Elke lewensfase gaan gepaard met sy eie unieke stres. Op skool is dit eksamendruk en die soeke na jouself; as jong volwassene is dit dalk die eise van jou werklewe, ’n huwelik en ouerskap wat jou kwel, en latere jare moet jy weer by aftrede aanpas.

Hier is ’n gids met maniere om die stressors op elke ouderdom te hanteer sodat jy telkens jou emosionele krag kan herlaai.

0-16 JAAR
Vir kinders wat herhaaldelik oor hul bekommernisse
Vir kinders wat herhaaldelik oor hul bekommernisse wil praat, kan jy elke dag 15 minute se “kommertyd” opsysit. Foto: Gallo Images/Getty Images

SNELLERS  

Kyk maar net na die kinders en jong ­tieners om jou en jy sal kan agterkom hoeveel stres die samelewing deesdae ervaar.

“In elke kultuur is hulle die individue wat die sensitiefste vir die probleme – en stres – in die omgewing is,” sê Tom Boyce, ’n pediatrie- en psigiatrieprofessor aan die Universiteit van Kalifornië.

Groot stressors in dié ouderdomsgroep sluit in huwelikskonflik tussen ouers, geweld in die huis en gemeen­skap, probleme met die geestesgesondheid van ouers, byvoorbeeld ’n ma of pa wat depressief is, mishandeling en dissiplinêre kwessies.

Boonop is skool ’n groot bron van angs, want selfs op laerskool word akademiese druk al op die leerders uitgeoefen.

“Kinders is van nature bang hulle laat mense dalk in die steek,” sê Dominique Thompson, ’n Britse dokter.

Dinge soos vriendskappe, die sosiale media en sosiale situasies is ekstra ­snellers, terwyl veral tieners met hul identiteit worstel.

“Die hele doel van adolessensie is om jou van jou ouers los te maak,” sê sy.

“Tieners skep self vir hulle ’n nuwe beeld van wie hulle wil wees en waarvoor hulle bekend wil wees. Dit op sigself is ’n stresvolle proses.”

DIE TEKENS

Party kinders kan sê wat hulle pla, terwyl ander sukkel om hul emosies te verwoord. Ouers moet dikwels ’n bietjie speurwerk doen om agter te kom wat skort, sê Tom.

Simptome sluit in nagmerries, slaapwandel en bednatmaak, of kinders vermy soms aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het. Party kan obsessiewe gedrag toon, die sosiale media oormatig gebruik of teruggetrokke word.

HERLAAI SO

Vir kinders wat herhaaldelik oor hul bekommernisse wil praat, kan jy elke dag 15 minute se “kommertyd” opsysit, stel Tom voor. ’n Gedurige getob is nie goed nie. Sê julle kan die kwellings in kommertyd bespreek, maar nie op ander tye nie.

As hulle wel ’n kwessie ophaal, sê net: “Kom ons praat in kommertyd daaroor.”

Dis moeilik om te besluit wanneer om ’n kind te druk en wanneer om hulle beweegruimte te gee, en “jy kan dit net op grond van aanvoeling en jou kennis van jou kind doen”, sê Tom.

Kreatiwiteit help.

Hy vertel van die ma van ’n jong seun wat soggens geweier het om vir skool reg te maak. Sy het stukkies vilt teen ’n bord geplak wat tande borsel, skoene aantrek en ontbyt eet verteenwoordig.

Sy het hom toe elke dag laat kies in watter volgorde hy dié dinge wil doen.

Tom se belangrikste raad aan ouers?

Hou by roetine en laat jou kinders speel. Wys dat jy omgee, en laat hulle verstaan jou liefde is onvoorwaardelik. Dit alles neem tyd, maar Tom glo nie in gehaltetyd nie. Bied net genoeg tyd vir “enige soort saamwees”.

Openlike gesprekke duik soms onbepland op, byvoorbeeld in die motor op pad na ’n sportwedstryd toe.

As jou kind weens angstigheid sekere aktiwiteite vermy, beveel Dominique aan jy gebruik ’n benadering wat deur kognitiewe gedragsterapie beïnvloed is.

