Bont papierlinte lê nog hier en daar waar die besem nie bygekom het nie. Leë vonkelwynbottels wag geduldig om weggery te word. Die feesvierings is verby en dit is tyd om die nuwe jaar met ’n skoon blaadjie te begin. Vars, gereed, vol planne.

Ter illustrasie. Foto: Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Net een vraag staan in jou pad: Hoe?

Die lysie met nuwejaarsvoornemens lyk baie dieselfde as verlede jaar. Gaan jy dan maar weer spoedig moed opgee? Gaan vanjaar ook net nog ’n slagveld van leë beloftes aan jouself wees?

Die ou slaggate lê immers steeds die pad vol: probleme met geld, met verhoudings, met te min tyd om by alles uit te kom, chaos by die werk. En vir baie van ons voel die nuwe jaar na ’n tyd om te vlug, want alles wat nou so anders moet wees, is maar steeds net dieselfde.

Gelukkig lê die knoop waarskynlik daar waar jy self iets daaraan kan doen. ‘‘Sukses is ’n reis, nie ’n bestemming nie,’’ sê Ben Sweetland, skrywer van boeke soos I Can: The Key to Life’s Golden Secrets. As jy net die reis aanpak, is jy klaar op pad na ’n nuwe suksesstorie. 

Dis meestal nie nodig vir drastiese stappe nie.

Jy hoef nie ’n lewensmaat te soek of van een te skei nie. Jy hoef nie te verhuis of van werk te verander nie.

Die begin van jou reis is so eenvoudig soos om een doelstelling vir die jaar op ’n stuk papier neer te skryf en ’n plan te maak om dit te bereik. Moenie berge probeer versit en dan op ’n glybaan na nêrens beland nie.

Ontspan. Ons het ’n plan vir jou. 

Uit die blokke

Ons het gaan kers opsteek by dr. Denise Björkman, direkteur van die internasionale federasie van professionele mentors en raadgewers. Hier is haar plan vir ’n nuwe begin:

  • Sonder ’n middag af.

Gaan sit rustig, trek die deur agter jou toe, sit jou lekkerste musiek op en hou drinkgoed byderhand.

  • Stel dit op skrif.

Wat was die beste en slegste dinge wat verlede jaar met jou gebeur het; wat het jy reg gedoen en waar het dit skeefgeloop? 

  • Kyk na watter mense jou lewe verryk het en wie jy liewer moet vermy. 
  • Wat is jou drome en doelstellings vanjaar? Maak jou oë toe en visualiseer daardie mens wat jy graag wil wees in besonderhede – skraler, meer sosiaal, ryker, minder gejaag. Wat keer jou? Is dit mense of dinge? Skryf alles neer.

‘‘Jou doelstellings moet meetbaar wees en iets wat jy kan beheer,’’ sê die TV-raadgewer dr. Phil McGraw. Iets soos presies hoeveel wins jy elke maand met jou onderneming wil maak. ‘‘Om te besluit iemand moet binne die volgende maand op jou verlief raak, is net dom. Jy het geen beheer oor ander se gevoelens nie.’’ 

  • Verdeel jou doelwitte vir die jaar in kleiner stappies. Jy kan nie ’n rookgewoonte van tien jaar binne ’n week afskud nie. 
  • Stel ’n spertyd.
Ter illustrasie. Foto: Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Teen begin Junie wil ek 5 kg verloor; teen Augustus wil ek ophou rook en oor ’n jaar wil ek ’n ander Afrikataal aangeleer het. Teken dit op jou jaarbeplanner aan. 

  • Gaan haal jou dagboek uit.

Watter groot geleenthede vind vanjaar plaas? Is daar troues, reünies, spesiale vierings waarvoor jy nou moet beplan?

Jy kan nou al begin werk aan jou boep om betyds vir November se skoolreünie skraler te wees. Wil jy fiks genoeg wees om rond te hardloop op jou kleinkind se vyfde verjaardagpartytjie? Teken sulke geleenthede as teikens in die dagboek aan. 

Maak ’n lysie van alles wat jy graag wil aanskaf.

Rangskik dit in volgorde van bekostigbaarheid met die duurste heel onder. En merk wat noodsaaklik is, en wat net lekker sal wees om te hê.

