Kan ek jou ’n geheim vertel? Vir die grootste deel van my 20’s het my oë glasig geraak as iemand oor my geldsake met my praat. Dit het lank geduur voor ek uitgepluis het hoe geld eintlik werk. Wat ek ontdek het, is dat dit taamlik eenvoudig werk, maar die meeste mense is sleg daarmee. Dit is nie juis verbasend nie.

Ons kry nooit ’n handleiding oor hoe geld werk nie. Ons hoef nooit ’n toets te slaag om ons geldlisensie te kry voor ons met ’n nuwe kredietkaart kan gaan ry nie. Die meeste van wat ons oor geld leer, kom uit advertensies of van ander mense wat net so min soos ons weet. 

Geen wonder ons maak sulke basiese foute nie. Geen wonder ons voel ontmagtig en bang nie. Geen wonder so baie van ons besluit om ons kop in die grond te druk en dit nooit te hanteer nie, en leef van maand tot maand terwyl ons op kredietkaarte staatmaak om ons deur te dra. Maar die snaakse ding is dit is nie so moeilik om beheer oor jou geldsake te kry as wat dit klink nie. Hier is van die eerste stappe wat jy kan neem om jou op ’n gesonder finansiële grondslag te plaas.

Dink oor elke aankoop na: Was dit die moeite werd om die geld uit te gee? Het dit jou vreugde verskaf?

BESTEE SOOS ’N GROOTMENS

Ons bestee en bestee en bestee – en dikwels maak ons sonder om te dink iemand anders ryker ten koste van ons eie potensiële spaargeld.

Hier is die eerste stap om hierdie impulsbesteding hok te slaan: Open ’n tweede bankrekening vir jou dag-tot-dag-diskresionêre sakgeld (kos, kruideniersware, brandstof, klere en vermaak), ook bekend as jou Vryheidsfonds. ’n Aparte rekening beteken jy sal nooit in ’n situasie beland waarin jy nie jou belangrike grootmensrekeninge kan betaal nie. 

So werk die Vryheidsfonds:

  • Gaan sit op betaaldag en werk uit hoeveel geld jy veilig kan bekostig om dié maand uit te gee, jou spaargeld en al jou rekeninge uitgesluit. Die bedrag is jou vryheidsbegroting vir die maand.
  • Deel die vryheidsgeld deur vier (of vyf as dit een van daardie lang maande is). Plaas ’n week se toelae daarvan in jou Vryheidsfonds oor.
  • Gee die geld uit. Hoera!
  • Plaas ’n week later nog ’n kwart oor.
  • Herhaal.

Die mooiste van die stelsel is dat jy dit nou net kan geniet om die geld te bestee sonder om daaroor skuldig te voel, want al jou verantwoordelikegrootmens-geld is veilig in jou ander bankrekening weggebêre. Daar is net een baie belangrike reël: Wanneer jou vryheidsgeld op is, is jou vryheidsgeld op. As dit beteken jy moet drie dae lank op die laaste blik sardyne agter in die koskas oorleef, dan moet dit so wees.

BEPLAN SOOS ’N GROOTMENS

Dit gaan ’n nuwe stel gewoontes verg om jou geld te bestuur.

Elke oggend:

Kyk vinnig hoeveel geld in jou Vryheidsfonds oor is. Jy behoort altyd uit jou kop te weet wat die bedrag is.

Weekliks:

Laai ’n app op jou foon af wat met besteding of uitgawes tred hou of, as jy ouskool is, gebruik ’n spreiblad om jou transaksies te kategoriseer. Terwyl jy dit doen, dink oor elke aankoop na: Was dit die moeite werd om die geld uit te gee? Het dit jou vreugde verskaf?

Die punt hiervan is nie om jouself te veroordeel nie, maar meer bewus van jou eie gedrag te wees. Gaan jou begroting na om te kyk of jy iewers oorboord gegaan het. Werk uit hoe jy vir die res van die maand weer op koers gaan kom.

Maandeliks (op betaaldag):

Nou doen jy jou Groot Maandelikse Geldoorsig. Ontleed die maand se uitgawes. Maak seker elke transaksie is in ’n kategorie. Beplan vir die nuwe maand. Vra jou af of jy enige groot uitgawes te wagte kan wees. Werk uit hoe jy daarvoor gaan begroot en waar jy gaan koste besnoei.

Onthou, dit werk beter om jou aan bepaalde dinge te verbind om gedrag te verander as om net te sê: “Ek moet minder aan wegneemkos bestee.” Sê eerder iets soos: “Ek gaan net Sondagaande wegneemkos eet.”

