Op 34 is sy eintlik nog jonk genoeg om saam met haar twee seuns ’n bal rond te skop of gereeld te gaan draf. Maar dié doodgewone plesiertjies is Louise* nie meer beskore nie. Pleks daarvan moet sy met ’n siekte saamleef wat sy altyd gedink het net bejaardes tref.

Artritis het haar al in haar 20’s begin lamlê. “Ek het dikwels pyn in my heupe gehad, maar het dit altyd aan oefening of iets toegeskryf,” vertel sy.

Toe dit so erg word dat haar regterbeen skaars haar gewig kon dra, is sy dokter toe en is toetse uitgevoer. “Toe ek hoor ek het osteoartritis, het ek nie eens geweet so iets bestaan nie,” onthou sy die skokdiagnose toe sy net 28 jaar oud was.

Louise, ’n stelselontleder by’n finansiële instelling, het eers geweier om dit te aanvaar en bloot met haar lewe aangegaan asof dit nie bestaan nie.

Maar die pyn het mettertyd te erg geword om te ignoreer. Verlede jaar het sy noodgedwonge ’n gedeeltelike heupvervanging ondergaan – iets wat sy nooit gedink het sy op die ouderdom van net 33 sou nodig hê nie.

‘Ek het pyn in my heupe gehad, maar het dit aan oefening toegeskryf’

“Dit het baie oortuiging geverg om my daarmee te laat deurdruk,” sê sy oor die operasie.

“Ek het gehoor ek het nie eintlik ’n keuse nie. En die pyn was ondraaglik.”

Haar heupgewrig was so erg beskadig dat daar feitlik geen sagte weefsel in die heuppotjie oor was nie. Al uitweg was om dit met ’n titaangewrig te vervang. Die prosedure was ’n sukses, maar het emosioneel ’n slegte uitwerking op haar gehad.

“Ek was depressief en dit het maande geduur voor ek sonder ’n kierie kon begin loop. Nou nog is daar dae dat ek dit moet gebruik.”

Tog is sy verlos van die kwaai pyn wat haar lewe voor die heupvervanging versuur het. Wanneer sy deesdae wel ongemak verduur, is dit meer ’n steekpyn as die kwaai pyn van vroeër, sê sy.

Louise se geval is ongewoon, want osteoartritis van die heup kom gewoonlik by mense ouer as 50 voor, sê dr. Ajesh Maharaj, ’n rumatoloog van KwaZulu-Natal.

Tog kan hierdie soort artritis wel mense in hul 20’s en 30’s al aantas. Die kenmerke daarvan is dat die kraakbeen verdun en die heupgewrig afslyt. By jonger pasiënte is daar byna altyd ’n onderliggende faktor soos jare lange deelname aan impaksport, voeg dié kenner by.

Wat is artritis?

Dit is nie ’n enkele siekte nie, maar ’n algemene term wat na gewrigsontsteking verwys. Daarmee word talle toestande van ontsteking beskryf wat die gewrigte, die bindweefsel (kraakbeen) daarin en die omliggende weefsel aantas.

Daar is meer as 100 verskillende soorte artritis waarvan osteoartritis (OA) en rumatoïede artritis (RA) die algemeenstes is. Van die ander soorte is aansteeklike of septiese artritis (wanneer ’n bakteriese of virale infeksie van elders in die liggaam na ’n gewrig versprei), bindweefselsiekte, psoriatiese artritis, metaboliese artritis, jig en fibromialgie.

Osteoartritis word deur normale slytasie in die gewrigte veroorsaak; daarom hou dit gewoonlik met die ouderdom verband. Van die simptome is pyn, styfheid en swelling van die gewrigte, en ’n beperkte bewegingspektrum.

’n Gewrigsbesering of ’n ontsteking kan die kraakbeen in die gewrigte vinniger laat afbreek as wat normaalweg met die jare gebeur. Jy het ook ’n groter kans op OA as jy ’n familiegeskiedenis daarvan het.

Rumatoïede artritis word deur ’n outoïmmuunreaksie in die liggaam veroorsaak. Jou eie immuunstelsel val dan die sagte weefsel in jou gewrigte aan wat vloeistof afskei wat die kraakbeen voed en die gewrigte smeer.

Die gewrigte ontsteek en mettertyd word die kraakbeen en ook die been in die gewrig afgebreek, met pynlike gevolge. Dit is onbekend waarom die immuunstelsel die gewrigte begin aanval. RA kan enigiemand tref – jonk of oud.

Die simptome kan kom en gaan en soms jare lank op dieselfde vlak bly, sê dr. Faruq Khatib, ’n Johannesburgse dermatoloog.

“Maar dit kan ook ernstig wees en tot chroniese pyn lei wat ’n invloed het op daaglikse aktiwiteite soos loop en trap klim.”

Dit kan blywende skade in die gewrigte aanrig, soos op X-strale gesien kan word en wat ook as verdikte, knobbelrige kneukels sigbaar is.

Jig is ’n vorm van artritis wat voorkom wanneer te veel uriensuurkristalle in die gewrigte – meestal die groottone, knieë en enkels – en die omringende sagte weefsel neerslaan. Toevalle is geneig om skielik, dikwels snags, voor te kom.

Fibromialgie is ’n chroniese vorm van artritis met wydverspreide pyn deur die liggaam en spesifieke teer punte veral wanneer druk daarop toegepas word. Die oorsprong is onbekend, maar sielkundige faktore speel volgens sommige kenners ook ’n rol.

Wie loop gevaar?

“Mense van alle ouderdomme, geslagte en rasse kan artritis ontwikkel,” sê Ajesh. “Maar dis algemener onder vroue en kom met die ouderdom gereelder voor.”

Terwyl vroue ’n groter kans het om RA te ontwikkel, is die meeste jiglyers mans. Benewens ouderdom en geslag is die algemeenste risikofaktore ’n familiegeskiedenis van artritis, vorige gewrigsbeserings en vetsug, sê Faruq.

“Sekere soorte artritis loop in families; daarom is party mense meer geneig om artritis te ontwikkel as hul ouers of sibbes dit het.”

Vetsug verhoog ook die risiko vir artritis, want as die gewrigte swaar moet dra aan die ekstra gewig, plaas dit stremming daarop, verduidelik Ajesh.

“Dit is veral die geval met die knieë, heupe en ruggraat.”

Kan dit voorkom word?

Selfs al het jy ’n familiegeskiedenis van artritis, kan jy jou risiko daarvoor verminder of moontlik die aanvang daarvan uitstel, sê Ajesh.

’n Gesonde leefstyl gee die deurslag. Solank jy ’n gesonde gewig handhaaf, is jou kans skraler om OA te ontwikkel. Nierokers loop minder gevaar om RA te kry.

Wil jy ’n wye draai om jig loop, help ’n gesonde dieet met min suiker en drank, volgens inligting van Artritis SA.

So kan oefening help

Al kan artritislyers dalk op kort termyn meer pyn ervaar wanneer hulle oefeninge begin doen, wys die jongste navorsing volgehoue liggaamlike aktiwiteit kan die simptome op lang termyn doeltreffend verminder.

Daarvoor moet jy spesifieke soorte oefeninge doen, verkieslik met die hulp van ’n biokinetikus, sê Ajesh. Vir lyers aan RA is veral strekoefeninge en oefeninge om jou bewegingspektrum uit te brei belangrik, skryf dr. Kim Nolte en dr. Dina Janse van Rensburg van die Universiteit van Pretoria in ’n navorsingsverslag oor oefenterapie vir RA-lyers.

“Ongelukkig laat daaglikse aktiwiteite nie die gewrigte tot hul volle omvang beweeg nie; daarom kan dit nie strek- en ROM (range of motion)-oefeninge vervang nie.”

Laasgenoemde behels om elke gewrig so ver moontlik as wat gemaklik is te beweeg. Hulle beveel hierdie soort oefenterapie aan vir alle gewrigte wat deur artritis aangetas word, asook vir ander gewrigte “as ’n voorkomende maatreël”.

*Skuilnaam. 

ARTRITIS BY KINDERS

Selfs kinders kan artritis kry. Die akute soort volg gewoonlik op ’n bakteriese of virale infeksie wat tot bloed- en beenontsteking lei. Dis ’n ernstige toestand en vroeë behandeling met ’n antibiotikum is noodsaaklik.

Chroniese artritis is minder ernstig. Ouers merk dikwels op hul kind lyk olik, het ’n geswolle gewrig of gewrigte, loop mank of is soggens styf. Enige chroniese artritis wat langer as ses weke duur by kinders jonger as 16, word jeug- idiopatiese artritis genoem.

Dit kan op enige ouderdom voorkom en is algemener by meisies as seuns.

Hoe word dit behandel?

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die soort artritis en die erns van die toestand sal bepaal watter medisyne voorgeskryf word.

Van die algemene middels is:

  • Pynstillers. Dit verlig die pyn, maar het geen uitwerking op die ontsteking in die gewrigte nie.
  • Niesterïodale anti-inflammatoriese middels. Dit verlig die pyn én verminder die ontsteking. Party middels is as room, jel of plakkers te kry wat op spesifieke gewrigte aangewend kan word.
  • Siektemodifiserende teenrumatiese middels waarmee RA behandel word. Dit stuit of vertraag die immuunstelsel se aanvalle op die gewrigte.
  • Kortikosteroïede, soos prednisoon en kortisoon, verminder ontsteking en onderdruk die immuunstelsel. Dis belangrik dat mense wat vermoed hulle ly aan ’n vorm van artritis, so gou moontlik ’n dokter spreek sodat die presiese toestand by hulle gediagnoseer kan word. Gebruik ook altyd medikasie onder jou dokter se toesig.

Artritislyers kan ook hul toestand help bestuur deur ’n gesonde dieet te volg, genoeg slaap en rus te kry en aktief te bly.