Seker die belangrikste: Stel iemand aan aan wie jy verantwoording sal moet doen – liefs nie ’n lewensmaat nie, want dit plaas net druk op die verhouding. Bel iemand en vra hom of haar om jou reisgenoot te wees. ‘‘Stel verslae op oor jou vordering,’’ sê dr. Phil.

‘‘Sonder iemand wat jou dophou, is dit makliker om te kul.’’ 

Is daar voornemens of projekte van verlede jaar wat jy nog nie afgehandel het nie? Hang dit nog soos ’n swaard oor jou kop? Pak dit eers aan voor jy nuwe voornemens maak. 

Kies voornemens wat jou soggens uit die bed laat opspring.

Watter eksotiese kos wil jy eet of instrument wil jy leer speel? Maak ’n lys van plekke wat jy graag wil besoek, avonture waaraan jy jou wil oorgee . . . 

Begin nou beplan om geld te spaar om die items op jou lysie te kan uitvoer. 

As jy die pen neergesit het, gaan plak die lysies langs die badkamerspieël of agter die kasdeur vas waar jy elke oggend daarin sal vaskyk. Haal diep asem en stap die jaar met regop skouers tegemoet. 

Maak jou kantoor, jou huis . . . en jou lewe skoon

Wil jy in die nuwe jaar beter kan asemhaal? Raak ontslae van al die rommel wat jou lewe verdring. 

‘‘Maak dit deel van jou lewe. Moenie wag dat alles ophoop tot volgende jaar dié tyd nie,’’ stel Vanessa Bourne, ’n professionele organiseerder en medestigter van Get Organised, voor.

bokse
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

‘‘Gooi enigiets in jou omgewing weg wat jou energie tap,’’ sê Sally Veilette, skrywer van die boek Coming to Your Senses: Soaring with Your Soul. Dit sluit in foto’s van ou geliefdes en geskenke wat jy maar net hou om nie iemand in die gesig te vat nie. 

As jy iets nie gebruik, dit jou nie vreugde verskaf of dit die ruimte waarbinne jy leef en werk nie mooi maak nie, raak ontslae daarvan. Nou!D it is ’n bevrydende gevoel om van rommel ontslae te raak – dit herlaai die siel. Gaan só te werk: 

 Sit minstens ’n uur opsy om met die opruimproses te begin. ‘‘Onthou net, dit gebeur nie soos op Oprah nie. Jy gaan nie alles in een middag regkry nie,’’ waarsku Vanessa. Begin met iets makliks, soos die kombuiskas. Vaar dan die badkamer in en gooi ou tandepastabuisies en flenters seep weg. 

Takel eers die rommel wat jy kan sien, ook dié in die motorhuis. Jy ry saans as jy moeg van die werk kom, in die gemors vas. 

Selfs net om goed van die grond af op te tel, teen die mure te hang of op rakke weg te pak laat die motorhuis reeds baie meer georden lyk. 

Kry ses groot bokse en merk dit: ‘‘Gee weg", ‘‘Verkoop’’, "Nie in hierdie kamer nie’’, ‘‘Motorhuis’’, "Sentimenteel’’, "Nog nie besluit’’.

Begin in die een hoek van die kamer en tel enigiets op wat nie daar hoort nie. Gooi dit in een van die bokse. 

Geskenke is wonderlik en dit herinner jou daaraan hoe lief mense jou het, maar as geskenke rommel word wat stof vergaar, raak dit lastig. Hou eerder wat jy gebruik en voor lief is. Gee die res weg. 

Behou fokus

Moenie deur honderde liefdesbriefies lees terwyl jy eintlik moet opruim nie. Bêre dit in ’n skoenboks vir ’n ander dag – nog ’n lekker projek iewers deur die jaar vir ’n ledige uurtjie.

  • As die kleingoed hul goed gereeld die hele huis vol strooi, kry ’n houer met ’n deksel op waarin jy dit kan wegbêre.

 As hulle dit wil terughê, moet hulle ekstra huiswerk of takies doen. Enigiets wat hulle nie opeis nie, gee hulle die keuse of hulle dit dalk wil weggee en laat hulle selfbesluit watter speelgoed hulle wil weggee.Va t hulle saam na die tehuis of organisasie aan wie jy dit skenk en leer hulle dis lekker om te gee. 

