As jy ongemaklik voel elke keer wanneer jy alkohol drink, kan dit in ’n allergiese reaksie wees en jou liggaam kan in werklikheid nie dit wat jy by jou keel afgooi, verwerk nie.

Hier volg ’n lysie van sleutelsimptome, saamgestel deur dr. Sonia Batra van die Amerikaanse televisieprogram, The Doctor, wat aandui dat jy allergies is vir drank – ongeag of jy nou uitvind dat jy die allergie oorgeërf het en of dit maar mettertyd ontwikkel het.

Histamiene is chemikalieë wie se taak dit is om enigiets wat die liggaam ontwrig – in hierdie geval allergene – te beveg. Hoewel die histamiene die verdedigingsproses aan die gang sit, is die manier waarop hulle jou probeer beskerm en die onaangenaamhede uitspoel, glad nie plesierig nie.

1 Sukkel om asem te haal

Die verhoging in histamiene kan tot ’n verstopte neus lei, en as jy reeds aan asma ly, kan dinge met die in- en uitasem selfs moeiliker raak.

"Histamien-onverdraagsaamheid kan lei tot ontsteking in die sagte weefsels, soos die longe en neusgange, en dit kan swel en tot ’n verstopte neus en drukking in die sinusse lei,” het dr. Batra aan PopSugar gesê. 

“Verkoue-agtige simptome, soos jeukende oë, ’n keel wat krap en nies, is ook newe-effekte van histamien-onverdraagsaamheid.

“Die verhoogde ontsteking van die lugweë wat deur hierdie histamiene veroorsaak word, kan daartoe lei dat asma vererger word.”

2 Vlammende, warm vel

Alkohol lei dikwels tot ’n gloeiende vel, aangesien die bloedvate oopgaan en dit kan ook die liggaamshitte verhoog, maar indien jy later werklik warm kry en begin sweet, kan dit meer as net ’n newe-effek van dronkenskap beteken.

Dr. Batra waarsku indien die liggaam nie die alkohol kan neutraliseer nie,  kan die aartjies in jou vel oorboord gaan met die vrystelling van histamien. Nog meer kommerwekkend is dat jou bloedvate met hierdie rooiheid vernou so jou bloeddruk verhoog.

3 Siekte en diarree

Erge maagpyn en mislikheid nadat jy drank afgesluk het, moenie om eenuur in die oggend as babbelaas of die gevolg van kitskos afgemaak word nie.

"Alkohol kan maagsuur verhoog en dit beteken die spysverteringstelsel kan ontwrig word.

"Diarree kom voor wanneer drank die hoeveelheid water in jou dikderm beïnvloed. Indien daar baie vloeistof is, sal die stoelgang vinniger wees. Een manier om diarree in toom te hou, is om nie koffie saam met alkohol in te neem nie en om eenvoudige, maklik verteerbare kos te eet – beslis nie die vetterige braaigeregte waarna jy dalk smag nie.”

Indien jy hierdie simptome ondervind, moet jy jou liewer deur ’n dokter laat toets. Nog belangriker, los die drank.