“Moenie die kind spot of oordryf nie. Sê eerder: ‘Wat is jy bang sal dalk gebeur? En wat sou dan gebeur? Goed, ons kan dit hanteer. Ons het pleisters, ’n noodhulpkissie of wat ook al.’ ”

Wanneer stres en angstigheid met sy of haar normale lewe inmeng, sê sy, is dit tyd om ’n dokter te besoek.

16-25 JAAR

SNELLERS

Die laat tienerjare tot vroeë volwassenheid is ’n ontwikkelingstadium waar die individu van die gesin af wegbeweeg, sê die Britse kliniese sielkundige dr. Alex Fowke.

Saam met dié onafhanklikheid kom die vrees vir verwerping en vernedering.

Verhoudings – of die gebrek daaraan – veroorsaak ontsaglike stres, veral omdat jy op dié ouderdom nog op soek is na en besig is om jou identiteit te vorm.

Dit gebeur boonop in ’n tyd wat jy dalk as student of in ’n eerste werk weg van die huis af saam met vreemdelinge woon.

Finansiële bekommernisse is al­gemeen, maar die grootste stressors in dié jare is verhoudings- en akademiese druk.

Tydens eksamentyd en op universiteit kan dié druk veroorsaak dat mense onmoontlike hoë eise aan hulself stel.

Die sosiale media oefen ekstra druk uit en vererger die gewoonte om jou voortdurend met ander te vergelyk. Alex beskryf dié gewoonte as “ver­gelyk en vertwyfel”.

Boonop is gesinstres, byvoorbeeld ’n ma en pa wat skei, algemeen.

Dominique maan ouers om die versoeking te weerstaan om hulle tot hul ouer kinders vir steun te wend.

DIE TEKENS

Op dié ouderdom kan stres homself soms in sterk emosies vermom. Jong vroue kan dikwels tranerig voel terwyl jong mans prikkelbaarheid en woede toon, sê Dominique.

Ander soek dalk kompulsief gerusstelling. Daar kan selfs ’n gevoel van vrees in hul agterkop wees.

Sommige gebruik alkohol of dwelms om bekommernisse te hanteer, veral dié wat weg van die huis woon.

“Konsentrasie word moeilik,” sê Alex, “en kan lei tot iets wat dalk soos ’n geheueprobleem lyk.”

Baie kies om sosiale situasies te vermy.

HERLAAI SO

As kwessies oor identiteit of oor wat jy in die lewe wil bereik en eendag wil nalaat, stres veroorsaak, beveel Alex aan jy werk ’n bietjie aan jou waardes.

Vra jouself af wat jy graag wil hê mense op jou aftreepartytjie oor jou moet sê.

Hoewel aftrede ver weg is, sê Alex ­bekommernisse oor nalatenskap is ­algemeen op dié ouderdom – moontlik omdat jong mense groot lewensbesluite moet neem.

Om oor die groter prentjie te dink help om jou verwagtings aan te pas.

“Soms is dit nodig om jou daarin te berus dat jy sekere dinge vir die pret doen, maar dat daar ander dinge is wat jy net eenvoudig moet doen,” sê hy.

As jy ’n eerstejaar op universiteit is wat sukkel om aan te pas, moet jy na hulpbronne soek. Studenteverenigings is ’n goeie beginpunt, en baie tersiêre instellings het beraders by wie studente om hulp kan aanklop.

“Behandeling wat op mindfulness gegrond is, help om katastrofiese denk­patrone te verander,” sê Alex. Sosiale angs kan met geleidelike blootstelling gekonfronteer word, sê Dominique.

Gaan byvoorbeeld uit vir koffie en luister na die gesprekke van ander. Oorweeg terapie as die angstigheid ernstiger is; party mense het dalk selfs medikasie nodig.

25-35 JAAR
Britse berader Sally Brown beveel aan dat jy elke
Britse berader Sally Brown beveel aan dat jy elke dag vyf minute lank met ’n koppie tee gaan sit sonder om die hele internet op jou foon te lees. Foto: Gallo Images/Getty Images

SNELLERS

Dis ’n groot oorgangstadium in die lewe. Baie mense in dié groep probeer om die volmaakte huwelik en kinders te hê terwyl hulle steeds by die werk moet presteer. Hulle vergelyk dalk hul lewe met dié van hul ouers op dieselfde ouderdom.

