Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Baie middeljarige mans aanvaar dit maar gelate as hul lot: die boepie, die gesukkel om te slaap, die gebrek aan woema om met hul kinders of kleinkinders te speel.

Tussen die lakens gebeur daar ook ál minder, en kyk hulle in die spieël, herken hulle skaars die arme ou met die pap spiere en hangskouers.

Dis mos maar alles deel van ‘‘oud word’’, of hoe?

Minder testosteroon in jou lyf kan meestal die skuld kry vir hierdie simptome, wat verklap dat die jare genadeloos aanstap. Maar sommige mans ervaar dit erger as ander – en soms ruk die sogenaamde “manlike menopouse” heeltemal handuit. Daar is ’n naam vir hierdie toestand: die andropouse, oftewel ouderdomsverwante testosteroontekortsindroom (TTS).

Vir middeljarige mans wie se dalende testosteroonvlak amok maak, kan hormoonterapie verligting bring. Dit behels inspuitings elke drie maande wat dié manlike hormoon aanvul.

Tog waarsku kenners dat dit geen kitsoplossing bied vir mans wat ander probleme in die slaapkamer ondervind of te min energie het nie.

HOE WEET EK DIS DIE ANDROPOUSE?

Seuns begin in hul tienerjare die hormoon testosteroon afskei, maar die produksie daarvan begin ná hul 30ste verjaardag afneem, sê prof. Riana Bornman van die Skool vir Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid aan die Universiteit van Pretoria.

Van hul 40ste jaar af verloor mans 1 tot 2% testosteroon per jaar. Wanneer die testosteroonvlak so laag daal dat ’n rits simptome (lees die kassie heel regs op die oorkantste bladsy) hul lewe begin versuur, tree die manlike “menopouse” in.

Teen hul middel 50’s sal sowat 30% van mans aan TTS ly, sê prof. Mohamed Haffejee, hoof van urologie aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Teen 70 kan ’n man se testosteroonvlak al met tot 50% afgeneem het. Al daal alle mans se testosteroonvlak, sal net party hormoonterapie nodig hê, sê Mohamed.

Die behandeling hang af van hoe laag jou testosteroonvlak daal. Deesdae word ’n testosteroonvlak van onder 12 nanomol (nmol) per liter as abnormaal beskou, maar eers wanneer dit tot 8 nmol/L daal, word TTS gediagnoseer en is hormoonbehandeling aangewese, sê Riana.

Van die faktore wat ’n man se risiko verhoog om TTS te kry, sluit in trauma aan die testes en pampoentjies tydens of ná puberteit.

Die simptome

Van die simptome wat algemeen met min testosteroon en moontlik die andropouse verbind word, sluit in:

  • ’n afname in seksuele prestasie en begeerte;
  • ’n afname van jou algemene gevoel van welstand;
  • gewrigspyn, seer spiere en minder spierkrag;
  • oormatige sweet;
  • swakker konsentrasie;
  • slaapprobleme;
  • prikkelbaarheid en angstigheid;
  • liggaamlike uitputting; en
  • ’n afname in baardgroei

WANNEER MOET EK DOKTER TOE GAAN?

’n Toename in maagomtrek, insulienweerstandigheid en osteoporose word alles met ’n lae testosteroonvlak verbind, sê dr. Hilton Kaplan, ’n endokrinoloog van Kaapstad.

Van die simptome van TTS gaan met normale veroudering gepaard of kan aan ander toestande soos skildklierprobleme en drankmisbruik toegeskryf word. Dit kan ook die newe-uitwerking van medikasie soos hoëbloeddrukmiddels wees.

Erektiele disfunksie kan byvoorbeeld ’n teken van bloedvatprobleme wees, waarsku Mohamed. As veranderings aan die bloedvatwande die bloedvate laat vernou – soos cholesterol wat daar aanpak – kan te min bloed na die penis vloei om ’n ereksie moontlik te maak.

Dan moet die gevaarligte begin flikker oor ’n moontlike hartaanval en ’n elektrokardiogram (EKG) moet gedoen word.

Teken simptome aan en ook wanneer dit ondervind word, en bespreek dit met jou huisdokter. As ’n bloedtoets bevestig dat jou testosteroonvlak laag is, kan die dokter testosterooninspuitings aanbeveel of jou vir behandeling na ’n endokrinoloog of uroloog verwys.

