Is ’n skraler lyf een van jou Nuwejaarsvoornemens? Is jy veral vies vir die vet wat hardnekkig aan jou maag, borste, arms en boude of bobene klou?

Baie mense het las van dié vier verskillende soorte vet wat ons liggaam graag berg.

Vet is hoofsaaklik die gevolg van swak gewoontes en ’n gebrek aan oefening, maar genetika, stres, puberteit, hormoonvlakke en veroudering speel alles ’n rol in waar en hoe jou liggaam vet berg.

Ons het by kenners gaan hoor wat die oorsake van die verskillende soorte vet is en ook hoe jy van die oortollige gewig ontslae kan raak.

INGEWANDSVET

Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is die vet in die buikholte wat belangrike organe omring, verduidelik die Kaapse dieetkundige Aimee Robson. Wat dit doen Gesonde vlakke van ingewandsvet help beskerm die organe en speel ’n belangrike rol om die endokriene stelsel in ’n puik toestand te hou.

“Dié stelsel is ’n versameling kliere wat hormone vervaardig om onder meer metabolisme, slaap en gemoedstemming te reguleer,” sê Harold Jansen, ’n persoonlike afrigter en gimeienaar van Somerset-Wes.

“In oormaat is ingewandsvet skadelik, want die bloedvloei daarvandaan dreineer tot in die lewer,” verduidelik Nerina Wilkinson, ’n dokter van Kaapstad.

“Dit pomp immuunstelselchemikalieë uit wat sitokiene genoem word. Dié chemiese stowwe kan die risiko vir kardiovaskulêre siektes verhoog deur insulienweerstandigheid en chroniese inflammasie te bevorder,” sê Nerina.

Wat veroorsaak dit? Ingewandsvet vorm gewoonlik weens ’n gebrek aan oefening, ’n swak dieet en oormatige drankgebruik. “Dit kan ook met hoë kortisolvlakke verbind word, wat dikwels deur stres veroorsaak word,” sê Nerina.

Raak daarvan ontslae Ingewandsvet kan nie chirurgies verwyder word nie; dit moet met dieet en oefening verminder word.

“Iemand met ’n hoë vlak van ingewandsvet moet ’n gesonde dieet en oefenprogram volg om die risiko vir chroniese siektes soos hartsiektes en tipe 2-diabetes te verminder,” sê Aimee.

Die vermindering van stres kan ook die verspreiding van dié vet verbeter.

VET OM DIE BORSTE

Foto: Gallo Images/Getty Images

“Borsvet is onderhuidse vet, die soort vet wat reg onder die vel sit,” verduidelik Nerina.

“Onderhuidse vet is gesonder as metabolies aktiewe ingewandsvet wat diep in die maag sit en inflammasie en die risiko vir siektes bevorder.”

Wat veroorsaak dit? Dit word hoofsaaklik deur jou genetiese samestelling veroorsaak. Omdat ’n vrou se borste meestal uit vetweefsel bestaan, is dit vanselfsprekend dat ’n vrou met ’n groter borsmaat meer vet in haar borste sal hê as iemand met ’n kleiner maat.

Buise en lobbetjies, die ander soorte weefsel wat in borste voorkom, is klieragtig en is vir borsvoeding nodig.

“Die verhouding van vet teenoor buis- en lobbetjieweefsel in jou borste is geneties,” sê Nerina. “Jy kan nie sê wat die verhouding is sonder ’n mammogram of ander beelding nie.”

Raak daarvan ontslae As jy oorgewig is, kan die aanpassing van jou dieet jou gewig in jou borsarea help verloor. Net soos ander vet in die liggaam swel weefsel in die borste wanneer jy gewig aansit en krimp wanneer jy gewig verloor.

In uiterste gevalle kies party vroue om hul borste chirurgies te laat verklein, maar dit is ’n duur prosedure.

Mediese fondse betaal gewoonlik net ’n gedeelte as daar medies bewys kan word dat die grootte van jou borste ’n chroniese uitwerking op jou algemene gesondheid het.

VET IN DIE BOUDE EN BOBENE

boboud
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit word onderlyfvet genoem, en al hou ons dalk nie daarvan nie, is dit beter om oortollige gewig in die boude en bobene as diep in die buik te berg, sê Nerina.

Die vet word net onder die vel geberg en het ’n paar voordele, het ’n navorsingspan aan die Oxford-universiteit in Brittanje bevind – heupvet absorbeer vetsure en bevat ’n teen-inflammatoriese stof wat keer dat slagare verstop.

Wat veroorsaak dit? In hul kinderjare het seuns en meisies ongeveer dieselfde hoeveelheid vet, wat egalig versprei is. Maar tydens puberteit sit meisies teen ’n veel vinniger koers vet aan en die meeste daarvan word in die heupe, bobene en boude geberg.

Gewoonlik ontwikkel daar ná die tienerjare nie meer nuwe vetselle in die liggaam nie, sê Nerina – die bestaande selle sit bloot uit terwyl hulle die oortollige kilojoules berg wat jy inneem.

“Al is onderhuidse vet die voorkeurvet om te hê, kan te veel onderlyfvet jou in ’n ongesonde gewigskategorie plaas en jy kan dan die ge- vaar van gesondheidsprobleme loop,” maan Harold.

Raak daarvan ontslae Vir vroue is vet in dié area die moeilikste om te verloor, sê Nerina.

“’n Streng oefenprogram en gesonde eetplan is die belangrikste om oormatige vetverspreiding aan die onderlyf te beheer. Kragoefening, die soort wat jou spiere versterk, is belangrik om die hoë vlakke van estrogeen te help verminder. Estrogeen is ’n geslagshormoon wat tydens puberteit nodig is en wat met dié vetverspreiding verbind word.”

VET IN JOU BOARMS

Foto: Gallo Images/Getty Images

Vet in die driekopspiere kan op ’n oormaat insulien in die liggaam of, by mans, lae testosteroonvlakke dui, sê Nerina.

Wat veroorsaak dit?

Genetika en veroudering is grootliks te blameer. Namate ons ouer word, is ons spiere geneig om te verswak, wat tot die ongewenste pap vel onder die arms bydra.

Raak daarvan ontslae Oefening, oefening en nog oefening! “Die beste manier om armvet te verloor is deur ’n omvattende oefenprogram met gewigte,” sê Harold.

Hy beveel ’n laekilojoule-dieet aan asook gereelde saamgestelde oefeninge wat veelvoudige spiergroepe terselfdertyd betrek.

“Spiere bou deur gewigoptel kan ook testosteroonvlakke verhoog,” voeg Nerina by.

Ekstra bronne: BBC News, Livestrong.com