  • Gee alles terug wat aan mense buite jou huis behoort! 
  • Hier aan die begin van die jaar begin die rekeninge ook weer instroom.

Kry’ n kamer in die huis – nie die kombuis of slaapkamer wat jou toevlugoord behoort te wees nie –waarin jy die rekeninge kan takel.Maak seker daar is ’n vullisblik, rooi pen, koeverte en lêers naby.

Soos jy die pos oopmaak, besluit jy: Gooi weg of liasseer? Omkring die datumwaarteen jy die rekeninge moet betaal en teken dit sommer ook in jou dagboek aan. Betaal wat jy kan so vinnig moontlik omboetes te voorkom. 

  • Om te keer dat die rommel in jou lewe terugkruip: As jy die ou, stukkende en oudmodiese goed vervang het deur vars, nuwe goed, raak so gou moontlik van die oues ontslae.
  • Foto’s kan ook rommel word.

Elke keer dat jy die foto’s laat ontwikkel of aflaai van die digitale kamera af , maak seker dat jy die name van al die mense op die foto agterop skryf of intik. ‘‘Dink net hoe sal jy voel as jy ’n naamlose gesig op’ n foto iewers in iemand se kas is,’’ sê Vanessa.

Skryf die name, datum en geleentheid by die foto en sorg dat dit iets bruikbaars is in die toekoms. Moenie die volgende film ontwikkel voor jy dit gedoen het nie. 

  • Ruim ook jou arme rekenaar op

 Vee al die programme uit wat jy nie meer gebruik nie en al jou ou e-posboodskappe. Dit maak jou rekenaar traag. Bêre die e-posadresse en -boodskappe wat jy dalk later gaan nodig kry, opjou rekenaar en in ’n notaboek indien die hardeskyf die gees sou gee. 

Doen elke dag ’n bietjie sodat jy nie weer verswelg word nie. Soos Vanessa dit stel: ‘‘Eet ’n appel per dag; nie sewe op Sondag nie.’’ 

Geldsake 

Ter illustrasie. Foto: Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die geld in jou bankrekening is net ’n syfer; dit is nie wie jy regtig is nie, sê Linda Smith, ’n finansiële opvoeder van Kaapstad en eienaar van die maatskappy Financial Freedom. 

Die eerste stap tot finansiële vryheid is om vas te stel wat presies jou verhouding met geld is.

‘‘Hierdie verhouding word al as kind gevestig,’’ sê Linda.

‘‘Dit bepaal of jy ooit gelukkig gaan wees, want gaan jou salaris ooit rêrig genoeg wees?’’ 

Vra jou af:

– Wat is jou vroegste herinnering aan geld?

– Wat het jou ouers oor geld te sê? – Wat sê jou vriende oor geld?

– Wat was jou siening van geld terwyl jy grootgeword het?

– Wat het jy met jou sakgeld gedoen?

– Wat het jy met jou eerste salaristjek gedoen?

– Probeer onthou wat jou finansiële doelstellings in jou twintigs, dertigs en veertigs was of is. 

  • Gebruik hierdie inligting om vir jou ’n finansiële droom neer te skryf en iewers op’ n baie sigbare plek te hang. Wil jy saam met vriende kan gaan kuier of vir naweke wegbreek? Wil jy jou loswikkel uit die armoedevloek wat jou ouers oor jou uitgespreek het?

Gebruik dan die geld wat oor is van jou bonus, plaas dit in ’n rekening wat rente verdien en sit byvoorbeeld elke maand nog R120 weg. 

Noem dit sommer jou spontaneïteitsfonds. Ofw il jy vanjaar van al jou skuld ontslae raak?

Dan moet jy elke moontlike sent in al daardie rekenings inbetaal. Dink net, volgende jaar kan jy dan met jou geld maak net wat jy wil! 

’n Spaar-besteeplan hou jou die hele jaar gefokus, maak jou bewus van wat met jou geld gebeur en hou jou op die pad na jou doelstellings en drome.

