Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tog is al die “gewone” kwale steeds met ons. En ter wille van liggaam én gees is ’n gesonde en gebalanseerde leefstyl belangriker as ooit.

Huisgenoot het daarom ’n paar huisdokters om raad genader en gevra: Wat doen hulle sélf om gesond te bly? Wat is altyd in hul medisynekassies, wat eet hulle en hoe bly hulle aktief? Hier is hul topwenke aan lesers.

Dr. Wessel Vermeulen, Algemene praktisyn en homeopaat, Oudtshoorn (68)

Dr. Wessel Vermeulen. Foto: Verskaf
Dr. Wessel Vermeulen. Foto: Verskaf

’n Gebalanseerde leefstyl is die belangrikste, sê Wessel.

“Jy moet jou leefstyl en oefening aanpas by die vereistes van jou werk en gesin, asook jou eie behoeftes. Dis ook baie belangrik om genoeg te slaap, minstens agt uur per nag.”

Hy gebruik nie sommer medikasie vir iets soos ’n verkoue nie. Maar as die simptome vererger, gebruik hy ’n pynstiller of ’n verkouepoeier wat met kookwater gemeng word.

‘Wanneer jy op my ouderdom kom, moet jy gereeld probeer stap. Jy hoef nie meer as dit te doen nie. Of as jy ’n groot swembad het, kan jy swem’

Hy het altyd baie geoefen, maar omdat hy deesdae 12 uur per dag werk, bestee hy eerder sy vrye tyd daaraan om saam met sy kleinkinders “te lag en speel”. Dit het ’n positiewe uitwerking op sy gemoed en geestesgesondheid.

“Wanneer jy op my ouderdom kom, moet jy gereeld probeer stap. Jy hoef nie meer as dit te doen nie. Of as jy ’n groot swembad het of naby aan die see woon, kan jy swem.”

En hy glo lag is inderdaad die beste medisyne.

“Lag elke dag. Lag vir enigiets of lag vir jouself. Dit is verskriklik belangrik. En as jy nie lag nie, huil. Maar leef jou emosies uit.”

As jy ’n gebalanseerde dieet volg, is aanvullings nie nodig nie, sê Wessel. Bly weg van verfynde koolhidrate en suiker; eet lae-GI-koolhidrate. “Ek vermy ook oormatige koffie en kafeïen; dit gee my ’n hupstoot, maar ’n helse hoofpyn.”

Sy finale voorskrif: “Luister na jou liggaam se boodskappe. Maak seker jy ervaar lewensgenot en vreugde sodat jy die beste jý kan wees. Dan sal jy gesond wees.”

Dr. Sihle Asiedu-Darkwah, “Virtuele dokter”, Johannesburg (29)

Dr. Sihle Asiedu-Darkwah. Foto: Verskaf
Dr. Sihle Asiedu-Darkwah. Foto: Verskaf

Dié algemene praktisyn is die stigter van Prime Medical Solutions, wat virtuele konsultasies doen.

Sy sukkel soms om haar werk en persoonlike lewe te balanseer, erken sy. Maar sy oefen so gereeld moontlik in die buitelug. “Ek is baie lief vir staptogte.”

Sy moedig haar pasiënte ook aan om gereeld te oefen. “Veral mense wat heeldag agter ’n lessenaar sit. Dit help natuurlik ook om stres en angstigheid te bestuur.”

Sy neem elke oggend ’n multivitamien-aanvulling. Vir verkouesimptome gebruik sy 1 000 mg vitamien C per dag, en sy maak seker sy neem baie vloeistowwe in.

“Die een ding wat jy altyd in my kas sal kry, is parasetamol; dis veilig vir alle ouderdomsgroepe, en jy kan dit gebruik vir enigiets van hoof- en menstruasiepyne tot koors en spierpyn ná oefening.”

Goeie eetgewoontes is belangrik, sê Sihle.

“Ek glo ’n mens moet alle voedselgroepe eet, maar met matigheid voor oë. Dis gesonder, prakties en volhoubaar. En ek moedig my familie en vriende aan om op te let na hoe hul liggame op sekere kosse reageer. As iets jou nie laat goed voel nie, vermy dit en vervang dit met iets anders. Dit is belangrik om na jou liggaam te luister.”