Daar kan druk wees om met ’n gesin te begin.

“Een van die stressors is dikwels: ‘Ek moes teen dié tyd reeds dié dinge gehad en bereik het. My vriende skop al nes, maar ek gaan nie eens met iemand uit nie,’ ” sê Alex.

“Daar’s ’n on­realistiese verwagting dat als moontlik is.”

Diegene wat vir die eerste keer begin werk, gaan deur ’n groot aanpassing.

“Hulle beskik dalk nie oor die nodige vaardighede nie, wat hulle onseker van hulself maak,” sê die Britse berader Sally Brown.

Sy sien baie gedrewe jong mense wat op die oog af suksesvol lyk, maar wat met verlammende angsvlakke worstel.

DIE TEKENS

“Angs sal op ’n manier kop uitsteek na gelang van jou kwesbaar­heid,” sê Sally. As voorbeeld noem sy kom­pulsiewe oorpeinsing van sosiale situasies.

“Die ontleding ná elke geleentheid; jy kom by die huis, herhaal gesprekke en voel jy is geweeg en te lig bevind.”

Party mense geniet nie meer die take wat hulle voorheen graag verrig het nie. Hulle begin situasies vermy, terwyl ander waaksaam raak. Sally voeg by: “Daar kan ’n knaende stem wees wat vra: ‘Sal ek die mas kan opkom?’  ”

Selfkritiek is ’n groot probleem in dié ouderdomsgroep, sê sy. Baie kliënte het ’n boelie in hul kop wat hulle uittrap.

“Ons sou nie so ’n soort mens in ons lewe geduld het nie, maar ons doen dit aan onsself.”

HERLAAI SO

Jy moet vir jouself omgee, sê Sally.

“Dit beteken nie dat jy jouself verontskuldig nie; dit gaan eerder oor selfaanvaarding.”

Sy het die volgende raad aan diegene wat hulself gedurig slegsê en afkraak: “Behandel jouself ’n week lank soos jy ’n goeie vriend sou behandel. Dit op sigself kan ’n groot verandering teweegbring.”

Luister mooi na jou angs. Paniek­aanvalle is dikwels “ ’n teken dat die brein nodig het om te kalmeer”, sê Sally.

Sy beveel aan dat jy elke dag vyf minute lank met ’n koppie tee gaan sit sonder om die hele internet op jou foon te lees.

Vra jouself hoe jy voel, en konsentreer op jou gedagtes. As jou skouers tot by jou ore opgetrek is, moet jy van die spanning ontslae raak.

Beproef 7/11-asemhaling: asem sewe tellings in en 11 uit. ’n Langer uitasem reguleer die vlak van koolstofdioksied in die bloed.

Gebruik die 5-4-3-2-1-oefening om jouself in die hede te anker: Dink aan vyf dinge wat jy kan sien, vier dinge wat jy kan hoor, drie dinge wat jy kan voel, twee wat jy kan ruik en een wat jy kan proe.

Moenie op jou foon kyk sodra jy wakker word nie. Deur die sosiale media soggens te ignoreer, kan jy ’n groot ver­skil aan die res van jou dag maak.

35-55 JAAR

SNELLERS

“Werklike geestelike en liggaamlike kwessies kom in dié jare voor,” sê die Britse berader Louise Tyler. Stressors sluit in bekommernisse oor geld, veroudering en ’n gevoel van sterflikheid.

“Mense begin besef die lewe gaan nie vir ewig aan nie,” sê Louise.

Mense het vrae soos: “Het ek genoeg geld opsygesit? Hoe sal ek aftrede hanteer?” En deurgaans is daar “ ’n behoefte om produktief te voel”, sê sy.

Baie in dié groep, wat algemeen as die toebroodjiegenerasie bekendstaan, sorg vir sowel tienerkinders as bejaarde ouers.

Verbrokkelde verhoudings, egskeiding, eensaamheid en gesondheidsprobleme kan verdere snellers wees.