MAAR IS HORMOONTERAPIE VEILIG?

Deur die jare het testosterooninspuitings ’n slegte reputasie gekry. Vroeër, toe dit nog weekliks toegedien is, het dit skerp testosteroonstygings en -dalings veroorsaak.

‘‘Weens hierdie wipplankryery het mans die een dag fikser en gelukkiger as in jare gevoel, en dan was hulle by tye weer baie bedruk,’’ sê Mohamed.

Die weeklikse inspuiting het ook ander newe-effekte gehad soos prikkelbaarheid, angstigheid en ook moontlike probleme met die lewer, cholesterol en bloedtelling. Gelukkig het die langwerkende inspuitings wat deesdae elke drie maande toegedien word hierdie probleme uitgeskakel, sê hy.

As jy eers met die aanvullings begin het, moet jy dit die res van jou lewe volhou, tensy jy ’n siekte soos prostaatkanker opdoen. Dis omdat testosteroonaanvullings die kankergroei kan aanwakker, verduidelik Riana.

Voor die behandeling begin, moet jou dokter dus seker maak dat daar geen sweem van ontwikkelende prostaatkanker is nie. Opvolgbehandeling sluit ook bloedtoetse in vir die prostaatspesifieke antigeen (PSA), ’n proteïen waarvan jou liggaam meer vervaardig as jy prostaatkanker het.

Die driemaandelikse inspuitings kos sowat R2 300 elk. Dit kan weke of selfs maande duur voor jy ’n verbetering sien, maar dit bly die moeite werd om daarin te belê, is Riana se mening.

Die langwerkende inspuitings het baie probleme uitgeskakel

HELP LEEFSTYLAANPASSINGS?

’n Gesonde dieet en gereelde oefening help dat jy jou spiermassa en fisieke krag behou. Dit gee ook jou gemoed en slaappatroon ’n hupstoot, sê Mohamed. Dis belangrik om op jou gewig te let, maan Riana. Oorgewig of vetsugtige mans se testosteroonvlak daal aansienlik skerper, want vetweefsel bevat ’n ensiem wat testosteroon afbreek.

Hoe om jou man te help

Mans met testosteroontekortsin- droom se selfvertroue en selfbeeld kan so daaronder ly dat hulle alle seksuele kontak begin vermy, sê die Pretoriase andropouse-spesialis prof. Riana Bornman.

Dis daarom dikwels die lewensmaat van so ’n man wat hom aanpor om dokter toe te gaan. Maar jy moet uiters sensitief te werk gaan, maan Riana. “Moenie sê: ‘Jy word oud’ of ‘Jy’s nie meer wat jy was nie.’ ”

Dr. Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog en verhoudingskenner van Pretoria, stel voor dat jy liewer iets sê soos: “Ek het iewers gelees dit kan die simptome van ’n lae testosteroonvlak wees. Jy het nie meer soveel energie om dinge te doen nie. Kom ons laat na jou testoste- roonvlak kyk.”

Kry dit nou

Ons splinternuwe tydskrif Huisgenoot Vuurwarm is propvol kennersraad en inspirerende stories oor die menopouse en al die uitdagings wat saam met dié lewensfase kom. Dit bespreek al die behandelings wat jy kan oorweeg en die natuurlike roetes wat jy kan volg. En daar’s raad vir al die lastige simptome en onverwagte buie!

Huisgenoot Vuurwarm is nou te koop.
Huisgenoot Vuurwarm is nou te koop.

Dit bevat ’n sewedagmaaltydplan met heerlike resepte en kossoorte wat goed is vir jou gesondheid in hierdie tyd, asook ’n oefenprogram vir vroue in hul middeljare – dit alles teen net R60.

Kry dit nou op winkelrakke of bestel jou eksemplaar so: Bel 021-406-4962, e-pos koop@huisgenoot.com of gaan na huisgenootwinkel.com en bestel aanlyn.

  • Koop die tydskrif as jy jou in hierdie lewensfase bevind – dit bevat als wat jy moet weet (en ook als wat jy heimlik wil weet).
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe