Adviesartikel
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

1. Hou die weer dop

Weervoorspellingswebtuistes en -apps soos accuweather.com en weather.com sluit inligting oor die stuifmeeltelling vir ’n spesifieke gebied in. Wanneer die vlakke hoog is, moet jy maar binne bly as jy erg aan hooikoors ly veral tussen vyfuur en tienuur soggens wanneer stuifmeel volop is. 

2. Pasop vor jou troeteldier 

Moenie jou troeteldiere streel nadat hulle buite was nie. Honde en katte kan stuifmeel indra nadat hulle buite gespeel het.

As jy saam met iemand bly wat nie vir stuifmeel allergies is nie, vra hulle moet die diere met ’n handdoek afvryf.

Jy kan hulle ook liggies met ’n handstofsuier takel mits hulle mak genoeg is om nie histeries te raak nie.

3. Maak jou huis ’n niesvrye sone

Maak vensters en deure toe om allergene in die huis te beperk wanneer die stuifmeeltelling hoog is. Beperk sagte meubilering soos kussings en matte, slaap op kussings wat met sintetiese materiaal pleks van vere gestop is, en omhul jou matras met ’n allergievrye bedekking.

4. Stort en spoel jou hare af voor jy gaan slaap

Daardeur sal jy stuifmeeloorblyfsels van jou vel en hare kan verwyder en ’n allergieaanval in die nag help voorkom. 

5. Lê weg aan kerrie

As hooikoors jou neus toe maak, kan ’n geurige maaltyd verligting bied.

Brandrissie maak jou lugweë groter oop, terwyl speserye soos borrie natuurlike anti-inflammatoriese kenmerke het wat simptome.

6. Drink ’n teetjie

Kamille- en brandneteltee het antihistamien- en anti-inflammatoriese eienskappe wat die simptome van hooikoors help verlig.

Skakel die ketel aan pleks daarvan om ’n bottel wyn oop te maak wanneer stuifmeel volop is drank is vol histamiene en jy sal net erger voel. 

7. Stop dit toe!

Voor jy in die stuifmeelhel uitgaan, smeer petroleumjellie aan elke neusgat om soveel moontlik van die kwaaddoeners uit jou gestel te probeer hou.

8. Stadig met die lugversorger 

Die stelsel in jou motor help dat jy aan minder allergene blootgestel word, maar kan jou aan sweefspore binne-in die eenheid blootstel wat allergiesimptome kan veroorsaak.

Maak die ruite vir 10 minute halfpad oop nadat jy die lugversorger aange­skakel het om van die spore ontslae te raak, en moenie die lugopenings op jou gesig rig nie. 

9. Beskerm jou oë

Hooikoorslyers ervaar ook dikwels jeukerige oë. ’n Sonbril wat van jou oë af om jou kop vou, werk die beste om stuifmeel heeltemal uit die prentjie te hou.

10. Laat jou klere binne droog word

Jy raak van stuifmeel in jou klere ontslae wanneer jy dit was, maar maak dalk al die harde werk ongedaan wanneer jy dit buite hang.

As jy nie die plek het nie, ver­my dit om jou klere vroegoggend of saans buite te hang wanneer die stuifmeeltelling die hoogste is. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.