Die dramatiese storielyn in die kykNET-sepie Binnelanders het begin toe dr. Conrad Bester (Hykie Berg) tydens haar blindedermoperasie besef Naomi (Je-Ani Swiegelaar) het endometriose. Hy het dit met laser behandel, maar per ongeluk een van haar eierstokke beskadig en toe verwyder. Boonop moes Naomi toe hoor dit was haar enigste gesonde eierstok. Sy sal nie kan kinders kry nie.

“Ek het ’n mengsel van opgewondenheid en teleurstelling ervaar," vertel Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis, Naomi se verloofde, vertolk.

“Ek was opgewonde om 'n nuwe, interessante storielyn aan te pak wat besliste fokus sou verg, en dan seker maar 'n bietjie teleurgesteld namens Louis en Naomi dat hulle nooit sal kan kinders hê nie,” voeg hy by.

Hy het van endometriose geweet voor hulle met dié storielyn begin het, vertel Germandt, aangesien hy twee familielede het by wie dit gediagnoseer is. “Ek dink dit is 'n baie moeilike toestand om te hê, juis omdat daar soveel wanpersepsies daaroor is.” 

Ook word dit dikwels eers te laat gediagnoseer (soos in Naomi se geval) of word dit net aan ‘krampe’ toegeskryf, sê hy.

“Met die endometriose-tema het ek en Je-ani baie boodskappe gekry van mense wat hul eie stories aan ons vertel en vir ons dankie sê dat ons 'n stem gee aan mense wat hierdeur moet gaan,” vertel Germandt. “Dit bly lekker om te weet jou werk raak ander mense se lewens aan; dat hulle kan weet hulle is nie alleen wanneer hulle deur iets gaan nie.”

Wat is endometriose?

Dit is jare lank as ’n “vrouesiekte” afgemaak weens ’n gebrek aan begrip of aanvaarding van die toestand.

Maar ten spyte van groot vordering met navorsing en behandeling bly endometriose moeilik om te diagnoseer, want elke geval en die graad daarvan verskil van pasiënt tot pasiënt.

“Endometriose kom voor wanneer die weefsel wat die voering van die baarmoeder (uterus) vorm, op ander plekke in die liggaam voorkom,” sê dr. Peter Koll, ’n verloskundige en ginekoloog. “Die weefsel vorm endometriale skrape wat ernstige inwendige bloeding kan veroorsaak."

Dit kom gewoonlik op die eierstokke en ander voortplantingsorgane voor. ”Hy voeg by endometriose sal nie voor puberteit of ná menopouse voorkom nie en stel voor vroue met chroniese bekkenpyn, pynlike maandstondes, pyn tydens seks en chroniese moegheid, moet onmiddellik ’n dokter raadpleeg."

Endometriose
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Diagnose

Endometriose kan nie met ’n Papsmeer bespeur word nie, sê Peter. Net ’n laparoskopie kan hiervoor gebruik word. “Dis moeilik om te diagnoseer, want daar is geen bloedtoets wat die siekte kan aantoon nie,” sê dr. Goolam Hussain Mohamed, 'n kliniese direkteur van die Sandton-vrugbaarheidskliniek.

“As die endometriose na die eierstokke versprei het, kan dit met ’n sonarondersoek opgespoor word. Maar die goue standaard vir die diagnose van die siekte is deur laparoskopiese chirurgie.”

Behandeling

Geen kitsoplossing is beskikbaar vir die toestand nie, maar daar is verskeie behandelingskeuses, onder meer chirurgie, hormoonterapie en mondelikse medikasie.

Die newe-effekte van die medisyne waarmee endometriose behandel word, is dikwels erger as die pyn self, soos skildklierwanfunksie, oormatige gewigstoename, gemoedskommelings en verlammende hoofpyn.

Al kan dit nie genees word nie, kan endometriose sodanig behandel en bestuur word dat dit nie op 'n mens se lewensgehalte inbreuk maak nie, sê Peter.

“Maandstondes wat ál erger word en kwaai bloeding is onmiddellike waarskuwingstekens van die siekte en vroue moet hul ginekoloog raadpleeg as hulle die veranderings opmerk, veral as hulle sukkel om swanger te raak.”

Endometriose
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Goolam sê die behandeling van endometriose hang af van die individu en fase van die siekte. “As dit ’n matige geval is, kan die pasiënt behandel word met ’n mondelikse voorbehoedmiddel, wat dikwels die simptome en pyn verminder. Maar as dit ernstig is, word chirurgie vereis, en die endometriose word by die bron uitgesny."

Die probleem hiermee lê daarin dat die endometriose ná ’n paar jaar kan terugkeer en versprei, maar dit is nie altyd die geval nie.

“Voor jy behandeling ondergaan, moet jy ’n dokter raadpleeg wat in endometriose spesialiseer sodat hulle kan bepaal in watter fase die siekte is en dan ’n gepaste verloop van behandeling voorstel.” Goolam sê as jou endometriose jou lewensgehalte so beïnvloed dat jy nie by die werk of huis kan funksioneer nie, moet jy dadelik behandeling kry.

“Die uitsny van die weefsel is nie noodwendig ’n kuur nie, maar dit kan ’n mate van verligting bring.

“Ons weet nie wat endometriose veroorsaak nie, maar ons vermoed dit hou met stres en die moderne lewe verband.

"Saam met doeltreffende behandelingskeuses is dit belangrik dat pasiënte ’n gesonde leefstyl handhaaf wat die simptome van die siekte kan help verminder. Dit sluit in ’n goeie dieet en gereelde oefening.”