Met die coronavirus wat ál vinniger versprei, word mense wêreldwyd angstiger en stroom hulle na winkels om maskers as voorsorgmaatreël te koop.

Ook bekendes soos die aktrises Gwyneth Paltrow en Kate Hudson het foto’s in die sosiale media gedeel waar hulle self maskers dra en hul bekommernis oor die virus uitspreek

Gwyneth het op Instagram 'n foto van haarself met 'n masker aan op 'n vliegtuig gedeel.

 Ook Kate Hudson en die model Bella Hadid het soortgelyke foto’s gedeel. 

View this post on Instagram

Travel. 2020. #??

A post shared by Kate Hudson (@katehudson) on


Maskers help nie regtig nie 

Kenners meen egter dié bekendes val net vir die mite dat die dra van maskers kan keer dat jy die virus opdoen. 

Hoewel 'n masker jou nie negatief sal beïnvloed nie, dien dit eintlik geen doel by 'n gesonde persoon nie, sê Eric Toner, 'n wetenskaplike by die Johns Hopkins-sentrum vir gesondheidsekuriteit in die VSA. 

“Daar is geen skade daarin om een te dra nie, maar die kans is klein dat dit gaan verhoed dat iemand die virus opdoen,” meen hy. 

Boonop kan daar binnekort 'n hewige tekort aan maskers in die winkels wees, en dan kan mense wat dit juis nodig het dit nie kry nie. 

'n Masker kan verhoed dat 'n persoon se spoeg na 'n ander oppervlak oorgedra word. Dit moet slegs gedra word indien 'n persoon sterk tekens soortgelyk aan griep toon. 

Los die masker; was eerder jou hande

Die beste manier om te verhoed dat jy die virus kry of versprei, is dieselfde manier wat jy keer dat ander kieme versprei: Was jou hande met seep en water, moenie aan jou gesig vat nie en vermy kontak met ander siek mense.

Volg die stappe van die Wêreldgesondheidsorganisasie om seker te maak jy was jou hande reg.

1. Maak jou hande nat (warm of koue water).

2. Kry genoeg seep om dit reg oor jou hande te kan vryf. Jy kan waterlose skoonmaakmiddels gebruik as jy nie onmiddellik toegang tot seep en water het nie.

3. Vryf jou handpalms teen mekaar. 

4. Vryf die agterkant van jou linkerhand met jou regterhandpalm en strengel jou vingers van die twee hande ineen terwyl jy aanhou vryf. Herhaal met die ander hand.

5. Druk jou palms teen mekaar, vleg jou vingers ineen en vryf jou vingers teen mekaar.

6. Was jou linkerduim goed en reg rondom met jou regterhand. Doen dieselfde met jou regterduim en linkerhand

7. Was die punte van jou vingers deur dit in die teenoorgestelde palm in 'n sirkel te beweeg, gaan agteruit en vorentoe. Herhaal met die ander hand.

9. Spoel jou hande met water (warm of koud) af.

10. Droog jou hande deeglik af, verkieslik met 'n weggooibare handdoek.

11. Gebruik die weggooibare handdoek om die kraan toe te draai.

Die Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming beveel aan dat jy jou hande vir minstens 20 sekondes was. 

Wat van handskoonmaakmiddels?

Seep en water is jou beste verweer teen 'n virus, maar 'n handskoonmaakmiddel kan ook help as jy nie toegang daartoe het nie. 

Pomp net 'n klein hoeveelheid in jou een handpalm en vryf jou hande vir sowat 20 sekondes saam.

Handskoonmaakmiddels maak nie jou hande heeltemal skoon nie, maar dit is beter as niks. 

Bronne: CNN; Business Insider; CBS ; www.who.int