’n Nuwe boek gee praktiese raad oor hoe om menopo
’n Nuwe boek gee praktiese raad oor hoe om menopouse te oorwin. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Warm gloede, slapelose nagte, buierigheid, trane en gewig aansit – as jy in jou menopouse is, klink sommige van dié dinge maar alte bekend.

Jy ervaar waarskynlik ook ander selfs onaangenamer simptome.

Oor sommige daarvan praat jy heel moontlik nie graag nie, want jy skaam jou dood, soos die snorbaarde wat skielik begin groei, en dit terwyl die hare op jou kop ál meer uitval.

Moenie vrees nie; praktiese raad is beskikbaar wat ’n mens maklik kan toepas om jou te help om jou pad deur dié lewensfase te vind.

In die Britse gesondheidskrywer en TV-aanbieder Liz Earle se jongste boek, The Good Menopause Guide, ondersoek sy die menopousale simptome wat talle vroue in hul middeljare ervaar en kyk na hoe jy maklike stappe kan doen om verligting te kry.

Hier is ’n verkorte en geredigeerde uittreksel uit haar boek.

Haarverlies- en harigheid

Jy sien ’n foto van jouself van 10 jaar gelede met ’n dik bos blink hare.

Dit lyk glad nie soos die fyn, swak haartjies wat jy nou het nie, en daar is ook nog geen teken van jou haarlyn wat begin terugskuif hier by jou voorkop en slape nie.

Die hormoon estrogeen laat hare in hul groeifase gedy. Hoe langer dié fase duur, hoe langer kan die hare groei.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Maar as jou estrogeen tydens menopouse minder raak, raak jou hare se groeifase korter en val dit uit voor dit lank kan word.

Terwyl jou estrogeen verminder, veroorsaak menopouse weer ’n toename in androgene, die manlike hormone wat hare dunner laat word, soos by mans wat hare op hul kop verloor.

Intussen kan vroue se gesighare soos ligte of donker “donsies” begin lyk wat oor die onderste helfte van die gesig en nek verskyn.

Dit kom voor in die vorm van harde haartjies wat oënskynlik oornag aan die ken of bolip verskyn.

Wenke

Kies ’n nuwe haarstyl

Talle vroue kom agter byderwetse kort hare gee hulle nuwe moed en hulle sien dan ook kans om nie meer hul hare te kleur nie; alles veel minder moeite.

Die teenoorgestelde kan ook waar wees. ’n Mens kry min makliker maniere om die uiterlike tekens van veroudering weg te steek as om semipermanente kleur te laat insit of sagte aksentkleure tussen die grys (my gunstelingmanier van oëverblindery).

Pluk die gesighare summier uit

Vermy daardie onaangename situasie waar jy tydens ’n sosiale geleentheid of op kantoor kleedkamer toe gaan en ’n aaklige swart haar aan jou bolip sien.

Koop ’n goeie staanspieëltjie wat kan vergroot en lig op jou gesig kan gooi.

Hou altyd ’n haartangetjie byderhand sodat jy op die daad van sulke haartjies kan ontslae raak.

Meer langdurende oplossings is laser, waks, onthaarroom en elektrolise.

Drink vitamiene en aanvullings

Jou hare sal gedy op ’n dieet wat ryk is aan proteïen en vitamiene, plus ’n daaglikse dosis silika (’n chemiese verbinding wat beengesondheid kan help bevorder), biotien (’n B-vitamien wat die liggaam help om kos in energie te omskep) en seewier.

Neem ook yster in, want dit gee ons energie en voorkom bloedarmoede en moegheid. En dit help haargoei aan.

Laat jou wimpers weliger lyk

Ongelukkig word dit ook dunner, maar jy kan ’n paar lae maskara aanwend om dit volume te gee.

Moenie jels en serums ten duurste aanskaf wat wimpers sogenaamd “regenereer” nie; dit is peperduur en kan oogirritasie veroorsaak of selfs jou wimpers laat uitval.

’n Beter opsie is om jou wimpers te laat kleur om dié wat jy oorhet beter te laat uitstaan.

Hoe sê?

Tydens menopouse moet jou gehoorverlies deur ’n oudioloog gemonitor word, veral omdat navorsing toon 40% van alle mense oor 50 jaar ondervind ’n mate van gehoorverlies en 70% teen die ouderdom van 70.