Jou maandelikse inkomste moet in drie gedeel word: 

1. Spaargeld vir ’n huis, motor, oorsese reis, noodfonds.

2. Uitgawes wat teen die einde van die maand betaal moet word soos huur, verband, selfoonrekening en versekering.

3. Dag-tot-dag-uitgawes soos kruideniersware, presente en vermaak. 

Jy kan dit nie bekostig om nie te spaar nie.

‘‘Spaar beteken dat jy jouself eintlik eerste betaal,’’ sê Linda. Die ideaal is dat daar iewers ’n noodfonds met drie maande se salaris weggebêre is in die geval van nood. Wat gaan jy doen as jy onverwags jou werk verloor of maande lank ernstig siek is?

Probeer om elke maand minstens 10 persent van jou inkomste te spaar.Gestel jy wil R250000 gespaar hê teen 45. 

As jy op 25 jaar R500 per maand begin spaar teen ’n konserwatiewe opbrengs van 10 persent, en belasting teen die marginale koers betaal, sal jy teen 45 jaar R228 000 gespaar hê.

As jy op 30 begin spaar, sal jy R800 per maand moet wegsit om R228 000 teen 45 te hê.

Op 35 sal dit jou R1 400 aan besparings kos en as jy dit tot 40 jaar laat voor jy begin, sal jy ’n allemintige R3365 per maand moet wegsit om R228 000 teen die ouderdom van 45 te hê. Dit is meer as sewe keer meer per maand as wat jy sou wegsit as jy op 25 jaar begin spaar het.

Die lessie is dus, begin NOU spaar! 

As jy agttien is en jy spaar R10 per dag, gaan jy beslis ’n miljoenêr wees op 60. 

  • Raak ontslae van minstens een geldmors-uitgawe soos rook, daardie skottelkanaal waarnajynooit kyk nie en lidmaatskap van die gimwaarheen jy nooit gaan nie. 
  • Maak elke keer ’n lysie wanneer jy gaan inkopies doen en koop net wat daarop staan.Eet vooraf sodat jy nie meer koop omdat alles lekker lyk nie. Lekkernye vreet aan jou beursie. 
  • Feesvier en geskenke koop het jou kredietkaarte in die rooi gedruk. Dit is nou tyd vir krisisbeheer. Suze Orman het die volgende raad:

– As jy kredietkaartprobleme het, sny al jou kaarte stukkend, behalwe dalk een wat vir noodgevalle gehou word. Moenie die kaart saam met jou dra nie.

– Betaal meer as die minimum wat per maand vereis word. Betaal soveel moontlik maandeliks terug.

– Betaal die skuld waarop die hoogste rentekoers is, eerste af.

Jou lyf 

see
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Wees realisties. Is jy regtig oorgewig of net hiperkrities oor jou voorkoms?

Die liggaamsmassaindeks (LMI) meet hoe vet of hoe maer jy is. Deel jou massa in kilogram (bv. 87 kg) deur jou lengte kwadraat – jou lengte in meter vermenigvuldig met homself (bv. 1,73 m maal met 1,73 m). So ’n persoon se LMI is 29 en die gevaarligte moet begin flikker. Die normale is tussen 18 en 25.

‘‘Jou leefstyl maak jou vet,’’ sê dr. Phil.

Kyk na die volgende paar vrae en toets of dit vir jou geld:

– Het jy baie gemorskos oral in jou huis?

– Lyk jou laai by die werk soos’n snoepwinkel?

– Staan jy laat op en lyk jou lewe chaoties?

– Het jou klere rekke in of is dit van rekmateriaal gemaak sodat jy daarin kan ‘‘groei’’?

– Sit jy baie, soos byvoorbeeld voor die TV?

– Eet jy tot alles op is of hou jy op sodra jy versadig is?

– Word jou sosiale lewe deur kos oorheers eerder as deur aktiwiteite?

– Kies jy restaurante met buffetetes en groot porsies? As jy op net een van hierdie vra ja geantwoord het, moet jy aan jou leefstyl begin verander, anders gaan die vetrolle jou teister. 

  • Ná al die feeskalkoen en die Kerspoeding voel dit seker steeds of jy nooit weer sal wil eet nie, maar daardie lus vir iets soets gaan jou bekruip. Hoe gemaak as kos jou nie meer voed nie, maar moor?

