In ’n wêreld waar tegnologie elke dag meer gevorderd raak, is dit baie makliker om inligting so te verdraai of verkeerd te interpreteer dat dit ná ’n ruk as ’n feit oorgedra word.

Inligting oor die menslike liggaam is geen uitsondering nie.

As jy glo dat alkohol jou liggaam kan warm maak, het jy in net een van die vele slaggate getrap van stories wat jare lank verkeerd oorgedra is.

Gelukkig help die wetenskap en internet ons om feite van die menslike liggaam behoorlik na te gaan.

Hier is vyf mites wat ander oor jou liggaam versprei:

1. Jou vingerafdrukke is heeltemal uniek

Vingerafdrukke speel ’n kardinale rol in groot strafregtelike sake. Maar volgens Mike Silverman, ’n forensiese wetenskaplike van Brittanje, is ons forensiese metodes tans so gebrekkig dat ons dalk nie soveel vertroue in vingerafdrukke moet sit nie. Om definitief te bewys dat elke vingerafdruk uniek is, sou ’n mens ook almal wat al ooit geleef het se afdruk met almal anders moet vergelyk; ’n onbegonne taak.

2. Om jou tong te kan rol is geneties

In 1940 het kenners gemeen genetika speel ’n rol in jou vermoë om jou tong te kan rol. As jou ouers hul tonge kan rol, kan jy ook. Gevolglik het baie kinders gedink hulle behoort nie aan hul ouers nie omdat hulle nie hul tong kan rol nie.

Maar 12 jaar later het 'n kenner in genetika, Philip Matlock, hierdie mite verkeerd bewys. Hy het 33 pare identiese tweelinge geneem en gevind dat een van die tweeling hul tong kan rol en die ander nie. En aangesien hul gene dieselfde was, het hy vasgestel die genetiese verklaring is ’n groot oorvereenvoudiging.

3. Jy sal nie siek word van die vyfsekondereël nie

Die vyfsekondereël – die idee dat jy kos wat geval het kan opraap en eet solank jy dit binne vyf sekondes doen – is al getoets.

“Bakterieë kan vir weke op die vloer leef,” sê dr. Rachel Vreeman, professor aan die mediese departement van die Universiteit van Indiana in Amerika.

“En as jy kos op die vloer laat val, word die bakterieë byna onmiddellik oorgedra vanaf die vloer na die kos. En dít is die soort bakterieë wat ’n mens siek maak.”

4. Hare groei dikker en donkerder terug as jy dit skeer

As jy ’n skeermes gebruik, beteken dit jy kan ’n groter deel van die haarwortel sien wanneer dit teruggroei, sê Robert Dorin, ’n kenner in haarsorg.

Daarom kan die hare vir ’n ruk donkerder en dikker voorkom. Maar dit bly eintlik dieselfde vorm. 

5. Jy het net vyf sintuie

Van kleins af word ons geleer ons het vyf sintuie: gesig, gehoor, reuk, smaak en gevoel.

Dis egter ver van die waarheid: Elke mens het in werklikheid tussen 22 en 33 sintuie. Dit sluit in die sin van balans, temperatuur, pyn en beweging.

Bronne: Futurism; Health24