Jy soek ’n gebruikte ryding, en die pryse wat privaat ­eienaars vra, lyk aanlokliker as motorhandelaars s’n.

Maar onthou: Om ’n voertuig privaat te koop verskil in vele opsigte van ’n aankoop by ’n geregistreerde handelaar. Goedkoop koop kan op die ou end duur koop wees . . .

Ons kyk na die voor- en nadele van albei koopopsies – en die slaggate. 

Privaat koop

Voordele

  • As jy by die vorige eienaar koop, is die prys gewoonlik laer as by die handelaar omdat privaat verkopers nie die oorhoofse koste van handelaars het nie. 
  • Volgens kenners is privaat verkopers meer bereid om te onderhandel, juis omdat hulle nie handelskoste het nie. 
  • As jy die verkoper ken, sal jy weet of hy verantwoordelik is ten opsigte van motoronderhoud en -bestuur.

Nadele

  • Dit is moeiliker om motor­finansiering te kry. Banke finansier nie die koop van privaat voertuie nie. Jy sal dus self ’n persoonlike lening moet reël as jy nie kontant kan betaal nie. 
  • Jy kan die slagoffer van swendelaars word, wat dalk ’n gesteelde motor met vals dokumente aan jou verkoop. Dis jou as die koper se verantwoordelikheid om seker te maak die motor se inligting is eg. Dit sluit die registrasie, voertuigidentifikasie- en lisensienommer in. Jy kan dit nagaan op webtuistes soos verifications.transunion.co.za en www.vehiclecheck.co.za. Onthou ook dat misdadigers hulle soms as verkopers voordoen om voornemende kopers te beroof. Neem altyd iemand wat jy vertrou saam wanneer jy ’n onbekende verkoper ontmoet en sorg dat die afspraak op ’n openbare plek en in ’n bekende omgewing plaasvind.
  • As jy privaat koop, het jy nie die opsie van diensplanne wat jou dienskoste vir ’n sekere tydperk of getal kilometers dek nie; jy sal dus self vir alles moet opdok.
  • Jy koop voetstoots. Dit be­teken jy koop die motor met al sy foute – bekend of onbekend – en sonder enige waarborg. As die voertuig jou probleme gee, is die verkoper nie onder enige vanselfsprekende verpligting om jou geld terug te gee of vir herstelwerk te betaal nie. Jy sal dan regshulp moet kry en self daar­voor moet opdok. 
  • Sodra die kooptransaksie afgehandel is, is jy as nuwe eienaar verantwoordelik vir al die nodige administrasie, soos die oordrag van eienaarskap by jou dorp of stad se voertuigregistrasieafdeling. 

By ’n handelaar

Voordele

  • Jy kan jou huidige voertuig ­inruil by ’n handelaar vir die nuwe aankoop, al is dit tweedehands. Die inruilgeld wat jy kry, kan afgetrek word by jou nuwe voertuig se koopsom en so jou paaiemente verlaag. 
  • Jy kan makliker finansiering kry omdat banke bereid is om motorfinansiering toe te staan. (Onthou: Finansiering word net goedgekeur as jou kredietrekord gesond is.)
  • Motorhandelaars word wetlik verplig om alle defekte waarvan hulle bewus is te verklaar en reg te stel. Hulle moet jou die inspeksieverslag kan gee. Hulle mag nie tweedehandse motors as voetstoots (foute en al) aan verbruikers verkoop nie. Gee die voertuig probleme, kan jy dit binne ses maande teruggee, mits jou redes wettig, redelik en bewysbaar is.
  • Handelaars moet vasstel dat die motor se dokumente nie vervals is nie en die voertuig nie gesteel is nie. Hulle moet jou dié versekering gee. 
  • Die handelaar sal al die papierwerk, soos die voertuigregistrasie in jou naam, hanteer. Jy hoef dit nie self te doen nie.

Nadele

  • Die voertuie kos dikwels meer as dieselfde aankoop by ’n privaat persoon.
  • Baie handelaars sal kopers aanmoedig om hul aankoop te finansier deur hul voorkeurfinansieringsverskaffer. Dit is nie noodwendig die een wat jou die beste rentekoers sal gee nie. Jy kan ook self kwotasies by finansierders vra. 
165
Soveel motors is op Suid-Afrika se paaie per 1 000 mense, volgens data van die Wêreldbank. Suid-­Afrika is 88ste op die lys van lande wat die getal motors per 1 000 mense ­betref. 

Wenk

Onthou altyd dat geen handelaar of privaat verkoper jou gedurende onderhandelings mag dwing om ’n voertuig te koop nie. As jy onder dwang voel, stap eers weg en besin daaroor of dit regtig die voertuig is wat jy wil hê, nodig het of kan bekostig. 

Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.