Jy kan op verskeie maniere skade ly in die besige parkeerterrein van ’n winkelsentrum. 

Jou geparkeerde motor kan deur ’n ander motoris gestamp of gekrap word of daar kan uit jou motor gesteel word. 

Een briefskrywer se motor is glo deur ’n valboom by ’n parkeerterrein beskadig. 

Maar wanneer moet wie – die winkelsentrum, die ander motoris of jyself – opdok? Kenners verskaf die antwoorde. 

1. WANNEER WINKELSENTRUMS VIR DIE SKADE AANSPREEKLIK IS 

In parkeerterreine sien jy gewoonlik kennisgewings wat lui: Klante parkeer op eie risiko. Maar dit vrywaar die sentrumeienaars nie in alle gevalle teen eise nie. 

Charl Marais, ’n direkteur van die regsfirma JS Marais Inc., sê as jy weens nalatigheid skade ly, kan jy wel eis. 

As die eienaars byvoorbeeld bewus was van ’n foutiewe valboom of verbrokkelende muur of dak, maar dit nie herstel het nie en dit val op jou motor, was hulle nalatig en kan jy eis. 

Winkelsentrums het gewoonlik openbareaanspreeklikheidsdekking, sê Ernest North, ’n medestigter van Naked Insurance. 

Die eienaar kan dus ’n eis by sy eie versekering indien om jou skade te dek. 

As jy omvattende motorversekering het, sal jou versekeraar van die sentrum s’n eis, sê Ernest. 

Onthou 

Jy moet bewys die winkelsentrum was nalatig, benadruk Charl. 

Neem foto’s van die skade aan jou motor en die infrastruktuur wat jy beweer dit veroorsaak het, en kry die kontakbesonderhede van enige ooggetuies op die toneel.

2. SKADE DEUR ANDER BESTUURDERS/KLANTE

As iemand in die parkeerterrein in jou motor vasry of dit krap, moet daardie persoon se versekering opdok en nie die winkelsentrum nie. 

Maak seker jy kry die ander bestuurder se besonderhede: naam, ID- en telefoonnommer, pos- en e-posadres en versekeringsbesonderhede. 

Neem foto’s van die persoon se ID of rybewys en jou eie skade. Maak seker jy kry die kontakbesonderhede van ooggetuies. 

Maar as jy jou motor beskadig aantref en die skuldige het intussen weggejaag, sal winkelsentrums gewoonlik kyk of die voorval op hul kringtelevisiekameras vasgelê is sodat jy die motor se fabrikaat en registrasienommer kan aanteken. 

As jy omvattende motorversekering het, sal jou versekeraar direk met die ander persoon skakel om vergoeding vir jou skade te eis. 

As daardie persoon nie versekering het nie, behoort jou versekering jou skade te dek. 

Onthou 

As jy net derdepartyversekering het, sal jy geen dekking vir jou eie voertuig hê nie. 

Jy moet dan direk met die motoreienaar en sy versekering skakel oor jou herstelkoste. 

3. DIEFSTAL UIT JOU MOTOR

In sulke gevalle beskerm die sentrum se vrywaringskennisgewings hulle gewoonlik teen eise en sal jy van jou eie versekering moet eis. 

Onthou, daar moet duidelike tekens van inbraak wees soos ’n gebreekte ruit. Neem foto’s daarvan. 

Jou eis vir persoonlike items wat gesteel is, behoort te slaag mits die items onder jou allerisikoversekering gespesifiseer is (en nie net onder jou huisinhoudpolis nie). Vra jou versekeraar hieroor. 

  • Maar wat van die kruideniersware wat jy in jou motor gelaai het pas voor jy besluit het om nog ’n draai te loop? 

    Party versekeraars sal die diefstal van kruideniersware onder jou huisinhoudpolis dek al word dit uit jou motor gesteel. Vra jou versekeraar hieroor. 
  • As diewe ’n afstandbeheermeganisme gebruik om te keer dat jy jou motor met jou afstandbeheerder sluit, is dit moeiliker om te eis omdat daar nie gebreekte ruite is nie. 

    Vra die sentrum om op hul kameras te kyk vir persone wat by jou motor in- en uitgaan. Dan sal jou versekering waarskynlik wel betaal.
Die Sentrum was nalatig, maar wil nie betaal nie – en ek is sonder versekering. Wat nou?
  • Jy kan die hof vir klein eise nader (sien die raadkassie onder) vir motorherstelkoste van minder as R20 000. Jy het nie ’n regsverteenwoordiger nodig nie.
  • Jy kan ook die Nasionale Verbruikerskommissie kontak. Bel hulle vooraf om seker te maak jy het gronde vir ’n klag. Kry nog inligting by www.thencc.gov.za.
  • Onthou, as jy die sentrum hof toe neem (byvoorbeeld vir skade van meer as R20 000) en ’n prokureur aanstel, is jou regskoste uit jou eie sak. Wen jy jou eis, maar die hof reik nie ook ’n kostebevel teen die sentrum uit nie, betaal jy steeds jou eie koste.
Wenk
As jy nie tevrede is met die manier waarop jou versekeraar die eis hanteer nie, kan jy by die ombudsman vir korttermynver- sekering kla.
49,3%

Soveel van alle klagtes wat die ombudsman vir korttermynversekering hanteer, handel oor motoreise. In 2017 was 74% daarvan oor toevallige skade aan motors.

Bron: Osti-jaarverslag 2018

Kry hier nog raad

Ombudsman vir korttermynversekering: www.osti.co.za

Hof vir klein eise: www.justice.gov.za

Regshulp: www.lawyer.co.za