Sommige mense raak angstig omdat hulle hartseer is dat hulle nie kinders gehad het nie, sê Alex. Die perimenopouse en menopouse veroorsaak stres, en dit kan lei tot liggaamlike en emosionele simptome.

Daar word vermoed ’n soortgelyke lewensverandering bestaan by mans, genaamd die andropouse, wat met ’n geleidelike afname in testosteroon verbind word. Simptome sluit in depressie en ’n verlies aan seksdrif.

DIE TEKENS

Jy word snags wakker, dikwels met ’n kop wat gons.

“As kortisol deur die dag deur die liggaam voortsnel, skakel dit nie snags af nie,” maan Louise.

“Jou lyf sal wakker skrik.”

Streshormone kan hartkloppings, naarheid en ’n gebrek aan energie meebring. Louise het vasgestel party mense ontwikkel irrasionele fobies, byvoorbeeld om bang te word om op die hoofweg te bestuur.

Jonathan Rauch, skrywer van The Happiness Curve: Why Life Gets Better After 50, noem “onverklaarbare frustrasie en teleurstelling” wat dikwels voorkom. Woede en rusies met lewensmaats kan toeneem.

HERLAAI SO

Louise sê vroue in die toebroodjie­generasie is geneig om “meer van die emosionele wasgoed aan te vat” en kom uitgebrand by haar aan.

Sy moedig hulle aan om hulself toestemming te gee om af te skakel en stel voor hulle het gereelde “stoppunte” – ideaal gesproke drie keer per dag.

Wat jy in dié tyd doen, maak nie saak nie; dis die stop wat tel. Mediteer, lees die koerant, sit musiek aan tydens die pendeltog huis toe. Hou op om aftyd as selfsugtig te sien, sê sy.

“Oefening kan ook help deur adrenalien te verbrand.”

“Reik uit na ander,” sê Jonathan.

“Ek het die fout gemaak deur dit nie te doen nie. Sosiale afsondering maak dit erger.

“Bly in die hede geanker. Middeljare is ’n tydstrik. Jy is teleurgesteld oor jou lewe in die verlede en pessimisties oor die toekoms.”

Maar dis eintlik net die begin van ’n tydperk waarin jy die lewe op ’n ander manier waardeer, sê hy.

55-70 JAAR

SNELLERS

“Die dood, om eerlik te wees,” sê Martin Pollecoff (69), ’n psigoterapeut en die voorsitter van die Britse Raad vir Psigoterapie.

Jou groep vriende is dalk deur swak gesondheid en die dood uitgedun. Soos in enige tyd van oorgang is die spanning op verhoudings enorm.

“Dis taamlik algemeen dat een maat homself baie beter as die ander kan besig hou,” sê Celia Dodd, skrywer van How to Thrive in Retirement.

As een maat afgetree is, sal die een wat nog werk, dalk vra: “Wat het jy heeldag gedoen?” Dit kan sy maat se gevoel van doelloosheid vererger.

Konflik met volwasse kinders en ongelukkigheid oor kleinkinders wat ver weg is, kan ook stres veroorsaak.

Vir diegene wat stres met ’n bedrywige werklewe verbind het, kan dit moeilik wees om lusteloosheid as ’n teken van angs te herken. Net so kan diegene wat onlangs afgetree het dalk steeds op adrenalien loop, maar nou met nêrens om daaraan uiting te gee nie.

Vir party is daar “ ’n soort mede­dingende aftrede” weens die nuwe druk om ’n lekker tyd te hê. Spyt kan op die voorgrond kom. Onderliggend aan dit alles is diepe onsekerheid oor wat voorlê.

DIE TEKENS

’n Gesloer sowel as toenemende kommer oor gesondheid. Baie mense voel huiwerig om die huis te verlaat. Party ervaar frustrasie omdat hulle niks in die dag bereik het nie, of hulle broei oor vorige teleurstellings.

“Die drankie saans word vroeër en vroeër geskink,” sê Celia.

“En dan verloor baie net belangstelling in die lewe en dink: Wat is die punt van enigiets?”


