Ons het gaan uitvind hoe 'n mens brandwonde klassifiseer en hoe jy jou geliefdes kan help as julle so ’n krisis moet hanteer.

Klassifikasie

Deesdae word die diepte van brandwonde in die beskrywende formaat geklassifiseer, verduidelik dr. Wayne Kleintjes, president van die Suid-Afrikaanse Brandvereniging. 

  • Oppervlakkige of epidermale wonde (eerstegraadse brandwonde) is die minste ernstige soort brandwond en is tipies iets soos sonbrand. 
  • Gedeeltelike of dermale diepte (tweedegraadse brandwonde) met die subverdelings oppervlakkig, middel en diep. Dit gaan gepaard met blase wat kan varieer van pienk, wit en geel afhangend van hoe diep die wond is. 
  • Voldikte (derdegraadse brandwonde) wat dieperliggende skade in die vel veroorsaak. Die wond kan bruin en droog gebrand voorkom.
  • Diep voldikte (vierdegraadse brandwonde) is wanneer daar skade aan spier en been is.

Gebrande arm
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Behandeling

Noodbehandeling met vlamme

Stop, val, rol, koel af met koue water (lopende kraanwater 15-17 grade Celsius).

Verwyder enige klere wat brand of smeul van die mens af. As die klereaan die vel vassit, moet jy ’n gat in die klere sny. 

Verwyder juweliersware, belt en stywe klere, aangesien brandwonde maklik kan swel, en hou die wond met ’n nat doek koel tot jy by die hospitaal kom.

Onseker of jy mediese sorg moet kry?

Wayne sê wanneer die vel blase maak wat groter as 2 cm is moet jy sorg dat jy by ’n dokter uitkom. “Ook wanneer brandwonde oor gewrigte is wat dieper as die oppervlakkige epidermaal is en wanneer die kleur van die vel donker word.”

Volgens Wayne word brandwonde soos volg behandel:

Oppervlakkige epidermale wonde word met ’n bietjie troos behandel. Iets soos Burnshield wat ’n steriele jel is, kan help om die wond af te koel en verligting bied indien jy geen koue water het nie. Jy kan ibuprofeen of aspirien gee om die pyn te verlig.

Gedeeltelike dermale dieptes soos oppervlakkig en mid-dermale wonde waar blase en los vel betrokke is, kan met verbande behandel word wat 'n berskermende laag soortgelyk aan die vel is. 

Diep-dermale en voldikte wonde benodig uitsnyding en veloorplantings. Gedeeltes van die weefsel wat te veel beskadig word met uitsnyding chirurgies verwyder.

dogtertjie met brandwonde
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Wat jy nie moet doen nie:

  1. Moenie vergeet om die wond af te koel nie.
  2. Moet nooit koeimis of ander fekale stowwe aan die wond smeer nie.
  3. Bly weg van botter en ander middels wat infeksie kan veroorsaak.
  4. Moenie ys op die wond sit nie, aangesien dit meer skade aan die vel kan aanrig.
  5. Moenie blase van ’n brandwond breek nie, aangesien die vloeistof in ’n blaas die vel teen infeksie beskerm.
  6. Moenie ’n brandwond met watte bedek nie, eerder ’n gaasverband wat die lug van die wond af hou, die pyn kan verminder en die vel beskerm.
  7. Vermy dit om drukking op die wonde te plaas.

Bronne: Webmd.com, Health.com, Mayoclinic.org