– Elke oggend wanneer jy opstaan, begin die dag met 'n mantra: ‘‘Ek gaan vandag gesonder leef; ek wil beter lyk’’, ‘‘Kos is my vriend’’ of ‘‘Ek gaan net eet as ek honger is’’.

– Begin eenvoudiger eet. Is daardie skaapboud, aartappels én gebakte poeding elke liewe Sondagmiddag op die familietafel nodig? ’n Visbraai met slaai kan net so gesellig wees.

– Dink aan ander maniere om te ontspan as om te gaan uiteet.

– Vra jou af of kos nie maar net ’n troosmiddel is nie. Soetgoed en vetterige kos jaag die serotonien of ‘‘goedvoel’’-chemikalie in jou kop op.

– As jy jou bui so ’n bietjie met kos wil lig, eet koolhidrate wat suiker vinnig vrystel, maar nie veel vet bevat nie – iets soos jellielekkers. Kap bevrore en geskilde piesang op en sit dit saam met melk, water en ’n bietjie sjokoladepoeier in ’n voedselverwerker vir ’n gesonde drankie wat die soetlus sal blus.

– Eet dadelik daarna koolhidrate wat suiker stadig vrystel, soos pasta, sodat jou bloedsuikervlak nie skielik val nie. Só bly jou suiker- en serotonienvlakke konstant.

– Hou op om alles gelyk te wil regmaak en maak klein veranderings stuksgewys. Eet jy elke dag ’n streepsak springmielies by die werk op? Sny dit uit, hou dit ’n rukkie vol en dink dan oor ’n tweede verandering.

– Gaan krap daardie foto’s van jouself as tiener uit toe jou lyf nog gesond, slank en vol energie was. Wil jy weer so voel en lyk? Maak dan dadelik werk daarvan.

– Maak ’n lysie van al die voordele van gesonder eet. Skryf dan jou inkopielysie op dieselfde stuk papier neer.

– Begin oefen om jou lyf in rat te kry.

– Stel vir jou ’n teiken. As jy weer in daardie gunstelingdenim wil pas, hang dit iewers in jou kamer waar jy dit gereeld kan sien.

– Kry ’n oefenmaat vir ondersteuning. Jy sal makliker jouself as iemand anders in die steek laat.

– Moet dit nie oordryf nie. In die begin is 150 minute per week – versprei oor dertig minute per dag oor vyf dae – die ideaal.

– Jy hoef nie by ’n gim aan te sluit nie. Werk in die tuin, stap om die blok of stof die huis af. Of dans in die sitkamer!

Werk

werk
Ter illustrasie. Foto: Getty Images

As jy jou elke oggend uit die bed kantoor toe moet sleep, is dit dalk nou tyd om ’n ander rigting in te slaan. ’n Afrika-spreekwoord lui: ‘‘Werk is goed, solank jy net nie vergeet om te lewe nie.’’

Tog is die werklikheid dat ons ongeveer 8 800 dae van ons lewe by die werk is. Nuwejaar is ’n tyd wanneer een uit elke vier mense besluit om uit hul werk te bedank. Is jy een van hulle? Lees dan hier: 