HERLAAI SO­

“Aanvaar die dinge wat jy gedoen het en die dinge wat jy nooit sal kan doen nie,” sê Martin.

Jonathan (58) het die fase ervaar as “ ’n goeie tydperk om weer op koers te kom. Ons waardes verander. Ons plaas minder klem op ambisie en meer op verhoudings, wat baie vervullender is.”

Dit help om nuwe roetines te kry. “Werk vul ’n groot ruimte in ons lewe;  dis ’n kwessie van nuwe dinge kry wat waarde het,” sê Celia.

Vir diegene wat dit moeilik vind om uit die huis te kom, stel Celia voor jy bring klein veranderings aan. Luister na ’n ander radiostasie. Gaan na ’n restaurant vir ontbyt. Stap ’n ander roete na ’n bekende bestemming.

“Hou aan met verander en wees bereid om soms ’n bietjie ongemaklik te wees,” voeg sy by.

Vrywilligerswerk is een manier om dit te doen, maar dit kan ook wees om ’n ­vakansie te beplan of ’n liggaamlike uit­daging soos om 10 km ver te draf. Probeer iets nuuts.

En onthou: “Dis oukei om met party dinge vrotterig te wees,” sê Martin. “Een van die wonderlike dinge van bejaardheid is jy kan misluk, en dit sal jou nie vernietig nie.”

OUER AS 70 JAAR
In die groep ouer as 70 jaar? Dis ’n goeie tyd om
In die groep ouer as 70 jaar? Dis ’n goeie tyd om met ’n nuwe stokperdjie of aktiwiteit te begin – veral een wat behels dat jy ­ander mense ontmoet. Foto: Gallo Images/Getty Images

SNELLERS

Jy ervaar dalk die verlies van ’n maat of vriende, en jy voel of jy jou plek in die ­samelewing verloor. Vir party is daar die vooruitsig om na ’n versorgingsoord te trek – of die vrees daarvoor. Mense met demensie wat ’n mate van insig in hul toestand het, kan voel hulle verloor hul onafhanklikheid.

Vrees vir die dood is gewoonlik nie ’n groot probleem nie. “Jy sien dit nie so dikwels by ouer mense nie,” sê dr. Alex Bailey van die Royal College of Psy­chiatrists.

“Mense met ’n lang lewenservaring het gewoonlik daarmee vrede gemaak.”

Of hulle bou veerkragtigheid daarteen op. Swak gesondheid, aan die ander kant, lei tot angstigheid, veral as die siekte ’n bedreiging vir jou onafhanklikheid is.

Finansiële bekommernisse kan ook voorkom, veral oor die koste van sorg.

“Jy vertrou dalk nie jou familie om jou sake te bestuur nie. Hoeveel vertrou jy byvoorbeeld jou kinders?” vra Alex.

“Jy is dalk bang hulle beskou jou as ’n las, of jy vrees liggaamlike of geestelike onbevoegdheid, en dat jy alleen gelaat sal word. Een­saamheid is algemeen.”

DIE TEKENS

Kommer veroorsaak dikwels fisieke simptome. Verlies aan gewig en eetlus word gereeld toegeskryf aan ’n veranderde leefstyl, maar dit kan ook deur stres of angs veroorsaak word.

HERLAAI SO­

Hou jou sosiale netwerk so aktief moontlik, sê Alex.

“Ons is sosiale wesens.”

Gemeenskappe is vol geleenthede om te ­sosialiseer; gaan soek dit. Selfs klein daaglikse oomblikke van interaksie help, byvoorbeeld om met die posman of ­winkelassistent te gesels.

Dis ’n goeie tyd om met ’n nuwe stokperdjie of aktiwiteit te begin – veral een wat behels dat jy ­ander mense ontmoet.

As jy geneig is om jou snags te bekommer en dit tas jou slaap aan, leer om jou brein in neutraal te sit.

Probeer om jou asemhaling aan te pas om jou hart sta­diger te laat klop – asem byvoorbeeld ’n sekonde langer uit as wat jy inasem. Psigoterapie kan ook in dié ouderdomsgroep voordelig wees.  

© Paula Cocozza/Guardian News & Media Ltd 2019
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe