Suiker kan dieselfde uitwerking op die brein hê as die onwettige dwelmmiddel, het ’n span van die St. Luke Mid-Amerikaanse Hart-instituut in Kansas City ontdek. Dit beteken onthouding van suiker kan dieselfde vergrype, drange en onttrekkingsimptome veroorsaak as dié waarmee dwelmverslaafdes sukkel.

Die navorsers, onder leiding van dr. James DiNicolantonio, het bestaande studies oor verslawing en suiker bestudeer en bevind verfynde suiker en opioïede veroorsaak albei dat die brein dopamien en ander goedvoelchemikalieë vrystel. 

Mettertyd het jy ál meer van die produk nodig om dieselfde bevrediging daaruit te put, en dit lei tot verslawing. 

“Suikergebruik het ’n soortgelyke uitwerking as kokaïengebruik. Dit verander jou bui, vermoedelik vanweë die vermoë om beloning en plesier te bewerkstellig,” het James gesê oor die resultate, wat in die Britse joernaal van sportgeneeskunde gepubliseer is.

“Toe kos skaars was, sou dit jou kans op oorlewing verhoog om kos met baie suiker in te eet. Deesdae is suiker so verfyn dat dit byna ’n soort chemiese stof is.”

James het ook gesê mense moet nog aanpas by die intense “beloning” wat met verfynde suikers gepaardgaan, maar het toegegee dis moeilik om dit te vermy omdat dit so maklik verkrygbaar is.

“Hierdie onnatuurlike beloning wat spruit uit suikergebruik, wat dwelmmisbruik oortref, oorheers ons selfbeheermeganismes en dit maak ons vatbaar vir suikerverslawing,” het hy gesê.

Die resultate spruit uit toetse op rotte, maar die navorsers sê dit geld waarskynlik vir mense ook. Hulle het ook verduidelik die gebrek aan dopamien wanneer die suiker en kokaïen uitgewerk is, kan lei tot depressie of gedragsprobleme soos aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring.