Dit is bekend dat die neuro-oordragstof serotonien jou gemoedstemming verbeter en sosiale funksionering bevorder. Wanneer jy in ’n groef is of terneergedruk voel, kan jy jouself opbeur indien jy die vlakke van dié hormoon ’n hupstoot gee. Hier is ’n paar natuurlike metodes om die serotonien in jou brein te verhoog. 

1. Sonskyn

Jy kom dalk in die versoeking om in jou slaapkamer weg te kruip wanneer jy ongelukkig is, maar ’n entjie se stap in die son kan ’n groot verskil maak. Sonlig, iets waaraan Suid-Afrikaners geen gebrek het nie, sit die vervaardiging van serotonien aan die gang. Onthou net om jou vel teen sonbrand te beskerm.

2. Oefening

Oefen dat die sweet tap kan ook vlakke van serotonien en dopamien verbeter. Albei help jou fokus op die belonings van oefening eerder as die pyn en moegheid wat daarmee saamgaan. Jou liggaam stel ook die goedvoelhormoon endorfien vry wanneer jy oefen. In vorige ondersoeke is bevind net 20 minute van beweging kan jou gemoedstemming vir tot 12 uur verbeter. As jy nie ’n fiksheidsfanatikus is nie, kies bloot ’n aktiwiteit wat jy geniet om die hele proses draagliker te maak. Stap en dans tel ook as oefening. 

3. Vertroeteling

’n Bietjie liefdevolle selfversorging is ’n wonderlike manier om beter te voel. Kies iets wat jy die meeste geniet, soos ’n massering of ’n ontspannende gesigsbehandeling. Daar is al bevind ’n massering kan depressie, stres en angs help verlig. Nadat deelnemers aan ’n studie ’n lekker massering gekry het, het hul vlakke van die streshormoon kortisol met 53% gedaal en hul serotonienvlakke het verhoog. Maak sommer nou daardie afspraak! 

4. Kos

Ons bedoel nie jy moet eet net wat jy wil nie; ons stel voor jy geniet kossoorte wat gemoedstemming verbeter, soos eiers, kaas, pynappel, salm en selfs tofoe. Daar is al voorheen bevind dié kosse speel ’n rol by die verhoging van serotonienvlakke. Neute en sade ook.