In haar boeiende nuwe boek verduidelik Alice Robb hoe ­drome jou help om jou vrese te ­konfronteer en voorbereid te wees vir die lewe.

Nie so lank gelede nie het ek ’n reeks vreemde drome gehad wat uitdruklik verwys het na ’n naderende geleentheid waaroor ek angstig was. Ek is as vegetariër grootgemaak, en die eerste twee en ’n half de­kades van my lewe het ek – sover ek weet – geen enkele stukkie vleis of vis ­geëet nie.

Ek het my asem opgehou terwyl ek by vleisrestaurante verbyloop. Op hoërskool het ek ’n kêrel sy tande laat borsel nadat hy voor my vleis geëet het. Maar nadat ek vleis byna ’n kwarteeu lank versigtig vermy het, het ek besluit ek het genoeg gehad.

Ek het nooit werklik enige ideologiese regverdiging vir my dieet gehad nie en het geen spesifieke affiniteit vir diere gehad nie – my dieet was bloot op ’n ingewortelde gewoonte gegrond.

Ek was moeg vir dié irriterende beperking wanneer ek op reis was en ook daarvoor om vriende en gashere te verontrief. En ek was nuuskierig oor wat ek dalk misloop.

In die maand dat ek my geestelik daarop voorberei het, het ek drie helder drome daaroor gehad.

My vriende het ’n vleispartytjie beplan om my in die geledere van die omnivore te verwelkom. Taco’s met vis, het hulle beloof, sou my ’n ligte voorsmaak van die wêreld van vleis bied; die matige vis­smakie sou deur sterk geure soos dié van salsa en broccoli verdoesel word.

In die maand dat ek my geestelik daarop voorberei het, het ek drie helder drome daaroor gehad.

In een droom was ek by ’n buffet. Die hoofgereg was ’n soort rubberagtige hoender. Ek het besluit om dit te eet en een of twee stukkies afgesluk gekry. Daarna het ek aangekondig ek eet vleis. Niemand in die vertrek was beïndruk nie.

Met elke droom het ek wakker geword en ’n bietjie beter voorbereid gevoel, ’n bietjie sekerder dat ek gereed is. Toe die dag eindelik aanbreek en ek daardie eerste happie vistaco na my mond bring, was ek lugtig en effens gewalg. Maar toe sluk ek, en die sterkste gevoel wat ek ervaar het, was dié van déjà vu.

My ervaring pas mooi in by die bedreiging-nabootsingsteorie oor drome wat in die 1990’s deur Antti Revonsuo bedink is.

Vrese

Volgens dié gerespekteerde Finse kognitiewe neurowetenskaplike verrig drome ’n belangrike sielkundige funksie: Hulle laat ons ons vrese in ’n lae­risiko-omgewing verwerk en help ons vir stresvolle gebeure oefen en hartseer en trauma hanteer.

Vrees, hulpeloosheid, angs, skuldgevoelens – die meeste emosies wat ons in drome ervaar, is negatief.

Kortom, drome is die manier waarop jou brein jou vir die lewe voorberei.

Vrees, hulpeloosheid, angs, skuldgevoelens – die meeste emosies wat ons in drome ervaar, is negatief. Maar waarom sou ons brein ons aanhoudend aan iets so onaangenaams wou onderwerp?

Deur terug te kyk na die tyd van ons antieke voorvaders het Antti geredeneer dat hierdie drome hulle geestelik help voorberei het en dalk selfs vir hulle ’n sielkundige voordeel gebied het in die gevaarlike situasies wat hulle sou moes trotseer wanneer hulle wakker word.

Die vroeë menslike lewe was ’n mynveld van wilde diere, onvoorspelbare gebiede en vyandige medemense; enige voorsprong sou ’n mens se kans op oorlewing kon verbeter.

Die eksamendroom

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Al is die daaglikse uitdagings in die moderne lewe gewoonlik minder riskant, is ons drome steeds vol vrese.

Die eksamendroom waarin ’n dromer onvoorbereid is vir ’n belangrike toets is ’n algemene herhalende tema – jy kom byvoorbeeld by jou eksamenlokaal aan en ontdek jy het nie die regte werk geleer nie. Of jy skryf ’n toets en kyk af, en besef jy dra nie ’n broek nie.

Selfs jare nadat jy die skool of universiteit verlaat het, duik hierdie drome steeds op – en gewoonlik wanneer jy jou oor iets anders soos ’n sperdatum of die sukses van ’n projek bekommer.

Wanneer jy in die daglig oor hierdie dramatiese scenario’s met die ergste moontlike gebeure nadink, laat dit jou besef hoe onwaarskynlik, selfs belaglik, hulle is, en daardeur verloor hulle die mag om jou bang te maak. Jy skrik wakker met ’n sug van verligting – al voel jy hóé onvoorbereid vir daardie vergadering, sal jy ten minste nie kaal daar opdaag nie.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

In 2014 het navorsers aan die Sor­bonne-universiteit in Frankryk, onder leiding van die neuroloog Isabelle Arnulf, duisende aspirantdokters op die dag van hul toelatingseksamen vir mediese skool gekontak.

Byna driekwart het gesê hulle het minstens een keer in die semester oor die eksamen gedroom, en byna al die drome was nagmerries: Hulle het op pad na die ek­samen verdwaal, kon nie die toetsvrae verstaan nie of het besef hulle skryf met onsigbare ink.

Toe Isabelle studente se droompatrone met hul punte vergelyk, het dit haar getref dat dié wat meer dikwels oor die toets gedroom het in die regte lewe beter daarin gevaar het. Die topvyfstudente het trouens almal struikelblokke in hul drome teëgekom, soos om op die dag van die eksamen te verslaap of te min tyd te hê om klaar te maak.

“Negatiewe afwagting kan jou help om bedags jou beste prestasie te lewer. Dit is soos wanneer ’n skaakspeler al die moontlike skuiwe oorweeg, veral die skuiwe wat tot ’n verlies lei, voor hy die beste skuif kies en dit maak,” skryf sy.

Duisende jare lank skryf en wonder mense al oor drome waarin hulle vlieg, val, kaal in die openbaar verskyn of hul tande verloor.

Aangesien hierdie droommotiewe so universeel voorkom, dui dit daarop dat dit ’n diep­liggende evolusionêre doel dien. Die Oostenrykse sielkundige Sigmund Freud het gereken drome dat jy vlieg, spruit uit jeugherinnerings toe jy gewieg is, terwyl die Switserse psigoanalis Carl Jung dit verbind het met uitdagings wat jy in die werklike lewe die hoof bied.

Die Duitse psigiater Michael Schredl het bevind drome oor vlieg “weerspieël positiewe emosionele toestande” wat jy ervaar het terwyl jy wakker was.

Tande

Intussen is in ’n Amerikaanse studie bevind tot 21% van voorgraadse studente het al gedroom hul tande val uit.

Volgens Bar Hedya, ’n antieke Joodse mistikus, dien so ’n droom as waarskuwing dat ’n familielid binnekort gaan sterf. Freud het dit, soos jy kan dink, as ’n simbool vir kastrasie beskou.

My gunsteling- psigoanalitiese siening hieroor, dié van ’n Hongaarse terapeut genaamd Sándor Lorand, is dat dit ’n wens verteenwoordig om na die tandelose, geslaglose toestand van jou ­babadae terug te keer.

Al erken wetenskaplikes dis sinneloos om ’n geïsoleerde element van ’n droom te probeer vertolk sonder die konteks van die dromer se lewe en droompatrone, wemel die internet van webtuistes wat lekedroomontledings verkwansel.

Gewilde webtuistes met droomwoordeboeke sê vir my iemand wat sy tande in ’n droom verloor, is bang om oud te word, het hom verspreek of “teëspoed in die lewe” ervaar.

In 1984 het twee sielkundiges ’n empiriese studie hieroor gedoen. Hulle het 14 mense bestudeer wat herhalende nag­merries gehad het dat hulle hul tande verloor – “party het verdwyn, party is ­getrek, party is uitgeslaan, party het ­verkrummel” – asook 14 mense wat ­herhaaldelik gedroom het hulle vlieg.

Die tandverliesgroep het hoër vlakke van angs en depressie ervaar.

Hulle het geringe persoonlikheidsverskille tussen die twee groepe gevind: Die tandverliesgroep het hoër vlakke van angs en depressie ervaar. Maar hul belangrikste bevinding was ’n anti­klimaks: Lede van die groep tandedromers het wanneer hulle wakker was meer aan tande gedink.

“Een moontlike verklaring is dat die droom oor die verlies van tande ’n onbewuste, historiese oorblyfsel of ­argetipe is van ’n tyd toe tande ’n belang­rike rol in die lewe van vroeë mense gespeel het,” meen die navorsers.

“Die werklike verlies van ’n mens se tande kon die dood voorspel het weens die verandering in jou dieet wat dit meegebring het en weens ander probleme wat met eet of verdediging te doen gehad het. By die huidige groep dromers was die sielkundige toestande van hulpeloosheid of verlies van beheer moontlik die sneller vir die argetipiese droom oor tandeverlies.”

Die rouproses

Daar kan weinig twyfel bestaan oor die belangrike rol wat drome speel om ons universele lewensiklus-­uitdagings soos die dood en egskeiding te help verwerk.

Die rouproses is deurmekaar en individueel, maar vir die meeste mense gaan die proses in hul slaap voort.

Die rouproses is deurmekaar en individueel, maar vir die meeste mense gaan die proses in hul slaap voort. In helder, onvergeetlike drome kom die dooies na ons terug.

