’n hofklerk nie. Jou werkgewer sal dit dan aftrek en oorbetaal aan die persoon wat deur die hof as ontvanger aangewys is, byvoorbeeld ’n prokureur.

Wetgewing verplig die werkgewer om dadelik te begin met die aftrekking. Dit gaan voort tot die skuld vereffen is.

As die werkgewer weier of versuim om die aftrekkings te maak, kan die skuldeiser aansoek doen by die hof vir ’n beslagleggingsbevel teen die werkgewer.

5. OORBETALINGS

Dit is wanneer ’n werkgewer verkeerdelik geld of voordele aan ’n werknemer uitbetaal het. Dit mag afgetrek word, maar die maandelikse terugbetalings mag nie 25% van die werknemer se salaris oorskry nie. 

Kry hier nog raad