Estrogeen het ’n beskermende uitwerking op gehoor.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Navorsers in Swede het bevind menopouse is ’n sneller vir relatief vinnige ouderdomsverwante gehoorverlies by gesonde vroue.

Dit begin gewoonlik in die linkeroor, sê hulle.

Wenke

  • Beskerm jou gehoor soveel moontlik deur raserige plekke te vermy en oorskutte te dra wanneer jy in ’n vliegtuig is, gras sny of musiekkonserte bywoon.
  • Play It Down is ’n gratis iPhone- en iPad-app wat gebruikers in staat stel om hul gehoor- sowel as geraasvlakke daardeur te bepaal.

Iets vergeet?

Ek is nie die enigste een wat voel ’n mens se selfvertroue kry nogal ’n knou as jy nie meer so lekker kan onthou nie.

Hoekom is vergeetagtigheid so ’n groot ding tydens menopouse?

Estrogeen reguleer die vlakke van die hormoon kortisol, wat op sy beurt breinchemikalieë beïnvloed.

As estrogeenvlakke daal, is die beheer wat dit oor kortisol het maar wisselvallig en dit veroorsaak probleme met jou korttermyngeheue.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Dis algemeen om nie meer so betrokke soos voorheen by dinge om jou te voel nie, en die vermoë om te konsentreer of aan ’n klomp dinge tegelyk aandag te gee neem af.

Jy wonder of jy lui geword het, of dit maar is soos die ouderdom lyk en of jy tekens van vroeë demensie het.

Wenke

Dit is gerusstellend om te weet dit is algemene simptome en dat talle stories vertel word van mense wat simpel goed aanvang, soos om die skottelwassertablette in die wasmasjien te sit, ’n bankkaart te probeer stop wat jy net die vorige dag gekanselleer het en te vergeet waar jy die motor 20 minute gelede parkeer het.

Hoewel ons weet dalende hormoonvlakke kan tot dié simptome bydra, is dit belangrik om te weet en onsself krediet te gee vir die feit dat ons dié reuseveranderings op ’n besige tyd van ons lewe hanteer: ’n veeleisende beroep, die versorging van ouers en moontlike betrokkenheid by gemeenskapsprojekte.

Moenie te selfkrities wees nie.

Om beter te kan sien, my kind

Oogtoetse sal veranderings in jou sig uitwys. Die behoefte aan ’n leesbril val gewoonlik saam met die perimenopouse (die tydperk voor die menopouse).

Dit is nou ’n goeie tyd om met jou oogarts te gesels as jy kontaklense dra, want hulle kan jou begin irriteer weens die perimenopouse se “droë-oë-sindroom”.

Jy sal dalk meer dikwels jou bril moet dra en die gebruik van lense moet beperk.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die rede? Laer hormoonvlakke beïnvloed die okulêre weefsel en die vervaardiging van trane.

Dit voel ook dalk of jy dubbel sien, jou oë brand en dit voel pal of daar iets in jou oog is.

Wenke

  • Hou altyd oogdruppels in jou handsak, veral as jy lank voor ’n rekenaar sit en werk.
  • Koop ’n sonbril van goeie gehalte om jou teen katarakte en ouderdomsverwante agteruitgang van jou sig te beskerm.
  • Dra altyd jou sonbril op helder of winderige dae sodat jou oë nie droog of sensitief voel nie.
  • Mense wat daagliks ’n probiotiese jogurt drink, vertel dit verbeter hul ooggesondheid.

Jou gesig begin anders lyk 

Ek is geboei deur die Amerikaanse ginekoloog en skrywer van The Venus Week, dr. Rebecca Booth, se benadering tot osteoporose, wat algemeen onder ouerwordende vroue voorkom.

Wanneer sy wil hê vroue moet dit ernstig opneem, vertel sy vir hulle dit gaan hul gesig ook beïnvloed.

“Hulle is gewoonlik geskok, want hulle dink osteoporose raak net die groter bene van die skelet, soos die ruggraat, heupe en bene,” verduidelik Rebecca.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

“Die orbitale been wat jou oë omring, is ’n sentrale kenmerk van die gesig. Wanneer beendigtheid met die ouderdom afneem, word die oogkasse ’n bietjie groter en dit laat jou oë effens sink.

