'n Vrou se skouer
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Meer sonvlekke

Jy is waarskynlik in die kol as jy dink jy kry meer sonvlekke wanneer jy ouer word. “Dit kan ook ouderdomsvlekke genoem word omdat dit meer algemeen is wanneer ons ouer raak,” sê dr. Sanda Ntshangase van Durban.

“Dis omdat die vel dan verminderde elastisiteit het en die vermoë om te genees begin afneem. Sonvlekke, wat ook knoppies genoem word, is ’n soort hiperpigmentasie wat met langdurige sonblootstelling verbind word.”

Sy sê sy sien gewoonlik hierdie hiperpigmentasie aan dele van die lyf wat baie sonlig kry, soos die arms, gesig en bene.

Sonvlekke is goedaardig en daar is meestal geen rede tot kommer wanneer dit nie in voorkoms verander nie

Wat dit anders maak as ander soorte vlekke (soos moesies), is dat dit nie bo-op die vel groei nie. Met ander woorde, dis plat en nie verhewe nie. Jy moet basies soek vir die “bruin, sproetagtige kolle op die gesig, bors, arms en hande wat vinnig kan verdonker en vergroot”, sê Nancy Samolitis, ’n dermatoloog in Wes-Hollywood.

“Knoppies is gewoonlik pynloos as dit kankeragtig is,” sê Sanda. Maar dis goedaardig en daar is meestal geen rede tot kommer wanneer dit nie in voorkoms verander nie. As jy bekommerd is, kan jou dokter jou verwys na ’n dermatoloog, wat ’n biopsie sal doen.

Sakkies onder die oë

Pragtige vrou bekyk haarself.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ons het al almal ervaar hoe laat wakkerbly, te veel alkohol, sigarette of sonblootstelling sakkies onder die oë kan veroorsaak.

Sommige van ons het dalk met covid-19 – danksy verbeterde gewoontes tydens die inperking – van hierdie slegte gewoontes ontslae geraak en steeds gesukkel met pofferige oë.

Volgens kenners is daar twee hoofsondaars behalwe allergieë en PMS: sout en te min oefening. Dit is albei waarskynlike oorsake van waterretensie. Die teenmiddels is verminderde soutinname en om soveel moontlik te beweeg.

Meer skoonheidsmerke

Pragtige vrou bekyk haarself.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy sien jouself elke dag in die spieël en eendag merk jy op daar het nog ’n moesie of twee verskyn. Die slegte nuus is “amper elke volwassene het een”, berig L’Oréal se tydskrif Beauty – wat beteken een, twee of selfs 20 moesies is niks spesiaals nie.

Dis inderwaarheid normaal om as volwassene tussen 10 en 40 moesies te hê. ’n Moesie is gewoonlik meer verhewe en staan meer uit as ’n sonvlek en kan dalk donkerder, ligter of net soos jou gelaat wees.

Dit kan jare teenwoordig wees voor dit kankeragtig raak – indien ooit.

En soos die geval met die meeste veltoestande is die son die grootste vyand. Die goeie nuus is dat dit maklik is om ’n moesie te identifseer deur gereeld jou vel met die ABCDE-metode te ondersoek, sê dr. Bongiwe Msimang, ’n estetiese praktisyn by Zuri Medical Aesthetics in Durban.

Die metode behels om te soek vir asimmetrie – algemene moesies is rond en simmetries, volgens Kansa. Oneweredige rande, kleurverandering en ’n deursnee groter as 6 mm wat steeds aanhou groei, is redes tot kommer.

Pragtige vrou bekyk haarself.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bongiwe benadruk die belangrikheid van geskiedenis, byvoorbeeld of jy die moesie gehad het van geboorte af of toe jy jonger was. Dit is ook nie veronderstel om van kleur te verander wanneer jy ouer word nie, sê sy.

“As dit kankeragtig word, kan dit begin bloei of seer raak. ’n Biopsie sal bepaal watter selle kankeragtig is.”

Sy beklemtoon die belangrikheid van jou ABCDE-ondersoek vir melanoom selfs voor jy dit oorweeg om ’n moesie te laat verwyder wat nie vir jou mooi lyk nie.