In ’n studie van byna 300 rouklaers by ’n hospiessentrum in die noorde van die deelstaat New York is bevind 58% kon minstens een droom oor die oorledene onthou.

Al was die drome nie altyd aangenaam nie, het hulle gewoonlik ’n mate van troos gebied; dit het rouklaers hul verlies help aanvaar, gevoelens van geestelikheid verhoog en tot ’n algehele gevoel van welsyn gelei.

Ná die dood van haar pa het die sielkundige Patricia Garfield besluit om onderhoude met ander vroue te voer wat kort tevore iemand belangriks verloor het. Sy het agter­gekom sy kon hul drome met die verskillende fases van rou verbind.

Eers het dit gelyk of die oorledenes na die lewe terugkeer en oor die omstandighede rondom hul dood wil praat. Hierdie drome dat hulle weer lewend is, was ontstellend en het die oorlewende se irra­sionele skuldgevoelens aangevuur omdat hulle die persoon “toegelaat het” om te sterf.

Ses weke ná sy pa se dood het die Amerikaanse romanskrywer Philip Roth gedroom sy pa keer terug aarde toe, woedend dat hy in die verkeerde uitrusting begrawe is.

“Al wat onder die doodskleed uitgesteek het, was die misnoeë op sy dooie gesig,” het Philip in sy memoires, Patrimony, geskryf.

Die dromer voel dalk wrokkig omdat die oorledene hom geflous of vir hom pyn veroorsaak het, of die droom is dalk aangenaam, maar lei tot ’n erge gevoel van verlies met die wakker word. Hoewel pynlik, kan drome soos dié die rouklaer help begryp dat die oorledene werklik weg is.

Tydens die volgende fase kan die oorledene weer verskyn en tot siens sê of op die een of ander obskure reis vertrek. Een wewenaar in Patricia se studie het gedroom hy ry lughawe toe saam met sy vrou. Daar aangekom, het sy vooruit­gestap, vir hom tot siens gewuif en gesê hy sou later by haar aansluit.

Die man het sy droom as toestemming vertolk om weer aan die lewe deel te neem en selfs weer te trou.

In die finale fases – wanneer die rouklaer die verlies aanvaar het – kan hulle dalk aangename drome hê waarin die oorledene weer jonk en gesond is of trooswoorde en raad bied.

Verhoudings

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Drome kan ons ook die hartseer van ’n mislukte verhouding help verwerk. Die sielkundige Rosalind Cartwright het van  die laat 1970’s tot middel 2000’s ’n reeks ondersoeke na pasgeskeides gedoen.

Vir een proefneming het sy 60 mense midde-in ’n egskeiding genooi om by twee geleenthede drie nagte in ’n slaap­laboratorium deur te bring – die eerste keer aan die begin van die skeiproses en toe weer 12 maande later.

Teen die einde van die jaar het dié wat aan die begin van hul maats gedroom het gelukkiger gelyk; hul ­gemoedstoestand was positiewer, hul geldsake bestendiger, selfs hul liefdes­lewe was meer bevredigend.

Drome oor die egskeiding het hulle blykbaar gehelp om dit te verwerk.

In nog ’n studie het sy die drome van geskeides ontleed en probeer vasstel wat party drome meer terapeuties as ander gemaak het.

Hierdie keer het sy die drome van 29 vroue dwarsdeur die eerste vyf maande van hul egskeiding nagespeur.

Dié op die herstelpad, het sy bevind, was geneig om op ’n aktiewer, meer selfgeldende manier met hul droom-ekse om te gaan.

Een vrou het gesien hoe haar eksman ’n gek van homself by ’n partytjie maak en het verlig gevoel dat sy hom nie daarheen vergesel het nie.

Al kan drome oor hartseer of angs pynlik wees, moet ons hulle verwelkom, wetend dat hulle ons probeer help.

Daarteenoor was die ander vroue wat aan die einde van die studie steeds depressief was en nie met die lewe kon aangaan nie, se drome geneig om eenvoudig en sonder gevoel te wees, met die dromer wat ’n passiewer rol speel.

In een droom het ’n vrou stil toegekyk terwyl haar eks die meisie op wie hy ’n oog het, uitneem.

Al kan drome oor hartseer of angs pynlik wees, moet ons hulle verwelkom, wetend dat hulle ons probeer help.

Deur hulle oor ’n tyd­perk na te speur kan ons hoop put uit tekens dat ons aan die herstel is, soos wanneer ’n patroon verander of ons meer selfgeldend begin optree.

“Wees op die uitkyk vir enige droombeeld wat groter beskerming en verhoogde beheer weerspieël,” is Patricia se raad. “Laat dit in jou gedagtes en gevoelens rondmaal en absorbeer die genesingskrag daarvan.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Why We Dream – The Science, Creativity and Transformative Power of Dreams deur Alice Robb (Picador, R235, e-boek).
    Verkrygbaar teen dié prys by takealot.com.
  • Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.