Dit is ’n uiters belangrike vraag. Baie mense se inkomste het die afgelope 10 maande gekrimp weens die negatiewe ekonomiese impak van covid-19 en die inperking. Maar as jy die verkeerde besluite neem oor versekering om jou uitgawes te besnoei, kan dit jou duur te staan kom. 

Fifi Mompati, hoof van makelaars en alternatiewe verspreiding by Liberty, sê jy moet jouself allereers afvra wat dit is wat jy met behulp van versekering wil beskerm.

Sodoende kan jy besluit watter soort polisse jy moet uitneem. Almal se behoeftes en omstandighede verskil natuurlik en sal moontlik ook nie dieselfde bly nie.

Ons bekyk basiese kort- en langtermynversekering aan die hand van die vier lewensfases waardeur almal gaan. (Ons kyk nie vandeesweek na mediese versekering of aftreebeleggings nie.)

1. IN JOU 20’S

Gestel jy is 24 en nog sonder ’n gesin, eiendom of motor. Jy het vaardighede en opleiding, en nou wil jy jou vermoë beskerm om ’n inkomste te verdien.

  • Dit word gewoonlik met inkomstebeskermings- en ongeskiktheidsdekking verseker. ’n Finansiële beplanner kan jou raad gee.
  • Jy kan ook begrafnisdekking oorweeg wat jou naasbestaandes eendag groot uitgawes kan bespaar.
  • Lewensdekking is nie nou noodsaaklik nie, maar hoe gouer jy daarmee begin terwyl jy jonk en gesond is, hoe meer sal jy op langtermyn daarby baat vind.
Onthou
Vra jou werkgewer of lewens- en begrafnisdekking en ongeskiktheidsbeskerming deel van jou vergoedingspakket is. As dit wel ingesluit is maar dis te min, kan jy altyd versekeraars vra om kwotasies vir ekstra dekking te stuur.

2. IN JOU 30’S

Jy is dalk nou getroud of in ’n vaste verhouding en het moontlik huis- en motorlenings. Jou versekeringskeuses moet by jou nuwe omstandighede aanpas:

  • Jy benodig korttermynversekering vir jou huis en motor. Dit kan goedkoper wees om jou geboue-, huisinhouds- en motorversekering by een maatskappy te kry.
  • Lewensdekking is nou belangrik, want dit kan jou huislening dek as jy onverwags sterf.
  • Jy kan jou huweliksmaat by jou lewenspolis voeg of ’n gesamentlike polis kry. Vra eers jou finansiële beplanner se raad daaroor. ’n Gesamentlike polis kan goedkoper wees omdat julle net een polis se fooie betaal. Maar as julle albei polisse uitgeneem het toe julle jonger was, kan die afsonderlike premies dalk steeds billiker wees.
  • Kyk of ’n gesamentlike begrafnispolis goedkoper is.
Onthou
Sommige lewensversekeringspolisse bied outomaties ook begrafnisdekking, wat beteken jy hoef nie ’n afsonderlike begrafnispolis te koop nie.

3. IN JOU MIDDELJARE

Jy is nou in jou 40’s of 50’s en het moontlik ook kinders. Jy moet steeds jou inkomste en bates soos jou huis en motor beskerm en ook voorsiening vir kinders maak.

  • Hersien al jou polisse elke 12 tot 18 maande. Is alles bygewerk en premies nog mededingend? Versekeringsprodukte word gereeld deur die betrokke maatskappye opgegradeer. As daar dalk ’n kritiekesiektevoordeel by jou bestaande lewenspolis gevoeg is, sal afsonderlike dekking teen kritieke siektes dalk oorbodig wees.
  • Vra gereeld wat die lewende voordele op jou risikodekking is – voordele wat jy kan gebruik sonder om te eis, soos premieverligting, afleggingsvoordele en premieafslag.
  • Korttermynversekering moet jaarliks bygewerk word om te verseker die dekking is steeds toepaslik. Voertuigwaardes daal byvoorbeeld voortdurend, en die premies moet dienooreenkomstig aangepas word.
  • As jy sekere polisse vir jou kinders wil hê, is dit gewoonlik goedkoper om hulle by jou bestaande polisse te voeg pleks daarvan om vir hulle aparte polisse te koop.
  • Onthou: Maak seker jou begunstigdes of ’n vertroueling weet watter versekering jy het en of dit sterftevoordele insluit. Dan kan jou begunstigdes dit eis as jy onverwags sterf.
WENK: Raadpleeg altyd ’n finansiële beplanner oor jou versekeringsbesluite. Heelwat onafhanklike beplanners vra net ’n konsultasiefooi vir hul dienste.

4. TYDENS JOU AFTREDE

Die kans is groot dat dekking vir inkomste- en ongeskiktheidsbeskerming nie meer van toepassing is nie. As jy kinders het, is hulle dalk al teen hierdie tyd volwassenes wat reeds hul eie polisse behoort te hê.

  • Lewensdekking sal op enige ouderdom uitbetaal. Maar as dit nie meer ’n verband, skuld of boedelbelasting en -koste ingeval van jou afsterwe hoef te dek nie, kan jy dalk besluit dis onnodig, of dit verminder. Anders kan jy dit behou as nalatenskap aan jou familie. Vra ’n finansiële beplanner se raad.
Onthou
Jou polisse moet steeds minstens elke 18 maande hersien word met die oog op premiekortings of nuwe voordele.
Kry hier nog raad