“Jy kan nie net enige moesie verwyder nie, want jy kan moontlik meer skade aanrig as dit op die ou end kankeragtig is en die selle versprei.” Bongiwe gebruik die vriesmetode vir die verwydering van moesies.

“Ons gebruik vloeibare stikstof wat die moesie dood en onaktief maak, dan val dit af en behoort nie enige litteken agter te laat nie.”

Soms dink ’n mens ’n moesie het “net skielik” in jou 20’s verskyn, maar wanneer jy ou foto’s nagaan, kom jy agter dis al ’n rukkie daar; dan hoef jy jou nie te veel te bekommer nie. Hou dit maar net dop.

Die swangerskapmasker

Pragtige vrou bekyk haarself.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Swanger? Jou vel het maniere om dit te verklap. Melasma is een van die meer prominente tekens dat iets broei. Dit kom gewoonlik voor as donker vlekke op die ken, neus, wange, voorkop of bolip wat lyers selfbewus kan maak.

Die donker vlekke is ook algemener onder mense met donker velle, hoewel daar geen rede hiervoor is nie, volgens die Amerikaanse akademie vir dermatologie.

Melasma dui oor die algemeen op aansienlike hormonale veranderings onder die vel – soos tydens swangerskap of wanneer jy sekere soorte medikasie gebruik – of ongesonde blootstelling aan die son.

“Die son is die grootste verergerende faktor, ongeag die onderliggende oorsaak,” sê dr. Shadi Kourosh, direkteur van die multi-etniese velkliniek in Massachusetts.

Sy voeg by dat melasma moeilik is om te behandel en dat die oorsake daarvan nog nie heeltemal verstaan word nie.

Harige ken

Pragtige vrou bekyk haarself.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy jou gesighare onlangs begin pluk het, lees verder. Bongiwe sê gesighare onder vroue is in talle gevalle oorerflik, maar kan ook ’n aanduiding wees van polisistiese ovariale sindroom, ’n hormoonafwyking onder vroue met hoër vlakke van androgene (manlike) hormone.

As die groei van sigbare kenhare en/of ’n snor oorerflik is, kan jy behandeling daarvoor kry.

“Dit hang net af van hoe erg die gesighaargroei is,” sê sy. Sy waarsku ook teen wasbehandelings wat self gedoen word – “jy kan dalk jou vel afruk” – of om laserhaarverwydering tuis te doen, wat laserbrandwonde kan veroorsaak wat tot hiperpigmentasie lei.

“Threading (waar ’n garingdraadjie gebruik word) is waarskynlik die beste, want jy wend geen chemiese stowwe aan die sensitiewe area rondom jou lippe aan nie.” En dan is daar altyd jou betroubare tangetjie.

Seer mondhoeke

Seer mondhoeke beteken nie jy het ’n te groot hap van ’n appel gevat, vergeet om jou lippe te bevog of te veel geglimlag in ’n twee uur lange Zoom-opvangsessie nie. Dit kan lipontsteking wees.

Die oorsake van hierdie pynlike toestand is omvangryk. Dit kan wees as gevolg van ’n tekort aan vitamien B2, B3 en B6 of ’n stysel- of glukoseryke dieet, sê Maya Feller, ’n dieetkundige van New York.

Of dit kan die resultaat wees van ’n opbou van kwyl terwyl jy slaap wat hierdie seertjie by die mondhoeke veroorsaak, sê die dermatoloog dr. Manjula Jegasothy.

Van die maniere om die toestand te behandel is om jou dieet te verander met die leiding van ’n dieetkundige en aandag te skenk aan goeie mondhigiëne. Die belangrikste is om eers ’n akkurate diagnose te kry.

EKSTRA BRONNE: HEALTH.HARVARD.EDU/WOMENS-HEALTH, OPRAHMAG.COM, LOREALPARISUSA.COM/BEAUTY-MAGAZINE, DW.COM, SELF.COM, REFINERY29.COM, WOMENSHEALTHMAG.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe