Naas eiendom is jou motor sekerlik jou duurste aankoop.

Dis ’n groot uitgawe, maar anders as met eiendom, verhoog ’n motor se waarde nie; inteendeel, sodra jy met jou blinknuwe motor by die handelaar wegry, verloor dit al waarde.

Daarom moet jy slim koop en liewer ’n ryding kies wat jy maklik kan bekostig en wat aan jou behoeftes voldoen as ’n duurder motor waarmee jy ander wil beïndruk en wat jou noustrop kan laat trek.

JOU BEGROTING  

Jy moet jou maandelikse paaiement maklik kan betaal.

Elke mens se geldsake lyk anders, maar ’n basiese reël is jou maandelikse uitgawe op jou motor moet hoogstens 10% van jou maandelikse inkomste wees.

As jy nie baie skuld het nie, kan dit 10% van jou bruto maandelikse inkomste wees, maar hoe meer skuld jy het, hoe kleiner moet jou motorlening wees.

’n Finansiële raadgewer kan jou help bereken hoeveel jy kan bekostig. Die motorhandelaar het gewoonlik ’n finansieringskonsultant wat jou kan help kyk vir watter grootte lening jy in aanmerking kom.

Jy moet ’n geldige rybewys, ’n adresbewys en dokumente saamneem wat jou inkomste staaf, soos betaalstrokies en bankstate.

  • Kyk of jy jou kredietgeskiedenis kan verbeter voor jy om finansiering aansoek doen. Jy kan dit by kredietburo’s nagaan – hulle word op die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste gelys. Jy is geregtig op een gratis kredietgeskiedenisnavraag per jaar. 

As jy ’n goeie kredietgradering het, het jy ’n beter kans om ’n lening te kry, want dan is jy ’n lae risiko vir die bank. Betaal jou rekeninge stiptelik en verminder ander skuld deur persoonlike lenings en kredietkaartskuld af te betaal.

DIE DEPOSITO

’n Deposito is die aanvanklike bedrag wat jy betaal wanneer jy ’n voertuig koop.

Voertuigfinansierders staan deesdae nie maklik volle lenings toe nie en kan vra jy moet ’n deposito van minstens 10% van die motor se koopsom betaal.

Koop jy byvoorbeeld ’n motor van R200 000, sal ’n 10%-deposito R20 000 wees. Probeer so gou moontlik hiervoor spaar as jy beplan om ’n voertuig te koop.

Deposito’s hou talle voordele in:

Dit sal jou paaiemente verlaag en jou help om die skuld vroeër te vereffen, want dit maak deel uit van die totale bedrag wat jy betaal.

Omdat dit die bedrag verminder wat jy moet leen, sal die totale rente wat jy betaal minder wees.

Hoe groter die deposito, hoe kleiner die risiko vir die finansierder, wat tot ’n beter rentekoers kan lei.  

DIE AFBETALINGSTERMYN

Jou kontraktermyn is die tydperk waarin jy die motor moet afbetaal. Dit kan van 12 tot 72 maande wissel.

Hoe korter die termyn, hoe hoër die maandelikse paaiemente, maar die motor sal jou eindelik minder kos omdat jy dan net oor ’n kort tydjie rente daarop betaal.

Moet jou dus nie blindstaar teen ’n langer afbetalingstermyn net omdat die paaiemente laer is nie, want eindelik is die afbetaling groter.

Hier’s ’n voorbeeld: Gestel jy koop ’n ryding van R180 000 teen ’n rentekoers van 10% en betaal ’n deposito van R20 000.

  • Betaal oor 48 maande af: Jou maandelikse paaiement is R4 565 en die totale afbetaling op die motor R219 133, waarvan R39 133 rente is.
  • Betaal oor 72 maande af: Jou maandelikse paaiement is R3 335 en die totale afbetaling op die motor R240 095, waarvan R60 095 rente is.*

(*Beraamde afbetaling sonder enige ekstra koste.)

BRANDSTOFDOELTREFFENDHEID

Die brandstofprys styg gedurig en dit maak brandstofdoeltreffende voertuie baie gewilder.

Om te kyk hoe brandstofdoeltreffend ’n voertuig is, word bereken hoeveel liter brandstof dit oor 100 km gebruik.

Hoe minder liter per 100 km gebruik word, hoe meer brandstofdoeltreffend is die voertuig.

Byvoorbeeld: In die 2017/’18 Consumer Awards van Cars.co.za en WesBank word motors in die begrotingskategorie onder meer beoordeel vir hul brandstofdoeltreffendheid en waarde vir geld.

Die wenner was die Suzuki Ignis 1.2 GL met ’n brandstofverbruik van 5,1 L/100 km. Van die finaliste was die Kia Picanto 1.0 Style met ’n verbruik van 5,0 L/100 km en die Volkswagen Take Up! met ’n verbruik van 4,6 L/100 km.

Onthou, die vervaardigers se syfers kan weens eksterne faktore wissel. ’n Ryding se brandstofverbruik hang af van sy vrag en hoe dit bestuur en in stand gehou word.   

EKTRA UITGAWES

Motorversekering: Wanneer jy ’n motorlening kry, is dit ’n vereiste dat jy omvattende versekering uitneem.

Bykomende sekuriteit, soos ’n opspoortoestel.

Lisensiegeld: Dit beloop jaarliks ’n hele paar honderd rand. 

Onderhoudskoste: Dit is vir gereelde versienings en uitgawes af en toe vir byoorbeeld olie, nuwe bande en wielbalansering.

Party handelaars bied ’n motorplan wat byvoorbeeld die versienings ’n bepaalde tydperk lank of ’n bepaalde getal kilometers dek.

KAPERS SE GUNSTELING

Party voertuie is gewilder onder diewe en motorkapers as ander.

Dit is glo voertuie waarvan daar heelwat op die pad is, want dan is die gesteelde motor minder opmerklik.

Volgens navorsing van Ctrack wat verlede jaar bekendgemaak is, is die voertuig wat die meeste in Suid-Afrika gekaap word die Volkswagen Polo.

Toyota se Fortuner was skurke se geliefkoosde sportnutsvoertuig. 

KRY HIER JOU RAAD

  • Banke se webtuistes het aanlyn rekenaars waarop jy paaiemente kan bereken.
  • Wheels24
Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.