  • Kan jy dit bekostig om net sommer jou werk te los? Het jy ander opsies?
  • Maak ’n lysie van al die dinge wat jy kan verander en nie kan verander nie. Hoe lyk die balansstaat?
  • Tree nou op as jy ongelukkig is met jou werk, stel Margaret Stead, besturende direkteur van die aanlyn-konsultasiemaatskappy careernet.com voor. Begin voelers uitsteek vir ’n ander werk óf berus in jou situasie en fokus op die positiewe aspekte. As jy ongelukkig is, gaan dit jou net terughou en keer dat jy bevorder word en meer geld verdien.
  • Wees positief. Jy weet gewoonlik instinktief wat jy moet doen om by die werk gelukkig te wees. Neem jou voor om geleenthede aan te gryp wat gedurende die jaar na jou kant toe kom. 
  • Bou jou selfbeeld deur al die dinge wat jy verlede jaar reggekry het, vir jouself op te noem. Klop jouself op die skouer. 
  • Maak uitnemendheid 'n gewoonte.  Of die taak klein of groot is, doen dit na die beste van jou vermoë. Mense sien dit raak, al sê hulle dit nie altyd nie. ’n Mislukking is makliker om te verwerk as jy weet jy het jou bes gedoen. 
  • Leer elke dag iets nuuts. Hou jou verstand skerp en maak jou meer gesog deur nuwe inligting en vaardighede soos ’n spons op te suig. Die een of ander tyd kan daardie ekstra aandklas dalk net ’n deur oopmaak na die besturende direkteur se kantoor op die boonste verdieping.
  • Toets eers die water. Vra byvoorbeeld vir ’n salarisverhoging as jy goeie rede het om te glo jy word te min betaal. Weier jou baas, vra dan hoekom jy dit nie verdien om meer betaal te word nie. As die baas stotter en nie ’n goeie rede kan verstrek nie, is dit tyd om ’n werkplek te soek waar jy na verdienste betaal sal word.
  • Waarmee is jy goed, wat is jou belangstellings? Is daar ’n ander beroep waarin hierdie vaardighede beter benut kan word as jou huidige? Vind uit oor kursusse of opleiding. Maak ’n lysie van die maatskappye waarvoor jy graag wil werk, en vind meer oor hulle uit. Stuur jou CV uit en laat mense weet jy is beskikbaar.
  • Moenie jou brûe verbrand nie. Die baas of kollega wat jy nou kwaad maak of in wie se gesig jy nou die deur toeklap, gaan dalk eendag weer jou loopbaanpad kruis.
  • Tel jou seëninge. Ongelukkigheid en probleme oorskadu dikwels alles. Maak ’n lysie van alles, selfs die kleinste dingetjie, wat jou gelukkig maak en sorg dat jy meer aandag daaraan gee. Dit sal jou ook meer energie by die werk gee. 

 Vir nog inligting bel Financial Freedom by 021-7621400 of stuur e-pos na financial.freedom@mweb.co.za. Gaan na Get Organised se webtuiste.

Werk aan jou verhoudings

Dis 'n tyd vir vernuwing.

In die lang vakansie het jy meer tyd saam met jou geliefde en gesin deurgebring en agtergekom waar die ongelukkigheid is. Jou eerste gedagte is om van jou maat ontslae te raak – maar dalk is dit tyd om aan jouself te werk.

‘‘Vind eers die ideale jy voor jy jou ideale maat gaan vind,’’ sê die seksuoloog MarleneWasserman, beter bekend as dr. Eve. Hier is haar en ander kenners se wenke om jou verhoudings ’n bietjie vlam te gee:

  • Tref 'n onderskeid tussen verlief raak en verlief wees, stel dr. Phil voor. ‘‘Liefde is nie daardie soetsappige spul nonsens op TV nie.’’ As jy verlief raak, bly julle die hele nag wakker en gesels. Ná 'n paar jaar is dit nie meer so opwindend nie. ‘‘Dit beteken nie die vonk is weg nie, maar dit knetter moontlik net in ’n ander konteks. Jul verhouding is nou net gemakliker en veiliger,’’ sê dr. Phil.
  • Breek uit jou kassie uit. Moenie dieselfde goed oor en oor doen nie. Beplan verrassings soos wegbreeknaweke en kersligetes in die middel van die week.
  • Geld koop nie liefde nie. ‘‘Hou op om agter presente weg te kruip,’’ raas dr. Phil. Moenie die feit dat jy nie genoeg tyd saam met jou geliefdes deurbring, met geld probeer vergoed nie. Jy moet eenvoudig aan maniere dink om hulle met meer tyd te bederf.
  • Sorg dat mense weet waar jy die streep trek, wat jou waardes is. Die meeste verhoudings raak suur weens misverstande. Vra as jy nie seker is nie, en sê wat jou behoeftes en wense is, moenie aanvaar jou mense weet nie.
  • Maak 'n duidelike onderskeid tussen vriende, kennisse en kollegas en besluit aan wie jy die meeste tyd wil bestee. As jy graag daardie spesiale persoon wil ontmoet, dink hieraan: 

– Voor jy begin soek, gaan sit en skryf die karaktertrekke van jou droommaat neer, sê Myreah Moore, skrywer van Find a Man in 30 Days.

