Voel jy uitgeput en afgemat al is die jaar nog ver van klaar? Gee jou brein 'n hupstoot met dié prettige en maklike oefeninge; dit behoort jou grysstof skerp te hou al raak jy ouer.

1. Gebruik jou niedominante hand

Om dinge andersom te doen hou baie voor­dele in, en omdat jou brein en hande verbind is, kan jy jou brein stimuleer deur jou hande te gebruik. 

Nuwe ervarings stimuleer meer verbindings tussen verskillende dele van die brein, ver­beter jou geheue en maak omliggende selle meer bestand teen die uitwerking van ver­oudering, sê die Amerikaanse neuro­bioloog Lawrence C. Katz. 

Wanneer jy dus weer jou tande borsel, ruil hande en gebruik jou “verkeerde” hand. Jy kan dié beginsel op allerlei maniere toepas – wanneer jy jou hemp toeknoop, brood smeer, blomme rangskik, noem maar op. 

2. Draai dinge om

Nog 'n manier om jou brein “gimna­sium” toe te stuur is om gewone voorwerpe onderstebo te draai.

Wanneer jy na iets soos 'n prent teen jou muur of 'n ornament op die kaggelrak kyk, is die linkerbrein, of “verbale” brein, daaraan gewoond om dit te herken, waar te neem en dan jou aandag weg te neem.

Maar wanneer iets onderstebo is, word die regterkant van jou brein geprikkel, want dit besef iets is misplaas en probeer die voorwerp volgens vorm, grootte en kleur identi­fiseer. 

Nog 'n truuk is om items in jou kombuis­kaste om te ruil. Jou brein raak so gewoond aan waar alles is dat dit outomaties begin funk­sioneer.

Deur dinge te herrangskik moet jy ’n slag dink wanneer jy jou volgende koppie koffie wil maak – en dís goed vir jou brein.

3. Stort met toe oë

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Gebruik jou tassin deur die krane oop te draai en jou hare en lyf met toe oë te was. Om te probeer uitpluis watter bottel die sjampoe en watter een die opknapper is, sal jou brein leer om situasies te kan hanteer wanneer jou sig belemmer is. 

4. Verander jou roetine

Studies toon dat eenvoudige alledaagse take die korteks – die buitenste laag van die serebrum – stimuleer en vlakke van breinaktiwiteit verhoog. Maar wanneer ’n taak eers ’n roetine word, neem breinaktiwiteit af en stagneer dit.

Doen dinge ’n bietjie anders om jou slimmer te hou: Begin elke dag met ’n meditasiesessie, stap soggens vroeg met die hond, lees terwyl jy ’n koppie tee maak – enige klein verandering sal ’n groot verskil maak. 

5. Kyk in die supermark rond

Ter ilustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter ilustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die volgende keer wanneer jy jou hand na die tuna uitsteek, kyk van bo na onder op die rak en soek ’n handelsnaam wat jy nie herken nie. Tel dit op en lees die etiket.

Jy hoef dit nie te koop om die voordele te kry nie, want deur bloot jou roetine te verbreek en iets nuuts te ervaar het jy reeds jou brein oefening gegee. 

6. Maak die motorvensters oop

Die hippokampus, die deel van jou brein wat herinnerings verwerk, is daarvoor verantwoordelik om reuke, klanke en gesigte te herken om breinkaarte te bou.

Bevorder dit deur nuwe reuke en klanke te identifiseer die volgende keer wanneer jy uit die huis gaan. 'n Maklike manier om dié belangrike breinfunksie te oefen is om bloot die ruite oop te maak wanneer jy in die motor is.

7. Dink in prente

Beelde is 'n doeltreffende manier om jou geheue te verbeter, sê Ian Robinson, 'n sielkundeprofessor van Dublin. 

Navorsing toon prente aktiveer meer dele van ons brein as woorde, wat dit ’n kragtige hulpmiddel maak om gesigte, name, gebeurtenisse of ervarings mee te onthou.

“Ons word as kinders grootgemaak om in prente te dink, maar namate ons ouer word, verloor ons daardie vermoë,” sê hy. 

Leer jou brein so om dit te doen: As jy weer ’n roete iewers heen beplan, visualiseer elke baken langs die pad; of sien elke item in jou geestesoog wanneer jy jou inkopielys opstel. 

  • Bronne: dailymail.co.uk, rd.com, fastcompany.com
  • Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef dié wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie veran twoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.