Sy probeer haar eie stres en angstigheid bestuur deur lysies te maak van wat sy die volgende dag moet doen.

“Dit laat my voel ek het beheer oor my dag, en dit hou my gefokus.”

Ter wille van haar geestesgesondheid is Sondae ’n rusdag.

“Ek maak geen afsprake nie en doen my inkopies op Saterdae sodat ek Sondae rustig tuis kan wees. Ek gebruik die dag vir my naels, ’n gesigmasker of voorbereidings vir die komende week. Dan begin ek Maandag uitgerus.”

Dr. Neville Wellington, Algemene praktisyn, Kaapstad (54)

Dr. Neville Wellington. Foto: Verskaf
Dr. Neville Wellington. Foto: Verskaf

Hy het self covid-19 opgedoen, maar net matige simptome ervaar, sê Neville.

“Ek dink my leefstyl het ’n groot rol gespeel.” Hy het tydens sy siekte veral sink en vitamien C gedrink om sy immuunstelsel te versterk.

Oor die algemeen is magnesium saans die enigste aanvulling wat hy gebruik. “Ek drink dit al jare lank en dit help met goeie slaap en krampe wanneer ’n mens oefen.”

‘Ek het mansvriende saam met wie ek soms kuier, en my vrou haar vriendinne. Dis ook goed vir ’n mens se huwelik’

Benewens vitamien C is daar altyd ook parasetamol tuis. Hul gesin volg ’n minkoolhidratedieet en vermy verwerkte kosse.

“Ons drink glad nie koeldranke of sap nie. Ons bly ook weg van versoete jogurt, en ek eet al jare lank geen ontbytpap nie. Ek eet elke oggend spek en eiers.”

Hy probeer om twee of drie keer per week voor werk saam met vriende te gaan fietsry, en hy en sy vrou probeer ook om gereeld ná werk 45 minute lank te stap.

’n Gesonde gesinslewe en gebalanseerde sosiale lewe is belangrik vir jou algehele gesondheid, glo hy. “Ek het mansvriende saam met wie ek soms kuier, en my vrou haar vriendinne. Dis ook goed vir ’n mens se huwelik.”

Dr. Maureen Fourie, Algemene praktisyn, Wellington (31)

Dr. Maureen Fourie. Foto: Verskaf
Dr. Maureen Fourie. Foto: Verskaf

Wanneer Maureen ’n krapperigheid in haar keel of ’n verkoue voel nader kom, gryp sy dadelik na ’n keelsproei.

“Ek drink ook graag ’n bietjie rooibostee met heuning.”

Sy draf drie keer per week en doen ook kragoefeninge. “Daar is soveel studies wat bewys watter positiewe invloed oefening het op ons geestes- én fisieke gesondheid. Mense wat drie keer per week 30 minute lank oefen, leef langer en het ’n kleiner kans om weens hartaanvalle of beroertes dood te gaan.

“Ek vermy dit om swaar goed op te tel omdat ek so gereeld mense met ’n rugspierspasma sien nadat hulle iets swaars by die werk opgetel het,” sê sy.

“Ek eet elke oggend ontbyt, gewoonlik hawermout met chia-sade en neutbotter. Ek sorg dat ek saans min of meer op dieselfde tyd gaan slaap en soggens op dieselfde tyd opstaan, want ek glo ’n roetine vir jou liggaam is belangrik,” vertel dié ma van jong kinders.

Die gesin vermy kitskos.

“Ons probeer om by die huis kos te maak en te eet. Kitskos het min voedingswaarde en ’n hoë kalorie-inhoud en beteken dus min vir jou liggaam.” Hulle eet soveel vars groente en vrugte moontlik.

Die een soort medikasie wat altyd in haar huis is, is ’n parasetamolstroop. “Dit is ’n pynstiller met min newe-effekte en is altyd nuttig as een van die kinders skielik êrens seer het, in die middel van die nag koors kry of as kleinboet tande sny.”

Haar gunstelingwenk wat sy graag met haar pasiënte deel, is om goeie “selfsorg” toe te pas. “Jy moet na jou geestesgesondheid kyk sodat jy op die ou end fisiek gesond bly. Doen elke dag minstens 10 minute lank iets lekkers waarvan jy hou.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.