– Laat vaar alle negatiewe denke wat keer dat jy iemand ontmoet. Jy is spesiaal genoeg om verlief te raak. Glo dat die persoon na wie jy soek, enige tyd en openige plek kan opdaag.

– Kruip uit jou skuilplek en stel jou beskikbaar. As jy nie uitgaan en jou gesig wys nie, hoe gaan daardie spesiale persoon weet jy bestaan?

– Moenie oor en oor na dieselfde ou plekke toe gaan nie. ‘‘Moenie een van daardie selfde ou gesigte op dieselfde ou plek raak nie,’’ waarsku dr. Eve.

– Maak jouself interessanter, selfs misterieus en prikkelend vir ander. Leer 'n vreemde taal praat, lees uitdagende boeke of beproef nuwe dinge soos om opera te gaan luister. Moenie by klubs aansluit of met stokperdjies begin net om iemand spesiaals te ontmoet nie; doen dit om jouself te verryk.

– Raak ontslae van irriterende gewoontes soos om mense in die rede te val of heeltyd reg te help.

– Reël aansit-etes by jou plek, al woon jy in 'n woonstelletjie. Nooi mense jou leefruimte binne. Sorg dat daar minstens een enkellopende genooi word.

– Deur ander mense op te bou en hul selfbeeld te poets, bou jy aan jouself. Deur komplimente uit te deel sonder om iets terug te verwag, komplimenteer jy eintlik jouself.


Tydsbestuur

Tyd kan jou vriend of vyand wees. Ons kry elke dag net 24 uur.

  • Gebruik elke stukkie onverwagse, los tyd om dit te doen waarvoor jy nooit kans kry nie, is die organiseerderVanessa Bourne se raad. Haal byvoorbeeld leeswerk in as ’n vergadering skielik uitgestel of ’n doktersafspraak gekanselleer word. Dra altyd ’n boek saam en daag eerder vroeg vir ’n afspraak op en lees. Dan is jy rustig en ontspanne as die ander in ’n stofwolk aangedraf kom.
  • Knyp ’n tydjie af om jou tyd te beplan en te organiseer. As prentjies en kleure jou gaan help om beter te beplan, doen die nodige aan jou dagboek of kalender.
  • Doelwitte gee jou iets om na te streef. As jy besluit het jou doelwit vir vanjaar is om meer tyd saam met jou kinders deur te bring, dan moet jy alles daarvolgens inpas.
  • Leer nee sê as iets nie by jou plan inpas nie. S Maak ’n voorkeurlys van alles wat jou aandag verg.Wat is vir jou die belangrikste? Hoe belangriker, hoe meer tyd bestee jy daaraan. Heg ’n afsluittyd aan alles op jou lysie.
  • Stel ’n doen-lysie saam elke aand voor jy gaan slaap of elke oggend wanneer jy opstaan en merk alles af namate jy dit deur die dag afhandel.
  • Wees aanpasbaar. Kenners meen dit is raadsaam om net 50 persent van jou tyd te beplan sodat daar genoeg tyd is om spontaan te wees en noodgevalle te hanteer. As jy regtig vasbrand, vra:‘‘Wat is die belangrikste ding wat ek op hierdie oomblik moet doen?’’
  • Neem jou biologiese spitstyd in ag. Is jy ’n oggend-, middag- of aandmens? Watter tyd van die dag is jy die produktiefste?Wanneer gaan jy die skerpste wees vir daardie belangrike vergadering? Beplan jou dag daarvolgens.
  • Wees slim met take delegeer of uitskakel. Watter take kan net jy doen en met watter kan ander mense help?
  • Vermy perfeksionisme. Is jy dikwels so besig om aandag aan die detail te gee dat jy nooit klaarkry nie?
  • As jy die hele tyd iets uitstel, probeer dit in kleiner takies indeel. Werk vyftien minute op ’n keer daaraan.
  • Beloon jouself as jy ’n groot taak voor die spertyd klaargekry het. Belowe jouself iets lekkers ná elke taak wat jy voltooi. ’n Wortel voor die neus werk nie net vir halsstarrige donkies nie.