BETAAL SOOS ’N GROOTMENS

Kyk watter verbruikerskuld jy het. Dit sluit kredietkaartskuld (buiten die 55 dae waarop jy nie rente betaal nie), winkellenings, oortrokke rekeninge en betaaldaglenings in. Moenie ’n huis-, motor- of studielening tel nie. As jy baie verbruikerskuld het, beteken dit jy bestee jou geld aan goed wat jy in die verlede gekoop het, nie dinge wat jou lewe in die toekoms gaan beter maak nie. Dit verstrik jou.

Daar is twee strategieë om die stryd te wen:

  • Die sneeubalmetodeLys jou skuld van die kleinste bedrag tot die grootste. Hou aan om die minimum bedrag op al jou skuld te betaal, maar bestee ook elke spaarsent wat jy het om die kleinste skuld af te betaal. Wanneer jy die kleinste skuld afbetaal het, vat jy die volle bedrag wat jy voorheen in daardie skuld inbetaal het en sit dit alles in die tweede kleinste skuld, en so aan. Ek hou van hierdie manier, want jy smaak vroeg al ’n sielkundige oorwinning.
  • Die sneeustortingsmetode
    Lys jou skuld van dié met die hoogste rentekoers tot die laagste. Betaal die duurste skuld eerste af, hoe groot dit ook al is. Sit die volle bedrag wat jy daarop betaal het in die naasduurste skuld. Dit is die verstandigste manier as jy skuld teen ’n hoë rentekoers het.

ONDERSTEUN SOOS ’N GROOTMENS

My geslag word soms die toebroodjiegenerasie genoem. Dit verwys na die feit dat van baie van ons verwag word om nie net ons kinders nie, maar ook ons bejaarde ouers te versorg. Dit is nie noodwendig iets aakligs nie; ons is lief vir ons familie en dit kan ’n voorreg wees om na hul welstand te help omsien.

Maar onthou wat hulle op vliegtuie vir jou sê: “Sit eers jou eie suurstofmasker op voor jy die mense om jou probeer help.”

Dit het geen nut om in die oomblik so vrygewig te wees dat jy jou eie langtermyn- finansiële sekuriteit in gevaar stel nie. As jy nie genoeg vir jou eie aftrede spaar nie, sit jy net ’n kringloop voort. Dis in die haak om perke op jou vrygewigheid te stel, selfs wat familie betref.

Bestee ook elke spaarsent wat jy het om die kleinste skuld af te betaal.

Dit kan nuttig wees om anders oor dinge te begin redeneer: Dink oor die bou van tussengeslagrykdom vir jou kinders en hul kinders. Die meeste moeilike goed is makliker as almal so eerlik daaroor praat as wat hulle kan.

Sorg dat jy, jou sibbes en jou ouers openhartige gesprekke voer oor die verwagtings wat julle almal van mekaar het. Verwag jou ouers om by jou te woon wanneer jy jou eie huis het? Verwag jy jou ouers moet vir jou ’n erfporsie nalaat?

Die gesprekke is ongemaklik, maar dit sal nog ongemakliker wees om later uit te vind julle het totaal verskillende aannames gehad. Hoe meer jy weet oor wat jou familie in die komende dekades van jou sal nodig hê, hoe beter kan jy in jou finansiële plan vir die behoeftes beplan.

Deur dieper gesprekke met ons familie te hê kan ons ook uit die strik kom van altyd korttermynsteun bied, maar nooit werklik hul langtermyn- finansiële situasie verbeter nie. As jy hul geldwêreld verstaan, kan jy dalk betekenisvoller vorme van hulp as net geld vir hulle bied. Jy kan hulle ’n werk help soek, uitpluis hoe om vir beter soorte krediet aansoek te doen of ’n beter opbrengs op hul beleggings te kry.

Vermy dit om vir iemand anders borg te teken. Sake kan verskriklik skeefloop en jou eie kredietgeskiedenis kan onherstelbaar beskadig word, tesame met die verhouding. Help hulle eerder in hul eie naam by ’n betroubare instelling om krediet aansoek doen of gee direk vir hulle die geld. As jy ’n lening aan familie toestaan, noem dit ’n lening, maar dink in jou kop daaraan as ’n geskenk. Dit is nie die moeite werd om liefde te ruïneer oor geld wat nie terugbetaal word nie. 

’n Geredigeerde uittreksel uit Manage Your Money Like a F*cking Grownup deur Sam Beckbessinger (Jonathan Ball Publishers, R190* by takealot.com)
Foto's: Gallo Images/Getty Images, Verskaf
* Teen dié prys beskikbaar by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.