“Dit lei tot donker kringe rondom jou oë en ’n verlies aan volume onder die oë. Ons fokus op plooie, maar die raamwerk van been is belangrik om ons vel te ondersteun.”

Wenke

Beskerm jou kake en tande

Hier kan drastiese veranderings plaasvind, selfs al het jy geen geskiedenis van tandprobleme nie.

’n Verslag in 2006 van die Amerikaanse Tandheelkundevereniging het uitgewys postmenopousale vroue met osteoporose het meer dikwels ná 50 nuwe tande nodig as vroue sonder osteoporose.

Keer dat jou tande uitval

Navorsing wys dat algehele beendigtheidsverlies in die liggaam tot tandverlies in ’n andersins gesonde mond kan bydra.

Dit is ’n motivering om jou tande twee keer per dag te borsel en een keer per dag te vlos en boonop twee keer per jaar tandarts en mondhigiënis toe te gaan.

Die oogkasse word groter en dit laat jou oë effens sink

Skaam vir jou pêrels

Mondgesondheid moet ’n prioriteit wees, want die tandvleis en weefsel in ons mond begin tekens van terugtrekking toon.

Wanneer ons ouer word, skei ons minder speeksel af. Dit veroorsaak dat bakterieë aan tande en tandvleis klou en tandbederf toeneem.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Navorsing wys ’n verband bestaan tussen tandplaak en die plaak wat in die are saampak en tot arteriosklerose (die verdikking en verharding van bloedvate se wande) lei, ’n groot faktor in kardiovaskulêre siekte (KVS).

Dit klink dalk vreemd, maar as jy ’n familiegeskiedenis van KVS het, moet jy elke ses of selfs drie maande ’n mondhigiënis besoek om die plaak onder beheer te hou.

Wenke

Terugtrekkende tandvleis, inflammasie en verlaagde hormoonvlakke kan die tandvleise sensitiewer maak en laat terugtrek, wat die tande ooplaat vir bederf.

Bloeiende tandvleise is ’n rede om tandarts toe te gaan, want dit kan ’n teken wees van gingivitis, oftewel ontsteking van die tandvleis.

Mondongemak kan voorkom. Algemene simptome van ’n afname in estrogeen en derhalwe die vervaardiging van speeksel is ’n seer mond, ’n brandgevoel, veranderde smaakpersepsie en ’n droë mond.

Dit is nog ’n rede om altyd ’n beker gefiltreerde water op jou lessenaar te hê sodat jy deur die dag gehidreer kan bly.

Opgeblaas?

Omdat ons hormone tydens menopouse so deurmekaar is, is die kans goed dat ons meer maaggas vervaardig, wat beteken ons laat meer winde.

Die proses van oormatige gasvervaardiging begin in jou perimenopouse, wanneer die balans van goeie en slegte bakterieë wat by jou spysvertering betrokke is, ontwrig word deur die wisselende vlakke van estrogeen en progesteroon.

Foto: Gallo Images/ Getty Images.

As die bakterieë in jou ingewande gebalanseer is, kan gesonde spysvertering plaasvind, maar as dit versteur word, reageer die maag deur meer gas te maak.

Die beste oplossing sou wees om die hormoonvlakke te balanseer, maar ander praktiese maniere bestaan om maaggas te help verminder.

Wenke

  • Eet kleiner porsies meer dikwels.
  • Kou stadiger; dit breek die kos in kleiner stukkies en help die verteringsensieme in die speeksel doeltreffender werk.
  • Neem ’n probiotiese aanvulling om die goeie bakterieë in die ingewande te laat vermeerder. Kies ’n kapsule of poeier wat verskillende soorte voordelige mikroflora bevat.
  • Oefen gereeld. As bloedvloei deur die liggaam verhoog word, word die verteringstelsel gestimuleer om doeltreffender te werk.
The Good Menopause Guide deur Liz Earle. Foto: Verskaf.

© Liz Earle 2018. ’n vertaalde en geredigeerde Uittreksel uit The Good Menopause Guide deur Liz Earle (Orion Spring, In Suid-Afrika versprei deur Jonathan Ball, R495, beskikbaar by goeie boekwinkels)