Die gousblomkleurige spesery – ’n belangrike bestanddeel in Indiese en ander kookkunste uit Asië – duik in nou alles op, van smoothies tot kolwyntjies en latte-drankies. En kenners beweer dis boonop baie gesond. 

Wat is borrie?

Borrie, ook bekend as curcuma longa, is ’n lid van die gemmerfamilie en dit kom natuurlik voor in Suid-Asië. Indien dit nie vars gebruik word nie, kan ’n poeier gemaak word deur die volwasse borrierisome (ondergrondse stamme) fyn te maal.  Die spesery het ’n onmiskenbaar aardse, peperagtige aroma en ’n skerp smaak. 

Wat is die gesondheidsvoordele?

Tradisionele medisinale gebruike sluit in die behandeling van lewersiektes, velprobleme, verrekte spiere, gewrigspyne en die heling van wonde oor die algemeen.  

Die voordele van borrie is behoorlik aangeteken in mediese literatuur, en daar is bevind dat kurkumien – een van die goed bestudeerde bioaktiewe hoofbestanddele van borrie – gesondheid bevorder en beskerming bied teen ’n wye verskeidenheid siektes.  

Dit is ook propvol gesonde voedingstowwe soos mangaan, yster, vitamien B6, vesel, koper en kalium. Rick Hay, ’n teenverouderingskundige, is ’n groot bewonderaar van borrie en sy antimikrobiese eienskappe en antivirale werking.

"Dit is ’n wonderlike, veelsydige gesondheidstonikum, gerugsteun deur goeie navorsing,” sê hy.

Hoeveel borrie behoort jy per dag in te neem?

Rick se raad is dat jy een telepel borrie per dag kan inneem, hoewel jy nog een kan neem indien jou immuunstelsel swak is. Die gesondheidseienskappe van borrie is doeltreffend in enige vorm, maar vloeistowwe blyk sterker te wees. ’n Mens kan ook kapsules koop.

Hoe kan ek meer borrie deel maak van my dieet?

Borrie bevat ondertone van gemmer en lemoen, dus verleen dit net die regte titsel geur aan allerhande soorte resepte.  ’n Lekker manier om te begin, is om ’n knippie van die spesery by roereiers, frittata of geroerde tofu te voeg.  Of jy kan dit eenvoudig oor geroosterde groente strooi, dit by ’n pot gewone rys voeg en geelrys maak, of dit oor gesoteerde of gestoofde groente, soos kool, krulkool en kopkool, sprinkel.

Hoewel borriewortel lekker smaak in sappe of smoothies, is ’n knippie van die fyngemaalde variasie ook smaaklik, met ’n sagter geur. Indien jy probeer om van ’n ernstige kafeïengewoonte ontslae te raak, is dit nou die regte tyd om jou oggend-espresso te verruil vir ’n borrie-latté. 

Rick beweer een borrie-latté per dag is goed vir jou gesondheid, en indien jy ’n skeutjie heuning as versoeter gebruik, hou dit selfs meer gesondheidsvoordele in.

"Borrie-latté’s sal jou inname van fitonutriënte ’n hupstoot gee – en dit is ’n goeie ding indien jou immuunstelsel onder druk is of as jy net ’n bietjie meer natuurlike energie gedurende die dag soek,” verduidelik hy.

© Cover Media